|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDIE AFRIKAANSE KERKE EN DIE OORGAWE VAN 1994
(Slotaflewering)
- PROF DR ADRIAAN PONT - EM TEOLOGIESE FAKUTEIT NHK PRETORIA -
John Vorster
Die draaipunt in die hele stryd het, soos reeds verduidelik, gekom na die moord op dr Verwoerd. Toe het John Vorster as Eerste Minister oorgeneem en het hy begin om van die beleid van afsonderlike ontwikkeling weg te beweeg. Toe ontstaan geleidelik die situasie, van die sewentiger jare af, dat die een wet na die ander afgeskaf word sodat sosiale integrasie al meer en meer montlik geword het. Dit het ongetwyfeld saamgehang met die feit dat Vorster self gedrewe was om sy voorganger se beleid af te skaf. Hy het daardie beleid beskrywe as "... the greatest evil on earth, worse even than communism'" Daarom is die sewentiger jare die jare van verwardheid onder die Afrikaner, toenemende stryd oor die koers wat gegaan moet word totdat dit uiteindelik blyk dat Vorster en diegene wat hom aan bewind geplaas het, ten opsigte van eiesoortige ontwikkeling 'n linksomkeer gemaak het.
Die liggaam wat aan die kerke en die Cape Liberal Nats die argumente voorsien het, was onder andere die SACC. Hulle het weer vir hulle inspirasie geput uit die denke en opvatting s van leiersfigure in die Wêreldraad van Kerke. Een van hulle, prof Hendrikus Berkhof, het met 'n geleentheid betoog, toe hy oor verandering gepraat het: "Where general structures are at stake, however, we need general viewpoints to deal with them adequately and effectively. In that case we need an ideology as a set of general viewpoints, aims and rules, to bring about effectively the necessary change. Christian faith has never developed anything that looks like an ideology of change, Marxism is the only relevant movement which has such an ideology to offer." En daarmee is die skakel vir die SACC gelê met die SAKP en word die SACC die liggaam wat die marxisme as 't ware teologies verwerk en vir die kerke en linkse kerkmanne aanvaarbaar maak. Dit gebeur dan wanneer die SACC in 1968 'n pamflet publiseer: "A Message to the people of South Africa". Hierin word alle Christene opgeroep om 'n keuse te maak tussen, wat hulle noem, "apartheid or the Chris-tian path of brotherhood". Die opstellers van hierdie pamflet was die teologiese kommissie van die CISA.
Op grond van hierdie "Message" het die SACC 'n studieliggaam met ses studiekommissies benoem om die ver-anderinge wat nodig was om Suid-Afrika van 'n land met 'n Christelike lewensorde te verander na 'n sosialistiese land. Die liggaam was die "Study Project on Christianiity in apartheid society". Nadat die studie afgehandel is, is die Sprocas 2 projek aan die gang gesit wat opgesom, die die doel gehad het om: "... to support Black initiatives ...". Met groot geldskenkings uit die buiteland is organiseerders opgelei en betaal om die boodskap te gaan versprei en deur middel van "sensitivity training" by die Wilgespruit Fellowship Centre is groepe gebreinspoel en gekondisioneer om Sprocas 2 se doelwitte te bevorder. Opvallend was die groot getal Broederbonders en selfs NP-lede wat aan daardie opleiding deelgehad het.
Merkwaardig genoeg is in 1977 sowel die Sprocas 1 as 2 programme, en nog 'n paar organisasies uit die linkse establishment verban. Maar die program van Sprocas 2 is feitlik op die letter uitgevoer deur die Cape Liberal Nats wat teen daardie tyd 'n greep op die NP, die Broederbond en die NG Kerk gehad het. Dit bly steeds merkwaardig dat 'n toekomsbeeld wat deur die Afrikaner-vyandige organisasie gebou is, die basis van die NP-beleid van die tagtiger jare kon geword het. En tog is dit die geval. En dit bewys weer watter diep haat en wrok die Cape Liberal Nats teen die normale, republikeinse Afrikaner, wat Suid-Afrika 'n tuiste vir sy kinders wou gemaak het, gekoester het.
Sover vasgestel kon word, het geen vooraanstaande Afrikaner of Afrikaanstalige teoloog of kerkman aan die opstel van Sprocasprogramme deelgeneem nie. Maar, soos die dubbelslagtige beleid van Vorster gevorder het en al meer aanvaarding gevind het en omdat die propaganda van die NP en die Naspersmedia die gevaar aan die regterkant van die politieke spektrum gesoek het, het al meer predikante ook daardie propaganda aanvaar. So bang was hulle vir die "gevaar van regs" dat hulle met 'n sug van verligting die kommuniste omhels het.
