|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
GOD LEEF DEUR GEES IN GELOWIGE
Culus Hammann skryf in BEELD van Maandag 6 Mei soos volg:
Die uitgerekte en soms onverkwiklike debat oor die Godsbeeld en die gesag van Die Bybel verleen 'n nuwe perspektief aan die woorde van 'n gevierde prediker wat 'n besondere pad met die Here geloop het. ''Ons dink te klein oor God. Ons wil Hom in 'n boks sit. Dan kom Hy en sit 'n bom in die boks!''
Hierdie bom is die plofkrag van die evangelie, die opstandingskrag van Christus, wat die lewe van miljoene mense verander.
Laat ons dit sonder omhaal van woorde vir mekaar sê: Ons kan as teoloë en geleerdes en gewone gelowiges op geen manier, deur 'n metafoor of 'n vergelyking of wat ook al, enigsins God se allesomvattende en grenslose almag en versoenende liefde beskryf nie.
Wat ons wel vir seker weet en waarvan elke gelowige oor al die eeue kon getuig, is dat God se unieke eienskappe deur sy Gees leef in die hart van elkeen wat soos 'n kind onvoorwaardelik in Hom glo en 'n draer van die Bybelboodskap is.
As dissipels van Jesus is dit juis vandag 'n heerlike uitdaging om sy Naam te bely en voluit vir Hom te leef.
Hy is en bly die enigste Weg na die lewende God.