|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 3 Mei 2002
EKONOMIESE ONTWIKKELING
Die onmoontlikheid en moontlikheid
- ROB VAN DER KOOY - PRETORIA -
(OORSPRONKLIK GEPUBLISEER IN KOMPAS, FEBRUARIE 2002)
Mense is gewoonlik heel verbaas as jy vir hulle vertel dat die waarde van die totale bruto binnelandse produk (BBP) van die 38 lande in Sub-Sahara-Afrika met hul gesamentlike bevolking van 660 miljoen, insluitende Suid-Afrika, minder is as van 'n klein landjie soos Nederland met sy 16 miljoen mense.Tog is dit so. Hierdie gebied (hierna genoem "Afrika")het in die jaar 2000 'n BBP van sowat $322 miljard gehad teenoor Nederland se $365 miljard, volgens die Wêreldbank. Dit sluit ook Suid-Afrika se BBP van $126 miljard in.
Inkomste per persoon per jaar bedra in Afrika gemiddeld $480. In Nederland is dit $25 140, dus 52 keer meer. In Suid-Afrika beloop dit gemiddeld $3 020.
'n Ander dalk nog skrikwekkender feit is dat die ekonomiese groei in Afrika laer is as in Nederland en in die meeste "ryk" lande en dat die inkomste per persoon in Afrika stadig daal, terwyl die mense in "ryk" lande in materiële sin al ryker word. Die gaping tussen "ryk" lande en Afrika word dus al groter, terwyl Afrika reeds die armste vasteland in die wêreld is, met baie miljoene mense wat onder die broodlyn lewe.
Voeg daarby die feit dat dekades en miljarde se ontwikkelingshulp aan Afrika hieraan geen verandering kon bring nie. Afrika se talle oorloë, diktatorskappe, burgeroorloë en onstabiliteit, asook siektes waarvan vigs/hiv nie eers die ergste is nie, maak die wêreld moedeloos ten opsigte van Afrika. Die gevolg is dat Afrika al minder in tel is en al meer geëgnoreer word.
Tog is Afrika een van die wêreld se rykste gebiede in terme van natuurlike hulpbronne soos talle grondstowwe, insluitende metale en minerale, gas, olie en ook landboupotensiaal. Waarom dan die enorme en groter- wordende agterstand?
Enkele oorsake
Talle oorsake word genoem. Soos die verlede toe die koloniale moonthede Afrika leeggeroof en totaal ontwrig het, insluitende die baie duisende slawe wat uit Afrika ontvoer en in talle ander lande verkoop is en tot die verwoesting van bestaande sosiale leefpatrone gelei het.
Of die warm klimaat en vrugbare grond wat harde werk moeilik en onnodig maak. Dan natuurlik die genoemde onstabiliteit en onbekwame regerings.
Ander faktore is die huidige neo-kolonialisme waar-deur Afrika 'n onbetaalbare skuldlas van baie miljarde het, handelsterme wat al meer teen Afrika draai, die uittog van kundigheid van Afrika se bekwame en kundige mense wat na ryk lande emigeer, en volwasse ongeletterdheid van meer as veertig persent.
Sulke en talle ander redes word aangevoer. Maar kom hulle by die kern van die probleem?
Nuwe hoop
Toe die ANC in 1994 in Suid-Afrika aan bewind gekom het, het hoop in Afrika opgevlam. Want ons land is relatief ontwikkeld en sou 'n toepaslike helpende hand uitsteek, wat ook gebeur het.
Suid-Afrikaanse handel met Afrika het sterk uitgebrei. Ons handel met Afrika het sterk uitgebrei. Ons sakelui het begin om onder meer op die gebied van mynwese, kleinhandel, dienste en hotelle op redelik groot skaal in Afrika te bevorder.
