|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
OPVOEDING EN ONDERWYSONDERWYS EN DIE STRYD OM DIE GEWETENSKLOUSULE
- DS CONNIE BESTER - CVHO BLOEMFONTEIN -
VOORDRAG GELEWER BY DIE AFRIKANER KULTUURBOND (AKB) SE VOLKSKONGRES OOR ONDERWYS, 27 APRIL 2002, TE PRETORIA
Die gewraakte klousule, vervat in klousule 25 van Wet 12 van 1916, lui soos volg:
"Niemand mag op enigerlei wijze aangaande zijn godsdienstige gezind-heid getoets worden als voorwaarde om gegradueerde van de Univerziteit, of professor, lector, docent of student van de Univerziteit te worden of blijven of om daarin een ambt, emolument of voorrecht te bekleden of te genieten, zullende tevens aan niemand de voorkeur gegeven of een voordeel onthouden worden op grond van zijn godsdienstige gezindheid."
Dit is baie duidelik dat hierdie voorskrif nie maar uit die bloute en ewe onskuldig op ons neergedaal het nie - daarvoor is daar al te duidelike feite uit die geskiedenis voor hande. Kyk weer n keer na die volgende baie beknopte oorsig wat vir die doel van hierdie artikel nodig is:
1. Die noue verband tussen die gewetensklousule en die geskiedenis van die ontstaan en ontwikkeling van die universiteitswese in Suid-Afrika - daar was die skenking deur Julius Wernher van R500, 000 ter aanvulling van die broers Beit (Alfred en Otto) se vroeëre skenking van ongeveer dieselfde waarde. Deur die persoonlike ingryping van genl J C Smuts, is Alfred Beit se oorspronklike wens van n Universiteit vir Pretoria, omgesit ten bate van die Universiteit van Kaapstad. Wernher se skenking het die uitdruklike voorwaarde bevat dat: "The only condition which I would also like to lay stress upon is equal rights to all those who are to benefit by this University Education." Hierdie voorwaarde het in die praktyk uitgeloop op drie baie ingrypende implikasies, te wete:
(i) Taal - op die Minister van Onderwys se voorlegging van die konsepwet met Hollands en Engels (die amptelike tale) aan die Here Beit en Wernher, het hulle beswaar geopper dat die Hollands probleme sou veroorsaak vir die Engelssprekende studente. Om hulle beswaar te eerbiedig, is toe aan Stellenbosch ook Universiteitstatus verleen met Afrikaans as taalmedium, terwyl by Kaapstad die taalkwessie hanteer is met die weglating van die tweetaligheidsklousule.
(ii) Die vriende in Engeland het aangedring op gelyke regte vir alle rasse - wat ons vandag sou beskryf as n multi-kulturele opset. Genl. Smuts het egter per brief aan hulle laat weet dat hy n eie universiteit vir die Bantoe in die vooruitsig stel.
(iii) Geen geloofstoets teenoor dosente word toegelaat nie.
Die regering van die dag het sigself dus baie stewig laat bind deur die teïstiese onderwysmodel wat in die vorige eeu reeds in Brittanje die humanisties-liberale fondament gevorm het. Dit sou nie die enigste keer in die geskiedenis wees, dat geldmagte die geestelike karakter van die Onderwys ontkersten het nie. Tot vandag toe, baie pogings ten spyt, kon hierdie afval van die Gereformeerde beginsel van die Drie-enige God se soewereiniteit oor alle lewensterreine, nog in geen Parlement in Suid-Afrika reggestel word nie. So het die Christelik Nasionale Onderwyswet 39 van 1967 geboeid die wêreld ingekom en is dit, steeds geboeid, weer die wêreld uit met ons nuwe onbybelse heidense bestel!
Die Calvinistiese beginsel van soewereiniteit in eie kring bestaan juis net onder die Koningskap van God in elke lewenskring en op elke gebied. Elke aardse gesaghebbende, op watter gebied ook al, móét Sy opperheerskappy erken en gehoorsaam. Waar n lektor, dosent, hoogleraar se houding teenoor en verhouding tot God dus nie gepeil mag word nie, beteken dit dat daar ernstig gediskrimineer word teen die Christelike student - die blootstelling aan nie-Christelike indoktrinasie het reeds menige student se afval uit die geloof van die Skrif bewerkstellig.
2. Vyf besware teen die Gewetensklousule
(i) Dit rus op n onbybelse Godsbeskouing -
Die lewensbeskouing wat eie is aan die Roomse skeiding tussen "natuur" en "genade" en dat jy God dus dien in die kerk en in godsdienstige aangeleenthede, maar nie in sekulêre dinge nie, vind sy weerklank in die gewetensklousule. Hier word nie n onderskeid getref tussen "godsdiens" en "religie" nie. Die religie dui aan die in-Christus-herbore-mens oor wie se hele lewe, met al sy uitinge, die Drie-enige God heers as koning ... of in die afgodsdienaar se geval dan, daardie afgod aan wie hy sy lewe diensbaar stel.
Die gewetensklousule beperk dus per implikasie die gesagsveld van God tot die kerk ... en miskien nog ook die persoonlike lewe. Die Skrif leer daarteenoor dat die aarde aan die Here behoort, en die volheid daarvan. (Psalm 24)
Die Deïsme wat hier dus uitdrukking vind is onaanvaarbaar vir die Calvinis wat erns maak van gehoorsaamheid aan die hele Bybel.
