|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
SKRIFOORDENKING
DIE LIEFDESWRAAK VAN DIE HEILIGE GEES
Handelinge 4 : 23 - 31
- DS HJJ KRUGER - LYTTELTON -
... Herodus en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volk van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en raad vooruit bepaal het om plaas te vind. (Handelinge 4 : 27, 28)
Wanneer die oormag van ongeloof teen Christene ingespan word, moet ons die wraak van die Heilige Gees oproep.Dis een van die heel vreemde verskynsels onder mense: Doen goed aan ander, dan wil mense jou kruisig; Doen iets op n nuwe, vars kreatiewe manier, dan is daar diegene wat hulle dolke begin uithaal; Gebruik nuwe woorde, n nuwe taal, n nuwe lewenswyse om oor God te praat, dan begin hulle klippe optel om jou te stenig. En as dit gebeur, moet Christene tot God bid, tot God roep, om wraak te neem.
Petrus en Johannes het een keer n verlamde man by die tempel gesond gemaak (Hand. 3:1-20). Hy en al die mense wat dit gesien het, het begin om God te prys. Hulle het in die Naam van Jesus namens Jesus iets goeds aan iemand anders gedoen.
Toe begin hulle sommer om daar by die tempel nuut oor God te praat. Hulle het begin vertel dat, omdat Jesus dood was en weer lewend geword het, mense ook nuut kan word. Jesus wil mense van hulle "verkeerde paaie" af terugbring (Hand. 3:26).
Terwyl hulle nog staan en praat, toe is die sedepolisie daar: die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag, en die Sadduseërs, mense wat gesê het as jy dood is, is jy dood. Jy kan nie uit die dood opstaan nie.
Nogal n aardige gesig nê? Die grootkoppe van die polisie is daar, gelei deur die predikants en ouderlingslede van die sinode, gevolg deur die tempelpolisie. Ek skat so vyftig teen twee. Hulle word in die tronk gegooi, voor die tempelhof gesleep, en ernstig gedreig en geïntimideer (Hand. 4:22).
Wat was die inhoud van die dreigemente? Ons weet nie. Ons kan raai: "Onthou wat met Jesus gebeur het. Julle is volgende!" Of dalk meer subtiel: "Ons sal sorg dat julle nie werk kry nie; ons sal die lewe vir julle familie moeilik maak; julle kinders sal nêrens in die skool kom nie." Toe word hulle uitgelos.
Wat maak Petrus en Johannes toe? Hulle gaan terug na hulle eie mense toe, hulle medegelowiges, en vertel vir hulle wat gebeur het. En toe bid hulle saam tot God. Dis n goeie ding om te doen as jy alleen is teen die hele wêreld, as jy n minderheid is, as jy bang is nie vir jouself nie, maar vir dit wat hulle dalk aan jou vrou of jou kinders kan doen. Hulle bid.
Kyk mooi na die inhoud van die gebed. Die begin is n geloofsbelydenis ("Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het."); dit klink amper soos ons eie: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde." Hulle bely dat God alles kan doen; dat God beheer het oor situasies al is dit vyftig teen twee.
Dit is interessant om daarop te let dat hulle n ander naam vir God gebruik as gewoonlik, hulle gebruik die woord despovth. Ons woord "despoot" is daarvan afgelei. Hierdie woord kom slegs vyf ander keer in die Nuwe Testament voor (Luk 2:29; 2 Tim 2:21; 2 Pet 2:1 en Judas 4; Openb 6:10). Hierdie woord beteken dan ook die absolute alleenheerser.
As hierdie mense met n probleem gekonfronteer word dan vind hulle hulle vertroosting juis in die feit dat God soewerein is, dat daar niks en niemand soos Hý is nie. Omdat Hy die Skepper is van alle dinge, beteken dit ook dat Hy volkome beheer oor alle dinge het. Niks, letterlik niks, ontgaan Sy almagsblik nie.
Die tweede deel van hulle gebed is byna asof God hulle op hulle onuitgesproke vrae antwoord: "Hoekom hierdie patroonmatige herhaling van die geskiedenis? Hoekom is toe Jesus goed gedoen het, Hy gekruisig? Hoekom nou ook ons?"
En die antwoord is: die wêreld se maghebbers is bang vir God. Die priesterhoofde en die familiehoofde is bang hulle verloor aansien en posisie en mag. Die konings van die wêreld span saam teen die Here en sy Gesalfde. Dit moet so wees. Dit staan in Psalm 2:12 wat hulle in hulle gebed aanhaal.
As n mens jou nou juis blindstaar op die vertoon van die Bose, die vyand van God, sou jy maklik kon dink: Hy regeer en nie God nie. As n mens jou blind staar op sy gewoel en gewerskaf in die wêreld sou jy maklik kon dink dat God uit die prentjie is.
Of wanneer ongelowige leiers en regeerders in opstand teen God is, met hulle planne en programme teen Hom saamspan, sou jy maklik kon dink dat God nie meer regeer nie. n Mens sou so kon vaskyk teen die staalhelms en die stewels van die vyand van God, dat jy God skoon miskyk. Jy sou dan maklik kon vra: Wie regeer nou eintlik die wêreld? Psalm 2 sê: God en sy Gesalfde regeer.
En al het Jesus aan die kruis gesterf is dit hoe die heerskappy van God lyk. Sy heerskappy is n heerskappy in aanvegting, in kruisgedaante. Maar dis deeglik sý heerskappy! Wie die gang van die wêreldgeskiedenis bepaal, is nie hulle wat ons televisieskerms en dikwels ons gedagtes vul nie, maar die Gesalfde van God. Wie die toekoms bepaal, is nie in die eerste plek die VSA of die RSA nie. Nee, in die laaste instansie is dit die Gesalfde van God!
