Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

AKTUEEL: Thabo Mbeki dien die voorvadergeeste!       

SKRIFOORDENKING:
Harte wat deur Gees en Woord aan die brand gesteek is, maak geslote oë oop

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Why a Reformed Christian May Not Attend the Movie: "The Passion of the Christ"

Waarom Doleansie? Prof H van der Wateren - GK Waterberg (Dolerend)

Die 2001 - Psalmomdigting Christus Self is in gedrang

Multi-Religieuse Polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing

Verplig om by die ware Kerk aan te sluit Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk") Verslag en voorstel aan kerkraad oor slegs die gebruik van die 1933/53 Bybel

1994 - 2004 Die Kerk in 'n nuwe bedeling

Woord en Wêreld : Opstand en opstanding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Psalm-omdigting getoets deur predikante van GK Rietvallei, Pretoria

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") verwerp besluite van Nasionale Sinode 2003

Massale demonstratiewe multi-kulturele sinkretistiese gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Mei 2004

Sektariese Bygelowigheid

Humanistiese mensverheerliking deur middel van die media

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Nie uit waardes maar uit wortels

Nuus uit die VSA

Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys

Mediaverklaring : Kommunisme vervang Christelikheid as norm

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
SJP Kruger : Sterfdag 14 Julie 1904

PERSRUBRIEK: Ds LS Kruger antwoord redakteur van die Kerkblad

Ons Griekse teks van die Nuwe Testament

Op soek na één wêreld 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Knegskap en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 3 Mei 2004

DIE 2001-PSALMOMDIGTING

Christus Self is in gedrang

Dr VE d'Assonville (Colesberg); Ds E Kayayan; Prof LF Schultze

- GEPUBLISEER IN DIE KERKBLAD, MAART 2004, BL 32, 33. -

Die 2001-Psalmomdigting en beginselkritiek

Die deputate vir die omdigting van die Psalms het 'n lang rapport aan die Sinode (GKSA 2003) voorgelê, waarvan 'n verkorte weergawe onlangs in Die Kerkblad verskyn het.

Reeds tydens die Sinode is daar beginselkritiek teen die omdigting ingebring wat nie beantwoord is nie. Die uitgangspunt van die 2001-omdigting ("om die grondteks te volg deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het") berus op 'n Skrifbeskouing wat wesenlik van die Gereformeerde Skrifbeskouing afwyk. Dit is die probleem: Nie dit wat God sê nie, maar dit wat die mens verstaan, bepaal wat geskryf staan.

Só word die "eerste hoorders" meer gesaghebbend vir die verstaan van die grondteks beskou as Jesus Christus se eie woord. Sy Woord, sy uitleg van die Psalms word eintlik maar net opgevat as een van die moontlike interpretasies. Die rol van die Heilige Gees by die totstandkoming van die hele Skrif en die eenheid van die Skrif as Woord (NGB, artt 2-7) word op hierdie manier egter misken.

Verder skep die deputate in hulle uitgangspunt 'n spekulatiewe projeksie: Hoe weet ons wie die eerste hoorders van elke Psalm was, en hoe dit deur hulle verstaan is?

Hierdie uitgangspunt het dieselfde Skrifbeskoulike vertrekpunt as dié van teoloë soos Crossan (van die Jesus-Seminaar) asook van die sogenaamde "Nuwe Reformatore" soos Spangenberg en Wolmarans - almal persone wat openlik die historiese opstanding van Christus verwerp, net soos Lina Spies, wat ook aan die 2001-omdigting meegewerk het (vgl Insig, Desember 2003).

Enkele voorbeelde

Die deputate het nie verduidelik waarom hulle die algemeen aanvaarde Hebreeuse teks uitdruklik teen die sin in van Jesus Christus se eie woorde gaan verander het nie, behalwe om Jesus se eie uitspraak tot slegs "'n interpretasie " te reduseer. In Psalm 110 lui die Hebreeus:"Dit het Jhwh (die HERE) vir my Here gesê." Christus sê uitdruklik dat Dawid Hom "in die Gees" "Here" noem (Mat 22:44).

Die implikasie van die omdigting ("my Here" word met "my koning" vervang) is dat Dawid nie deur die Gees gepraat het nie; dat hier geen profesie van Christus ter sprake is nie en dat Christus ons hoogste Profeet 'n leuenaar is, of dat die woorde deur ander in sy mond gelê is. Hieroor het die omdigter hoself in 'n brief in Die Algemene Kerkbode (April 2002) uitgelaat deur te skryf dat "Psalm 110 ... volgens my teologiese adviseurs ... nie 'n Messiaanse Psalm is nie". Dit kom daarop neer dat "nuwe navorsing" 'n ander standpunt het as dié van Jesus Christus en die Heilige Gees.

Hierdie oortuiging word wel toegedek met geleerde woorde, 'n soort relatiwiteit van "interteksverbande" (Die Kerkblad, Januarie 2004, p 28) wat eintlik maar beteken dat elke aanhaling wat ander Bybelskrywers van die Psalm maak, spesifiek vir hulle eie oogmerk en konteks bedoel is.Dit beteken dat elke skrywer maar die Ou Testament kan plooi soos sy omstandighede dit vereis. 'n Mens hoor dus in gesprekke uitdrukkings soos "Die Nuwe Testament haal die Ou Testament dikwels verkeerd aan".

Verder meld die deputate: "Die Messiaanse karakter van 'n gedeelte is 'n saak van interpretasie, ook waar dit by vertaling kom." Dit mag die "interpretasie" van die deputate wees maar dit stry teen die werklike stand van sake en ons gereformeerde geloof, naamlik: die Bybel is openbaring van God.