(ii) Dit rus op n foutiewe en meganiese mensbeskouing -
Omdat die gewetensklousule die geloof van die mens isoleer van sy ander lewensuitinge, asof dit in n aparte kompartement tuishoort, sê ons dat die gewetensklousule geloof en wete/kennis teenoor mekaar stel. Dit is die grondslag van n meganiese mensbeskouing wat die mens self opdeel in waterdigte hokkies: die universiteit of wetenskapsbeoefening sou dan net verband hou met die mens se verstand terwyl die mens se geloof weer net betrekking het op sy kerklike lewe.
Hierdie dualisme/verdeeldheid is nie in ooreenstemming met die Bybel se beeld van die mens as n eenheidswese deur God geskape nie. Dit word ook deur die lewe self verkeerd bewys elke keer dat daar interaksie plaasvind tussen elke mens se verskillende lewensfunksies. Dit is ook n Bybelse feit dat die geloof al die uitgange van n mens se lewe beheer.
(iii) Dit rus op n verkeerde beskouing van die werklikheid -
In die uitwerking van die gewetensklousule lê dit opgesluit om af te stuur op n versmalde opvatting van wat waarheid is.
Dit verloop soos volg:
Omdat die humanisme onder-skeid maak tussen dit wat is en dit wat behoort te wees, groei hierdie onderskeiding in die wetenskapsbeoefening uit tot n skeiding. Daar word dan gesê dat die wetenskap alleen te doene sou hê met dit wat is, en nie met dit wat behoort te wees nie. Dit het n direkte invloed op die idee van wat wetenskap is, soos wat dit vanuit die positivisme oorgeneem is in die gewetensklousule. Hiervolgens moet die wetenskap alleen n beskrywing wees van dit wat is. Dit lei tot die verheffing van die eksperimentele metode as die enigste waarheid! Dan word waarheid gesien as dit wat met die eksperimentele werklikheid vasgestel kan word, en word die Skrif as die Woord van God weggestoot uit die wetenskap, uit die universiteit, en gaandeweg uit die lewe van die "wetenskaplike". So werk die gewetensklousule mee aan die ontkersteningsproses van die mens.
(iv) Dit rus op n verengde beskouing van die universiteit -
Uit die meganiese mensbeskouing (vgl. ii hierbo) vloei voort dat die voorstanders van die gewetensklousule net maar die rede of verstand van die mens sou wou bewerk op universiteit. Dit is tog n baie gevaarlike versmalling en vereensydiging van die universiteit se taak, wat n opvoedingstaak is.
Opvoeding weer, kan nooit losgemaak word van lewensbeskouing nie! Ons Calvinistiese oortuiging is dat die hele mens opgevoed word om n volwasse hemelburger te word - nie net die verstand nie! Die beoefening van Christelike wetenskap is juis die basis waarop die hele mens vanuit die Woord van God aangespreek word - in sy rede, maar juis ook in sy lewensbeskouing!
(v) Dit onderdruk die universiteit se eie bevoegdheid
Die universiteit is n selfstandige samelewingsverband, wat diens lewer aan n bepaalde gemeenskap. Die owerheid kan die gemeenskap nie die reg ontsê om die gees en karakter van sy universiteit self te bepaal nie - uiteindelik behoort elke universiteit self hierdie beslissingsreg te hê. Die gewetensklousule, deur die gesamentlike universiteitswet, skryf egter aan universiteite voor wát hulle lewensbeskouing moet wees. Omdat lewensbeskoulike neutraliteit nooit-en-nêrens kan bestaan nie, kan die gewetensklousule nie onskuldig pleit nie - nee, dit gee uitdrukking aan n bepaalde lewensbeskouing, en wel die humanisme, wat dan op universiteit afgedruk word.
(vi) n Absurditeit -
In 1967 word Wet 39 van krag. Dit bepaal dat die onderwys wat deur die owerheid verskaf of beheer word n "Christelike karakter" moet hê. Baie mooi - maar die gewetensklousule in Wet 12/1916 staan nog steeds op die Wetboek. Die Wysigingswet op Nasionale Onderwysbeleid van 1969 bepaal dat onderwysersopleiding van onderwysers aan middelbare skole, aan die universiteite moet geskied. Dit beteken dat onderwysers opgelei moet word aan universiteite wat deur wetgewing verplig word om "neutrale onderrig" te gee, sodat hulle kan uitstap in die skole, "neutraal" toegerus, om Christelike onderwys aan te bied in skole volgens n ander wet. Hoe kan dit tog wees?
Dat die onderwys in ons land, ten spyte van dapper uitsonderings, nooit werklik aan die ongeloofsmagte van die humanistiese deïsme kon ontkom nie, bly steeds n klag teen elke verbondsouer wat nie met alle mag geworstel het om die Skrif sentraal te plaas in die totale opset van die onderwys nie.
Die VCHO redeneer, debatteer, soebat en veg nou al vir vyftig jaar om hierdie bestaande dualisme van die wetboek verwyder te kry. Elke Christen-ouer en grootouer sal hulle plig en verantwoordelikheid voor die lewende God moet opneem en alles doen wat nodig is, om ons doopgelofte ten uitvoer te bring, naamlik dat "ek onderneem om hierdie kindjie na die beste van my vermoë in hierdie leer ... te laat opvoed!"
Die uur is baie laat. Ons mense slaap vas en wil nie gesteur word nie. Maar ons beoordeling en oordeel staan vas. (Vgl. I Tim 3:15(b); Ef 4:7, 12; Ef 5:15-17; 2 Kor. 6:6, 7 en nog vele meer.)
Geen Bybelgehoorsame Christen kan maar verlief neem met die gewetensklousule in beheer van die onderwys nie.