Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

AKTUEEL: Thabo Mbeki dien die voorvadergeeste!       

SKRIFOORDENKING:
Harte wat deur Gees en Woord aan die brand gesteek is, maak geslote oë oop

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Why a Reformed Christian May Not Attend the Movie: "The Passion of the Christ"

Waarom Doleansie? Prof H van der Wateren - GK Waterberg (Dolerend)

Die 2001 - Psalmomdigting Christus Self is in gedrang

Multi-Religieuse Polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing

Verplig om by die ware Kerk aan te sluit Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk") Verslag en voorstel aan kerkraad oor slegs die gebruik van die 1933/53 Bybel

1994 - 2004 Die Kerk in 'n nuwe bedeling

Woord en Wêreld : Opstand en opstanding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Psalm-omdigting getoets deur predikante van GK Rietvallei, Pretoria

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") verwerp besluite van Nasionale Sinode 2003

Massale demonstratiewe multi-kulturele sinkretistiese gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Mei 2004

Sektariese Bygelowigheid

Humanistiese mensverheerliking deur middel van die media

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Nie uit waardes maar uit wortels

Nuus uit die VSA

Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys

Mediaverklaring : Kommunisme vervang Christelikheid as norm

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
SJP Kruger : Sterfdag 14 Julie 1904

PERSRUBRIEK: Ds LS Kruger antwoord redakteur van die Kerkblad

Ons Griekse teks van die Nuwe Testament

Op soek na één wêreld 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Knegskap en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 3 Mei 2004

WAAROM DOLEANSIE?

PROF H VAN DER WATEREN
-  Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend  -

Die Gereformeerde Kerk Waterberg het na indringende behandeling van die Sinode 2003 besluite oor Psalmomdigting en vroulike diakens dié besluite verwerp en tot 'n staat van doleansie oorgegaan - totdat dié besluite herroep is. Die optrede is in 'n verduidelikende omsendbrief aan alle kerke in die verband van die GKSA gestuur en openbaar gemaak. Dit het hewige reaksie uitgelok. Vele kerke en lidmate het die verduideliking van die kerkraad aanvaar en ons seënwense toegewens. Aan die ander kant het vele kritici - individue en kerkrade nie ag geslaan op enige verduidelikings of motiverings nie en gewoonweg 'n afbrekende, selfs verdoemende oordeel uitge-spreek. Die hoofsaak van die kritiek is:

  • Dit was te gou. Waterberg moes gewag het. (Tot wanneer?)

  • Dit is die begin van kerkskeuring. (Al is duidelik gesê dat dit kerkskeurin wil verhoed).

  • Dit is onordelik want die kerkorde laat dit nie toe nie. (Al is duidelik gesê dat dit ontleen is aan die kerkgeskiedenis).

  • Waterberg moes die "geldige" weg van beswaarskrifte gevolg het. (Dit is gedoen.Beide die Klassis en die Part Sinode het die kerkraad gelyk gegee. Skynbaar was dit nie te oorhaastig gedoen nie; nie skeurmakery nie; nie onordelik nie).

Dit is nou 'n jaar later.

Intussen gaan die verdagmakery voort - teen Waterberg. Nie die Klassis of die Part Sinode kom onder skoot nie. Daar word steeds volstaan met kritiek oop die gemeente Waterberg vanweë doleansie.

Dit wek 'n ongemaklike bedenking: bedien kritici hulle van die eeu-oue liberale resep dat as jy die leuen lank genoeg herhaal dan word dit later geglo?

Ons maak nie aanspraak op volledigheid nie. Wat hier volg is immers 'n stuk geskiedenis van sewentien eeue wat kortliks saamgevat word.

Te doleer ... Waar kom ons daaraan?

Die Latynse woord dolere, (doleo) beteken om te treur. Die woord doleansie druk iets uit van treurend protes aanteken. Waarom doleer ons? Kan ons nie maar net treur en protesteer nie? Wil ons net deftig wees met so 'n vreemde Latynse woord? Die antwoord lê in die kerkgeskiedenis.

Latyn en Grieks was die tale van die Nuwe Testament.

Vir eeue daarna het Latyn in die kerk gedien as kerktaal.

Vyftien eeue na Christus, in 1517, begin die Reformasie (van oorsprong 'n Latynse woord). Luther worstel met die geloofsvraag oor God se genade in Christus. Hy lees die Vulgata - aangepaste Latynse Bybel van die Rooms-Katolieke Kerk Dit noop hom om die Bybel in Duits te vertaal - sy moedertaal.

Sy opvolger, Calvyn, skryf sy beroemde Institusie aanvanklik in Latyn. Hy vertaal dit later self in Frans.

So begin die Evangelieverkondiging opnuut in die tale van die volke. Vyftien eeue na Pinkster hoor die mense weer opnuut in hulle eie tale hoe gepreek word oor die groot dade van God (Hand 2:8) - as 'n kosbare vrug van die Reformasie.