Die toekoms word nie verseker deur die slaankrag van bomme of die staalkrag van kanonne nie, maar deur God, deur sy Gesalfde. Die waarborg hiervoor is die opstanding van die Gesalfde uit die graf. Die beslissende slag ís geslaan, die vyand ís oorwin. Noordmans het eenkeer gesê dat die Kindjie in die krip die lag van God oor hierdie wêreld is. Die wêreld vind die Kind en sy heerskappy, die krip en die kruis maar bra lagwekkend. En tog is dit God wat die lagwerk verrig. Hy lag omdat alle teenstand teen sy Gesalf-de lagwekkend is.
Wat doen jy as dit met jou gebeur? Wat doen jy as dit honderd teen een is? Wat doen jy as dit teen jou tel by jou werk of in jou vriendekring, omdat jy in Jesus glo en doen wat reg is? Wat doen jy as die skroef op die een of ander manier teen jou aangedraai word? Jy bid. Jy bely jou geloof. Jy bid dat God hierdie oormag moet aanvat, want jy kan nie. Jy vra die Heilige Gees om jou te help.
Hoe vat die Heilige Gees die maghebbers aan? "Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig." Gee, Here, dat ek nie sal swig voor intimidasie nie, al kos dit my goed en bloed. Gee self die vrugte op die verkondiging van u Woord: wonders en tekens, verlossing van mense wat vasgevang sit in die mag van siekte en verwerping en eensaamheid en sonde.
Toe het die Gees ingegryp. Die plek waarin hulle vergader was, het begin skud. Nee, hulle vyande word nie skielik in n atoomontploffing vernietig nie. Die plek het geskud en almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het met vrymoedigheid die Woord van God verkondig. Dis hoe die Heilige Gees vandag nog werk. Dit is n dissipline van seën en goed doen. Dis die minderheid wat teen die oormag hande uitstrek, nie in oorgawe nie, maar in uitdagende liefde.
Petrus het hierdie waarheid goed verstaan. Daarom skryf hy ook baie la-ter in 1 Petrus 3:1315:
Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om n antwoord te gee aan elkeen wat van julle n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.
Petrus moedig sy lesers aan om goed te doen omdat hy oortuig is dat hulle goeie gedrag tog op n manier die samelewing sal aanspreek. En miskien sal oortuig. Maar selfs al sou dit die samelewing nie oortuig nie, sal dit hulle tog laat erken dat die Christene goed is, en dat dít waarop hulle hoop tog iets is om te respekteer. En daardeur sal die wêreld, selfs al bekeer hulle nie, tog alle verontskuldiging ontneem word.
Want jy sien die gelowiges is die gewete van die samelewing. Soos die gewete, moet die Christene die wê-reld herinner aan wat goed is, reg is, eerbaar is, nastrewenswaardig is. Aan wat welbehaaglik is vir God. En soos met die gewete, sal die samelewing op n manier moet erken dat dit reg is só. Dat wat die Christene doen wel goed is, en wel iets om te bewonder en na te streef. Dat die wêreld inderdaad n beter plek sou wees indien almal só gedoen en só geleef het.
Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. (1 Petrus 2:15)
Christene kan soms moedeloos word, hulle kán verslap in hulle toewyding aan die saak van die Here. Ons is immers mense van vlees en bloed, nie engele nie. Die bietjie wat jy doen in diens van die Here, kan vir jou voel soos n strooihalmpie teen n stormwind, n flou hou teen n staalwand.
Dit mag lyk asof niks in die wêreld verander het of ooit sal verander nie. Die gebede wat jy bid in jou binnekamer of by die Bybelstudiegroep, die paar blikkies kos wat jy vir die behoeftiges gee, die paar vriendelike woorde wat jy rig tot n eensame, die bemoeienis met die sieke n greep in die lug, van nul en gener waarde?
Meer nog, jy kan stank vir dank kry, verguising vir erkenning, verwerping vir vrug. Na al jou inset, geen kwitansie nie. Dan kan n mens by n punt kom waar jy sê: Nou het ek genoeg gehad, nou het ek my deel gedoen, en basta. Maar juis dan moet jy onthou: Ons waarborg nie deur ons goeie werke die oes nie. Christus waarborg dit. Ons saai immers nie op die akker van ons goeie werke nie, maar op dié van die Gees.Ons saai en oes uit genade; ons saai en oes omdat Christus self vir ons die saad en die oes geword het, omdat Hyself as koringkorrel in die grond moes val en sterf, en oes vir baie, vir die ewigheid opgelewer het.
Dit is n wenresep. Petrus en Johannes het swaar gekry. Maar uiteindelik het hulle bietjie, duisende geword. Omdat hulle vreesloos was, is ons vanoggend hier, deel van die kerk.
Almal van ons ervaar reëlmatig die een of ander vorm van intimidasie. Kinders sê hulle sal nie op hulle maats split nie, al het dié verkeerd gedoen. Werknemers sê bevordering is onregverdig omdat jy moet omkoop of saam drink om iewers te kom. Gelowiges sê die strukture van die samelewing maak dit vir hulle al hoe moeiliker om hulle geloof uit te leef.
Wat moet ons doen? Bid. Bid vir die Here dat sy Gees jou met vrymoedigheid vreesloos, sal laat praat, laat doen, laat glo. Strek dan jou hande in liefde uit na hulle wat jou intimideer.
- Uitgesaai op RADIO PRETORIA, Vrydag 29 Maart 2002 -