Kerk en samelewing
In die NG Kerk kan die geleidelike verskuiwing na links duidelik gesien word in die wysiging van die studiestuk, Ras, volk en nasie, uit die laat sewentiger jare ná die omstrede stuk Kerk en samelewing wat in 1986 aanvaar is toe prof Johan Heyns die moderator van die Algemene Sinode was. In 1990 het dié stuk in sy finale vorm verskyn en 'n streep getrek deur alles wat die NG Kerk probeer sê en in die vorige vyftig tot sestig jaar bereik het. Kerk en samelewing lyk in die 1990's of dit 'n produk van die National Scout Kerk wat na 1902 in Transvaal ontstaan het, kon gewees het.
In ieder geval, daardie beleidstuk het nie net tot gevolg gehad dat die Afrikaanse Protestantse Kerk tot stand gekom het nie, maar ook dat die politici en die ander leiers gesterk is in hul strewe om die Christelik-nasionale leefruimte van die Afrikaner te vervang deur 'n swart oorheerste, kommunistiese meerderheidsregering. Daardie strewe is in 1986 ook openlik in 'n studiestuk deur die Broederbond bepleit.
In hierdie proses is voortdurend van die taktiek gebruik gemaak om te hamer op 'n sogenaamde "gevaar van regs" sodat alle aandag daarop gevestig was. Dit het aan die politieke linkses, die kommunistiese meelopers en die kommuniste die opening gegee om in die kerklike vergaderings in te dring en geleidelik die kerk na links te swaai. Dit het natuurlik nie net in die NG Kerk gebeur nie, maar ook in die ander twee Afrikaanse kerke, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke. Dit was in hierdie dae veral waar geen groter gramskap van die kerklike leierskorps ontlok kon word as om vas te staan op die Bybels-reformatoriese teologie en die oorgelewerde tradisie van die vadere nie. Toe is die Bybels-reformatoriese teologie uitgeskel as "ouderwetse teologie" en enigsins na wat gelyk het na 'n rekening hou met die tradisie van die Afrikaner is versimpel deur dit "burgerlike teologie" te noem. En die opvallende was dat, soos vanaf Cottesloe, daardie teoloë wat die grootste afbrekers van die Afrikaner se teologie en godsdiens was, in die media geloof is as die grootste geleerdes en diepsinnigste denkers wat daar nog ooit onder ons opgestaan het. Hulle is ook oorlaai met pryse. Allerlei eerbewyse is aan hulle gegee sodat mens soms geneig waas om te dink dat manne soos genl Piet de Wet en genl Andries Cronjé maar swak beloon is vir hulle "bydrae" tot ons volksgeskiedenis.
Gesamentlike aanbidding
Dit was die manne wat die Afrikaanse predikante probeer leer het om die inhoud van hulle prediking te wysig.
Eers is die saak van gesamentlike aanbidding die speerpunt van die aanval gemaak. Almal moes en sou daaarby inval. Dit was nogal interessant om in daardie dae te sien hoe in die NH Kerk, waar die Algemene Kerkvergadering reëlmatig artikel 3 van die destydse Kerkwet, wat die skeidingsbeginsel verwoord het, gehandhaaf het, terselfdertyd gesamentlike aanbidding wou populariseer.
Dit was natuurlik 'n vanselfsprekende aanvalspunt - gesamentlike aanbidding beteken saam kerk toe gaan, en dit lei tot saam Nagmaal gebruik, dit lei tot gesamentlike lidmaatskap wat lei tot sosiale aanvaarding wat die basis moet wees van swart meerderheidsregering. Dit wil sê, as daardie lang pad gevolg moet word.
Die merkwaardige is dat al die predikante en geleerde teoloë wat so opgewonde was oor gesamentlike aanbid-ding; wat gewone gelowiges verniel en verskree het omdat hulle dit nie wou gehad het nie; al daardie predikante wat so gesmag het na belydenisse oor apartheid en ná die kommunistiese magsoorname nou soos die graf swyg oor: plaasmoorde; die skreiende onreg van "regstellende aksie"; die onreg van herverdeling van grond; die onreg van korrupsie in owerheidkringe; die onreg van diefstal, moord, aanrandings wat skynbaar deur owerheidsinstansies maar verdra word, en dergelike meer. Diegene met die skreinende gewetens wat in die tagtiger jare, toe apartheid nie eers meer bestaan het nie, so luidkeels kon protesteer teen alles wat hulle as 'n "onreg" beskou het, swyg nou soos die graf, nou is hulle tevrede want die gehate Afrikaner word vermoor, beroof, verniel, verdruk en verpes deur die kommuniste. Nou kom mens agter dat die hele aanslag op die kerk van die vyftiger jare af gedra, aangevuur is deur 'n verterende haat.
