|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
STUDIE SE ROL EN STATUS VAN DIE VROU IN DIE KERK EN SAMELEWING
Onder die bogenoemde opskrif (subject) is op E-pos aan verskeie kerkrade van Gereformeerde kerke in die ressort van die vier klassisse in Pretoria, deur mevrou M (Phia) van Helden, van-uit die pastorie van Gereformeerde Kerk Centurion (Verwoerdburg), die volgende brief gestuur:
Geagte kerkraadGraag lig ek u kortliks in aangaande 'n studie wat in die vier klassisse van Pretoria en omtrekke gedoen gaan word. Dit is deel van 'n uitgebreide studie wat DV September 2002 ten einde loop.
Instansie: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys
Koördineerder: Prof Fika van Rensburg
Samewerkers: Uit alle sfere van die samelewing is persone gevra om sekere onderwerpe na te vors en in 'n reeks van 4 werkswinkels oor 2 jaar die bevindinge bekend te stel. Die samewerkers sluit onder andere in professionele persone, akademici (alle velde), predikante van gereformeerde kerkverbande (wêreldwyd), lidmate uit die gereformeerde kerke, ensovoorts.
My betrokkenheid as vrouelidmaat van 'n gereformeerde gemeente.
Studieveld: Die betrokkenheid van die gereformeerde vrouelidmaat tydens die erediens.
Werksmetode: 1) In samewerking met prof Ben de Klerk word 'n vraelys opgestel wat ongeveer 15 minute neem om in te vul. 2) Sekere gemeentes word deur die navorser gekontak om ten minste 2 dames se name uit die volgende ouderdomsgroepe te bekom: 20-30 / 30-40 / 40-50 /50-60.
3) Die kerkkantoor as kontakpunt word gekontak omdat voorkeure rakende die keuse van name geminimaliseer moet word ter wille van wetenskaplike juistheid.
Bloot twee name uit elke ouderdomsgroep word verlang. 4) Slegs een van die twee name uit elke ouderdomsgroep word eers deur die navorser self gekontak en genader om te hoor of sy bereid is om aan die studie deel te hê. Indien nie, word die tweede persoon gekontak. Indien albei onwillig is, word die kerkkantoor weer gekontak vir 'n naam. 5) Die navorser sal teenwoordig wees terwyl die dame die lys invul en dan 'n kort gesprek voer om die inligting op kasset op te neem. Dit is ook ter wille van wetenskaplike juistheid. Dit behoort nie langer as 15 minute te neem nie. 6) Die inligting word dan verwerk en in die vorm van 'n referaat by die September werkswinkel in Potchefstroom deur die navorser aangebied. Indien die inligting genoegsaam van waarde geag word, sal dit saam met die ander referate gepubliseer word.
Baie dankie vir u belangstelling ...
Hierdie "studie" hang na alle waarskynlikheid saam met die omstrede werkswinkels wat laasjaar, 2 tot 4 Mei en 3 tot 4 September, deur die fakulteit Teologie van die PU vir CHO gehou is. Dit het opspraak verwek omdat dié werkswinkels gehou is om "wetenskaplike" navorsing te doen oor die posisie van die vrou in die kerk, wat hoofsaaklik daaroor gehandel het of die vrou wel of nie in kerklike ampte kan dien nie. Hieroor het die jongste sinode van die Gereformeerde Kerke besluit om deputate aan te stel wat vorige sinodebesluite sou nagaan en om op die Nasionale Sinode 2003 te rapporteer oor hulle bevindings. Tydens dié sinode sal die saak weer behandel en daaroor besluit word. Die meriete van behandeling is wat die Woord van die Here hieroor leer en die suiwere eksegese en toepassing daarvan. Dis soos die kerkorde dit beskryf dat kerklike sake op kerklike wyse bespreek moet word.
Hierdie werkswinkels asook die "studie" wat in die skrywe van mev Van Helden bekendgestel word met die versoek om daaraan mee te werk behandel 'n kerklike saak wat tans in dispuut is. Maar dit geskied nie op kerklike wyse nie. Dit word aangebied as wetenskaplike navorsing. Dit behels 'n soort meningspeiling wat die menslike rede raadpleeg en laat antwoord hoe die orde in die kerk behoort te funksioneer.
Soos dit laasjaar gedien het, is daar baie beswaar gemaak teen die hou van die werkswinkels oor hierdie saak. Dit het selfs die gramskap van die kuratore van die Teologiese Skool te Potchefstroom opgewek.
Dis duidelik sigbaar dat dit 'n stelselmatige poging betref om die besluitneming van die eerskomende sinode met betrekking tot die saak van die vrou in die kerklike ampte vooruit te loop en te beïnvloed volgens die liberale standpunt dat die kerklike ampsbediening (diaken, ouderling en predikant) ook vir die vrou aanvaarbaar gemaak moet word.
Om dit op dié wyse te hanteer bevorder die verdeeldheid in die kerk, dis 'n bedreiging vir die gemeenskap van die heiliges en die eenheid van die geloof. Dit is ontoelaatbaar om 'n prinsipiële saak waaroor die Woord van die Here wysheid en leiding verskaf, by wyse van rasionele beredenerings en beantwoording van voorbereide vraelyste en meningpeilings, te behandel om die kerklike besluitneming onder 'n moontlike druk van die "meerderheid" in die kerkverband te stel.
Daar geld slegs een gesaghebbende seggenskap in die kerk. Dit is die Here, die enige Hoof en Koning van die kerk, wat dit deur middel van sy Woord en Gees uitoefen.
In die huis van die Here behoort menslike maatstawwe ondergeskik te staan aan die Goddelike. Die Nederlandse Geloofsbelydenis verwys in artikel 12 daarna dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. Dié artikel vermeld vervolgens dat ons "daarom alle menslike versinsels en alle wette verwerp wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons ervaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou."
Dit kan ook bevraagteken word waarom dit juis 'n vroulike lidmaat van die kerk betref om hierdie versoek aan kerkrade te rig. Deur wie of watter instansie is sy gevra en aangestel om dit te doen? Waarom is dit toegestuur aan sekere kerkrade en nie aan almal nie? Kan die brief wat onder handtekening van mev Phia van Helden versend is as ontvanklik ter tafel geneem word? Kan kerkrade wat belas is met die toesig op hul gemeentes toelaat dat bedenklike metodes gebruik word om die bespreking van sake op die komende sinode te beïnvloed?
Hierdie saak het nog ander konsekwensies. Dit bewerkstellig 'n gees van onversoenbaarheid. Lidmate aanvaar nie meer die gesag van die amptelike diens van die kerk, soos uitgeoefen deur die kerklike vergaderings nie. Die kerk moet aan die wêreld gelykvormig word en "demokraties", by wyse van meerderheidstem regeer word. Predikante, ouderlinge en diakens mag nie slegs diensknegte van die Here wees nie, maar ook knegte van die lidmate aan wie se (meerderheids) wense hulle moet voldoen. So word gepoog om die kerk aan te pas aan die rasionele gevoelens van die mense.