Semi-staatsinstellings soos Spoornet, die SAL, Eskom, die IDC en die Ontwikkelingsbank het met talle projekte in Afrika begin. Kundigheid is beskikbaar gestel. En vandag word die hoop gevestig op president Mbeki se renaissance-plan, tans genoem die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (Nepad).
Tot dusver het dit alles nog nie juis gehelp nie en dit is 'n groot vraag of dit in die afsienbare toekoms veel gaan help. Want Suid-Afrika se vermoëns op hierdie gebied is beperk, die behoeftes is enorm, en daarby het ons land self genoeg probleme op die gebied van armoede en werkloosheid, om nie eers te praat van misdaad en ander vorms van sosiale ontwrigting nie.
Ontwikkeling
Wat word gewoonlik bedoel met "ontwikkeling" waaraan Afrika so 'n groot behoefte het? Daar word gepraat oor die uitwissing van die ergste armoede, die verbetering van geskooldheid, die voorkoming en behandeling van siektes, die ontsluiting van ekonomiese potensiaal, die aanbring van allerle vorms van infrastruktuur, en die instel van demokratiese en bekwame owerheidsinstellings, om enkele aspekte te noem.
Kan dit alles gesonde en voortgesette ekonomiese ontwikkeling inisieer? Dink daaraan dat al hierdie aspekte tipiese Westerse maatstawwe van ontwikkeling is. Want dit is hoe Westerse ontwikkeling lyk. En dit is die gevolg van 'n Westerse kultuur soos wat dit in Europa sedert die Renaissance en die Reformasie in die 16de eeu, en die gevolglike Industriële Rewolusie (ook in Amerika) in die 19de eeu tot stand gekom het.
Anders gestel: die soort ekonomiese ontwikkeling wat tans in Afrika gesoek word, is Westers van aard en is in Europa en Amerika die gevolg van daardie volke se kultuur. En kultuur word hier gedefinieer as die manier waarop dinge gedoen word, die norme en waardes wat uitgeleef word, die prioriteite en ideale.
Nou word al meer as 'n eeu geargumenteer in watter mate byvoorbeeld die Reformasie, veral die Calvinisme, gelei het tot die Europese werksetiek en kapitalisme (byvoorbeeld deur Max Weber rond 1904). Waar of nie, feit is dat veral Noord-Europeane deur die eeue hard moes werk om te oorlewe, dat die Christelike geloof tot die werksetiek bygedra het, dat dieselfde geloof eerlikheid, integriteit, individualiteit (eie verantwoordelikheid) en inisiatief bevorder en die fatalistiese geloof aan voorvaders en geeste wat alles sou beheer, laat verdwyn het, en dat die Westerse oorname van Griekse logika en denke rasionalisme en wetenskapsbeoefening bevorder het.
Daarby was dit 'n proses wat vyf eeue geneem het en gepaard gegaan het met talle oorloë en menslike lyding, enorme ontwrigtings en ook die geleidelike en dikwels skoksgewyse transformasie van tradisionele gebruike en hierargië, om maar 'n paar sake te noem.
Afrika-kultuur
Baie van hierdie eienskappe bestaan in mindere mate of heel anders in Afrika. Die vasteland se vrugbaarheid en warm klimaat maak harde werk onnodig en ook moeilik. Individualiteit en eie inisiatief word nie beloon nie, maar tradisioneel eerder gestraf. Gebrek aan 'n Christelike etiek het sy invloed op integriteit en eerlikheid. Die Afrika-logika is iets heel anders as die Griekse. Mense se kort tydhorison (en gerigtheid op die verlede) en hulle fatalistiese lewenshouding verydel langtermynvisies en -strewes. En hierdie lysie van verskille met die Europese kultuur kan nog langer gemaak word.
Maar as daar geen Westerse kultuur is nie, kan daar nie 'n Westerse ekonomiese ontwikkeling wees nie. Laasgenoemde is deel van en die gevolg van eersgenoemde.
Enige pogings van Afrika in daardie rigting, insidentele uitsonderings daargelaat, is tot mislukking gedoem as die kultuur nie ook verander nie.