Dit was egter nie vreemd dat die Reformatore steeds die nuutontdekte geloofswaarhede in Latyn, die "kerktaal" ge-proklameer het nie.:

  • Sola Scriptura:     alleen die Woord van God

  • Sola gratia:                           alleen uit genade

  • sola fides:                              alleen uit geloof

  • sola Christo:                   deur Christus alleen

  • Soli Deo Gloria:           aan God alleen die eer

  • pro Rege:        vir die Koning, dit is Christus

Hierdie slagwoorde waarmee die belydenis kernagtig uitgedruk word, het oor dekades in die Reformasie gegroei. Dit was die antwoord van die Reformasie op die dwaalleer van Rome en die Humanisme wat geleer het dat:

  • Nie die Bybel nie, maar die kerk se gesagswoord finaal is. (Rome)

  • Die Bybel is wel nuttig vir die kerk maar is onduidelik. Daarom moet dit verklaar word. (Humanisme)

  • Die Bybel is nie genoegsaam nie; dit moet aangevul word. (Rome)

  • Vir die aanvulling daarvan het die mens die vryheid - ook die vryheid om die waarheid van die Woord te bevraagteken. (Humanisme)

Hierdie kragmeting het vir honderd jaar na 1517 in felheid toegeneem en so is die slagwoorde uit die stryd gebore. Vir ons, vandag, het dit steeds die waarde dat alle gelowiges wêreld-wyd weet wat Sola Scruptura, ensovoorts, beteken al verstaan ons nie die Latyn nie.

Honderd jaar na die aanvang van die Reformasie vind die groot Sinode van Dordrecht in 1618/19 plaas. Dit is ook die klimaks van 'n honderjarige kerkstryd oor Skrifwaarhede. Ongeveer tien jaar voor Dordrecht hoor ons 'n nuwe woord: die Remonstansie. Dis 'n Latynse woord wat beteken om teen iets te betoog. Die kern van die betoog is dat eksegese (Latyn - Skrifverklaring - volgens die mens se eie insig geskied. Daaruit volg logies die tweede stap, naamlik dat die mens aan sy eie saligheid deel het. So staan 'n oeroue dwaling weer op - onder 'n nuwe naam.

  • Hierteen kom enkele gemeentes in verset. Hulle noem dit doleer - om treurend protes aan te teken. Hulle antwoord op die rewolusie van die Remonstrante (Latyn) met dolering (Latyn). So kom die woord "Doleer" in die kerkgeskiedenis. Al beteken dit letterlik net om treurend te protesteer staan dit duidelik vir 'n bepaalde soort protes, naamlik 'n daad van kerklike beswaar teen die dwalinge van eiegeregtigheid, mensverheerliking en kerklike dwingelandy. Soos die woorde Reformasie, Remonstransie, ensovoorts, verkry die woord Dolering/Doleansie daarmee burgerreg in die kerk-geskiedenis.

 

  • Dit is daarom nie vreemd dat die Nederlanders 270 jaar later, in 1886, weer die term Doleansie gebruik nie, al het die gebruik van Latyn toe reeds begin afslyt.Wesentlik treur en protesteer hulle in die Doleansie van 1886 oor dieselfde dwalinge - al is die aksent anders. En nou, 117 jaar later in 2003, gryp ons weer terug na hierdie woord, Doleansie, met sy eiesoortige uitdrukkingswaarde. Want ons treur en protesteer weer teen die dwalinge op grond van ons Belydenis sonder dat ons die kerk verlaat of dit skeur.

Waaroor gaan dit eintlik?

Basies gaan dit oor drie sake:

  • Gesag; besonderlik die gesag van die Woord.

  • Christus, die Seun van God as enigste Saligmaker.

  • Die kerk se belydenis hieroor.

Hierdie drie punte loop soos 'n sigbare draad deur die kerkgeskiedenis.

Daar is reeds verwys na die Remonstransie as 'n oeroue dwaling. Dit wortel in die opstand van Adam en Eva teen die skeppingsgesag van God en wentel om die aantasting van God se skeppingswoord in die vraag: Is dit ook so ...? (Gen 3:1)) Hierdie bevraagtekening van God se Woord sou in verskillende gedaantes in die hele kerkgeskiedenis opduik. Met die oersonde wou die mens nie buig onder God se gesag nie. Telkens word die Woord deur die mens omgebuig., vertolk, verklaar deur die eie wil van die mens; telkens word die Godheid van Christus bevraagteken; telkens hoor ons die onderliggende vraag: Is dit ook so? En telkens antwoord die kerk met 'n belydenis. Dit lê aan die wese van die kerk.

  • Die mens het die vryheid - dit wil sê gesag - om vir sy saligheid te kies.

  • Jesus Christus is nie God nie maar 'n mens.

So leer die Ariane en Pelagiane al in 300 - 400 nC. Die kerk antwoord met die belydenisse van Nicea (325 nC) en die Athanasium (4de - 5de eeu nC). Daarna volg nog die Apostoliese geloofsbelydenis (5de eeu nC, maar eers in die 8ste eeu in gebruik geneem).

 

  • Die Woord is nie inherent gesagvol nie; dit is afhanklik van die pouslike gesag as hoof van die kerk.

