|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
KLASSIS GKSA BRAKPAN GETUIG !
Neels Jackson, kerklike verslaggewer van BEELD, berig in die uitgawe van Dinsdag 7 Mei 2002 oor 'n verklaring wat deur die Gereformeerde Kerke se klassis Brakpan, na aanleiding van die verwarring wat tans op teologiese vlakke heers, uitgereik het. Hy rapporteer as volg:
''Christen-teoloë is daartoe geroep om die geloof op te bou en te versterk en nie om die saad van die twyfel en verwarring te saai nie.''
So sê die Gereformeerde Kerke se klassis van Brakpan in 'n verklaring wat uitgereik is omdat hulle as gelowiges'' nie kan stilbly te midde van verwarrende standpunte wat deur die openbare media die wêreld ingestuur word nie''.
Die klassis, wat uit twaalf gemeentes in Benoni, Boksburg, Kempton Park en Springs bestaan, vra teoloë onder meer om ''met groot verantwoordelikheid op verklarings en stellings te let wat in die openbare media gemaak word''. Die toetssteen vir sulke uitsprake is die Skrif en belydenisskrifte waaraan teoloë hulle verbind.
Oor die Bybel sê die klassis hy ''erken onvoorwaardelik dat Die Bybel die gesagvolle, geïnspireerde Woord van God is waarin Hy Homself en sy wil volkome en genoegsaam openbaar.''
Jesus Christus, sê die klassis, ''is die Eniggebore Seun van God wat mens sonder sonde geword het''.
''Hy is waarlik God en is as ons enigste Middelaar deur die werking van die Heilige Gees uit die maagd Maria gebore. Hy het vir hulle, wat Hy voor die grondlegging van die wêreld geroep het, aan die kruis gesterf en Hy het deur goddelike krag werklik uit die dood opgestaan. Hy sit ná sy hemelvaart aan die regterhand van God die Vader, van waar Hy regeer en weer sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.''
Seks is volgens die klassis 'n ''skeppingsgawe van God''. ''Die uitlewing van die seksuele buite die huwelik en gepaardgaande losbandigheid tas die eer van God in sy skeppingsgawe van die seksuele aan.''
Voorts spreek die klassis hom ook uit teen godslastering, suggestiewe taalgebruik in advertensies oor die radio, pornografiese rolprente oor televisie en blootstelling aan gewelddadigheid.