Dinamiek
Natuurlik ios niks staties nie. Net soos Julius Caesar verkeerd was toe hy blykbaar verklaar het dat die Germane barbare is en nooit sou kon ontwikkel nie, net so sal dit verkeerd wees om dit van Afrika te sê. Maar Afrika kan slegs tot 'n Westerse soort ontwikkeling kom (afgesien van die vraag in watter mate dit gewens is) as die vasteland Westerse waardes en norme oorneem.
Van laasgenoemde is daar veral in ons land heelwat tekens. Deur ontstamming en verstedeliking is daar sosiale ontwrigting, maar ook 'n toename van individualisme en eie inisiatief.
Deur sending verloor die verlammende heidense bygelowe en fatalisme veld en raak die Christelike geloof met sy gesonde waardes toenemend gevestig.
Deur grootskaalse (Westerse) skoling en opleiding raak die vermoë tot logiese denke en wetenskapsbeoefening ook toenemend 'n realiteit.
Die bestaan van 'n redelik goed funksionerende Westerse ekonomie in Suid-Afrika demonstrateer wat gedoen kan word op die gebied van werkverskaffing en inkomeskepping.
Maar baie van die Westerse en Christelike waardes staan by die swartmense van Suid-Afrika en in 'n nog groter mate in die res van Afrika in hul kinderskoene. En dit word steeds en dalk ook toenemend bedreig deur ander kragte soos sosiale ontwrigting, die hoë vlak van misdaad, emigrasie van kundigheid en kapitaal, druk op owerheidsinstansies om 'n populistiese beleid te volg, werkloosheid en armoede.
Dit wil nie sê dat as die proses in Europa vyf eeue geneem en baie pyn en moeite gekos het, dit in Afrika noodwendig dieselfde proses moet deurgaan nie, maar sekerlik sal dit baie tyd en moeite kos, kompleet met talle pyne en ontwrigtings wat reeds so duidelik te sien is.
Christelike taak
Wat kan vanuit 'n Christelike (en dit is veral Gereformeerde) oogpunt deur gelowiges daaraan gedoen word, elkeen op die plek waar God hom of haar geplaas het?
Eerstens sending, sending, sending. En dan nie die oppervlakkige soort wat tot sinkretisme lei soos wat tans soveel gesien word nie, maar die verkondiging van die Evangelie in sy volle waarheid, omvang en diepte, waardeur mense se waardes en norme gekersten word.
Dit is 'n voorvereiste vir 'n vorm van ontwikkeling wat veel gesonder is as die Westerse een van materialisme, wanbalanse een uitbuiting van mens en natuur.
Tweedens deeglike (en dit is ook Christelike) onderwys en opleiding. Daardeur kry die regte waardes en norme ook hande en voete in die praktyk van elke dag, ook wat betref werksetiek, ideale en strewe.
Derdens deur die goeie voorbeeld te gee in alle aspekte van jou lewe. Dit impliseer ook 'n dankbare, blye, optimistiese en daadkragtige houding.
Gelowiges is uitverkorenes wat mag weet dat deur die soenoffer van Christus hulle die ewige lewe mag beërwe. Daar bestaan geen groter rede as dit om dankbaar, bly en optimisties te wees nie, om blymoedig deur die lewe te gaan.
Met so 'n houding sien 'n mens al die daaglikse moeites en al die ellende rondom jou in 'n ander perspektief. Wel alles as 'n gevolg van die sondeval. Maar ook iets wat jou dankbaarheid en blymoedigheid nie kan en mag onderkry nie.
Want God gee die gelowige die uitkyk en die middele om iets aan al die negatiewe om jou heen te doen. En Hy gee die raamwerk en die geleenthede daarvoor. En wie sal dit nie alles blymoedig en dankbaar - en met oorgawe - doen as Hy ons daartoe roep nie?