  • Christus word deur heiliges aangevul en selfs verplaas.

  • Nie 'n belydenis nie maar sigbare voorstellings van die hemelryk soos beelde, kerse, ensovoorts, is nodig as sogenaamde "boeke vir die leke".

Dit is die hoofsaak van die dwaalleer van Rome. Die belydenisse uit die Reformasie, die NGB (1561) en Heidelbergse Kategismus (1536) was die antwoord op dié dwalinge.

  • Wetenskap is vry van kerklike gesag.

  • Skrifverklaring is 'n willekeurige saak omdat die Woord nie gesagvol en genoegsaam is nie.

  • Die kerk behoort onder die gesag van die staat te val.

  • Die NGB en Kategismus moet hersien word omdat Christus nie as enigste Saligmaker erken kan word nie.

So betoog die Remonstrante in die tyd van 1610 tot 1618.

En daaroor doleer enkele gemeentes. Die Dordtse Sinode verantwoord hom deeglik oor dié sake en antwoord daarop met 'n belydenis, die Dordtse Leerreëls, ingevolge waarvan die dwalinge verwerp word op grond van die Woord van God.

Die leuenvraag, "is dit ook so?", kry egter nie klaar nie. In 1886 gaan dit weereens oor gesag (staatsgesag) en orde in die kerk terwyl die wonders in die Woord geloën en die Godheid van Christus bevraagteken word.

Die dolerende kerke (1886) beroep hulle deurgaans op die Woord en die belydenisse. Die belydenisse word gehandhaaf omdat dit in ooreenstemming is met die Woord - ook al het dit 'n strydvraag geword. En hulle bly geldig tensy bewys kan word dat dit in stryd met die Woord is. Daarom is daar nie telkens nog nuwe belydenisse nodig nie. In ons belydenisse antwoord die kerk op die dwaalleer wat met die leuenvraag "is dit ook so?" die gesag van die Woord en die Godheid van Christus as enigste Saligmaker bevraagteken. Want dit raak die hart van die Evangelie.

En nou nà 2003?

Waar staan ons nou met die sinodebesluite en op watter gronde kan ons dit verwerp en daaroor doleer?

  • Die besluit oor die vrou in die amp berus op buite-Bybelse bronne terwyl die Woord sonder ontsag opsy geskuif is.

  • Die Godheid van Christus is uit die Psalms weggedig en met voetnotas vervang.

  • Die Apostoliese Geloofsbelydenis word aangepas (dit moet nog gefinaliseer word).

  • Die gesag van 'n meerderheidstem word bo die gesag van die Woord gestel.

Hoor ons in die agtergrond die aanhoudende veraf geruis, soos 'n waterval, van die vraag: "is dit ook so ...?"

Die sinodebesluite berus, merkwaardig, op sogenaamde nuwe navorsing. Nuut? Sewentien eeue gelede het Pelagius al 'n vrye wetenskap, los van die Woord, bepleit. Driehonderd-negentig jaar gelede het die Remonstrante Skrifverklaring losgemaak van die inherente gesag van die Woord.

So 'n stap is die begin. Die hooftrekke van die kerkge-skiedenis toon duidelik dat dit nooit daar eindig nie. Want wie die gesag van die Woord van God bevraagteken, verhef homself om met die God van die Woord in gerig te tree oor die waarheid van sy Woord.

Dit is die grond van ons bedenkinge teen die sinodebesluite. Daarom doleer die gemeente Waterberg as 'n beswaardaad gepaard met ons beswaarskrifte. Want woord en daad is nie skeibaar nie (Rom 15:18; Koll 3:17). En al klink dit dalk deftig in Latyn, doen ons dit uit hoofde van 'n stuk kerkgeskiedenis van 390 jaar. Dan begryp u die erns van die beswaardaad wat in die gees van die Reformasie steeds wil waarsku, wil proklameer: Sola Scripture - die Woord alleen - sonder enige menslike slimmigheid. En uit die Woord, Sola Christo - Christus alleen.

Dit is die les van die geskiedenis van sewentien eeue - van Pelagius, deur Rome en die Remonstrantisme tot vandag. Ten diepste is dit die waarskuwende klag van Doleansie - die getuienis van 'n treurende kerk - teeen afdwalinge.

Loop ons dan nou met hang gesigte?

Nee. Al treur ons oor die afdwalinge gaan ons met blymoedigheid terug na die anker: die Woord en die belydenis en daarmee gaan ons blymoedig die toekoms in. Het u al gewonder waarom die Heidelbergse Kategismus 'n troosboek genoem word - troos vir treurendes? Het u ook al gewonder waarom die Heidelbergse Kategismus (1563) so eienaardig begin? Sonder inleiding, sonder verduideliking, sonder omhaal van woorde plons hierdie leerboek vir (jong) gelowiges direk in die hart van die kerk:

"Wat is jou enigste troos ...?"

Die antwoord daarop: "Dat ek nie aan myself nie maar aan Jesus Christus behoort."

En in hierdie onbeperkte troos word ons opgeroep tot geloofsblydskap. Dit geld ook vir Waterberg as treurende gemeente.