En so het die leiersfigure in die Afrikaanse kerke vanaf die sewentiger jare 'n enorme bydrae gelewer om 'n klimaat te skep waardeur die magsoorname deur 'n swart kommunistiese meerderheidsregering moontlik was. Deur wat hulle gedoen het, en nagelaat het om te doen, het hulle 'n enorme bydrae gelewer om die godlose kommunistiese bewind in ons land te vestig en om die kerkmense te vervreem van die Bybel en sy boodskap.
Slotopmerkings
As ten slotte die vraag weer 'n keer gestel word of die Afrikaanse kerke 'n beduidende rol gespeel het tot die voorbereiding van die groot oorgawe van 1994, dan is die antwoord nie enkelvoudig nie. Dit word gesê omdat die kerk nie gevorm word of bestaan uit sy ampsdraers of die leierskorps alleen nie, maar deur al die gelowiges in die kerk. En nou moet seker onthou word dat daar ook baie predikante en lidmate was wat nie met die leiding van sinodes, sinodale leiersfigure en professore saamgegaan het nie. Maar hulle stemme is nooit gehoor nie, want hulle is uitgemaak as "verkramp", "onnosel", "ver-regs" en al die ander standaard vloekwoorde wat die Engelse pers en die media van Suid-Afrika van die 1830's gebruik om Afrikaners te beskrywe wat hulle verset teen die ideale en die koers van die Geldmagnate en hulle trawante. Daarom lees mens in die koerante van die tagtiger jare net van die linkse bevorderaars van die kommunistiese strewe. So het daardie manne die Afrikaanse kerke gelei tot op een van die vernederendste oomblikke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, toe die Algemene Sinode van die NG Kerk, die pas aangestelde kommunistiese president van die ANC, toegesing het: "Laat Heer u seën op hom daal". Nadat die Christelik-nasionale lewensorde wat Jan van Riebeeck hier gevestig het, en die Afrikaner se volk- en staatwees van 1652 af bepaal het, geskrap is; nadat die Afrikanervolk met bedrog uitgelewer is aan swart, kommunistiese meerderheidsregering omdat die Cape Liberal Nats en die geldmagnate geoordeel het dat hulle op daardie manier meer geld sou maak; nadat 'n streep getrek is deur die Afrikaner se strewe vanaf die 1970's, dan sing die Algemene Sinode (NGK) uitbundig-dankbaar, kruipend voor die kommuniste-leier en met 'n siniese minagting vir hulle eie mense: "Laat Heer u seën op hom daal!"
In 1902, ná die Vrede van Vereeniging, het pres Steyn God gedank omdat daar nog 'n kerk is. 'n Eeu later is ons verplig om God te vra om ons te bewaar en te beskerm teen die kommuniste wat ons kerke so geïnfiltreer het dat hulle dienswillige dienare van die kommunistiese bewind is. Ons soek verniet na die kerke wat leiding gee as die kommuniste ons kinders met 'n kommunistiese leerplanstelsel van hulle geloof en erfgoed wil vervreem; ons vra verniet kerklike leiding wanneer ons volk se lewe verwoes word. Dan hoor ons dat die Bybel maar 'n opsomming van ongeloofwaardige storietjies is en dat ons heil lê in 'n filosofie van "Laat maar loop en leef soos jy wil!"
In 1902 kon ons God dank vir die kerk,. 'n Honderd jaar later moet ons God bid om ons te verlos van predikante, professore, geleerdes en gesiene kerkleiers wat die kerk wil gebruik om ons volk na die verderf te lei.
Vandag kan ons tog God dank dat Hy ons, in ons kerke, nog reggeaarde ampsdraers en gelowige lidmate gegee het saam met wie ons kan standhou teen die voortgaande aanvalle op die kerk, sy geloof, sy Bybel en sy gewoontes.
In 'n sekere sin is dit merkwaardig dat na die storm van die kommunistiese oorname, gedra deur verraad en bedrog in ons eie kring, daar nog gelowige mense oor is. Dit is seker daaraan te danke dat ons geloof op die Drie-enige God gerig is en nie op mense nie, omdat ons ons hulp by God soek en nie by die Amerikaanse dollars nie.