Wat Jesus se kruiswoorde betref, word nie geantwoord waarom daar doelbewus van die grondteks afgewyk is nie.

Twee voorbeelde: "My God, my God waarom het U my verlaat (Ps 22:2; Matt 27: 46; Mark 15:34) se betekenis is verander na od, my God, het U my dan verlaat?" - wat 'n radikale afwyking van sowel die grondteks, Jesus Christus se eie woorde en ons belydenis beteken. In die geval van "in u hande gee Ek my gees oor" (Ps 31:6; Luk 23:46) is die teksvers (Ps 31:6) sommer uit die omdigting gelaat en is Jesus se kruiswoord daarmee saam verswyg. Wat laasgenoemde betref, het een van prominente adviseurs by navraag waarom die fondament van die kruiswoord soos dit lên Psalm 31:6, weggedig is, geantwoord dat ons nie weet of Jesus werklik die woorde gesê het en of Lukas (vir sy eie teologiese motiewe Hom dit in die mond lê nie.

Gaan dit in die kritiek slegs oor enkele Psalms?

Verskillende beoordelings van die 2002-Psalmomdigting berus nie bloot op "uiteenlopende menings en gemengde gevoelens" (Die Kerkblad, Oktober 2003) nie; ook nie op 'n eksegetiese misverstand (Die Kerkblad, Maart 2003) nie. Ten diepste hou dit in dat Nuwe Testamentiese uitsprake nie as gesaghebbend aanvaar word nie. Daarom is daar nie slegs met 'n paar Psalms 'n probleem nie. Die hele Skrifbeskouing is problematies.

In die verdediging van die omgdigting word soms gesê: "Ek kan tog in my hart van Christus sing", of: "Dit raak tog nie my saligheid nie." Watter belediging is dit nie van Christus en sy Woord nie om te sê: "Christus hoef nie gehoorsaam te word wanneer Hyself die Psalms verklaar nie, solank ek maar in my hart van Hom sing"?

'n Hoofargument waarom hierdie besware nie op die punt af beantwoord word nie, is dat die omdigting op die 1983-Bybelvertaling gebaseer is, wat reeds goedgekeur is. Wat in werklikhied in die gedrang is, is die hart van God se openbaring en van die eevangelie; die eenheid van die verbond en van Ou en Nuwe Testament, die gesag van die Skrif en van God Self.

As die visie op Christus as Messias 'n interpretasie is wat by jou só en by die volgende een weer anders opgevat word, het ons net 'n klomp menslike menings oor Christus wat ons uit 'n waardelose menslike geskrif put. Waarom dan nog die moeite doen om die vertoon van kerkwees vol te hou? Waarom nog sendingswerk? Waarom die sendingsopdrag in Matteus 28:18-20 ernstig neem, maar Jesus se uitsprake in Matteus 22:43, Markus 12:36 en Lukas 24:44 oor die Psalms verwerp? Waarom bereid wees om vervolg te word vir ander mense se interpretasies?

Die eenheid van die Skrif as Woord

Die eenheid van die Skrifte was van die begin af vir die eerste gelowiges ononderhandelbaar, nie omdat dit hul;le "interpretasie" was nie, maar omdat hulle weet wie hulle gehoor en in wie hulle geglo het (kyk 2 Tim 1:12). In Petrus 1:16-21 word enige sweem van subjektiewe stories wat opgedis word, radikaal afgewys: Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekendgemaak het nie ... terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek (2 Pet 1:16-22).

Die apostoliese getuienis en die "profetiese woord" word hier langs mekaar gestel (vergelyk ook Heb 1:1-2). In die tyd van die Reformasie het die Wederdopers - net soos Marcion in die tweede eeu - opnuut die kloof tussen Ou en Nuwe Testament geaksentueer. Vandag se "nuwe navorsing" bied dus niks nuuts nie.

Profesie en vervulling

Dit gaan hier oor die verhouding tussen Gees en Woord: aangesien die Gees van waarheid die primêre outeur van die Skrif is - Johannes 14:17,26; 2 Petrus 1:20-21 - is daar nie weersprekings tussen dit wat Hy in die Ou Testament en dut wat Hy in die Nuwe Testament aan menslike skrywers geïnspireer het nie.

As Jesus vir die Emmausgangers sê: "O onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het ..." is Hy nie besig om 'n moontlike lyn te probeer konstrueer wat nuwe betekenis gee aan die Ou Testament nie. Hy lê dit wat in die Ou Testament al reeds staan, uit, en leer juis die dissipels wat weens hulle eie traagheid om te glo, nog nie verstaan het nie (vergelyk ook Luk 24:44-47).

Voetnote as korreksie?

Die poging om die teologiese krisis met voetnote te probeer regskaaf, het die saak waaroor dit gaan, verder bevestig. Die voetnote maak die omdigting nie méér aanvaarbaar nie. Inteendeel , hulle lê juis die soort Skrifbeskouing bloot wat met die Skrif self en met ons belydenis bots.

Die woord vervulling word in die voetnote nooit genoem nie, daar word slegs gesê dat 'n gedeelte uit 'n Psalm deur Jesus of 'n ander skrywer "gebruik" word met "verwysing" na Jesus Christus. Dit impliseer dat ons met "gemeente-teologie" te doen het (blote menslike interpretasie en ervaring) as verklaring vir die oorsprong van die Skrif.

Christus ons Middelaar

Die 2001-omdigting roep vrae op wat ons nie kan ignoreer nie. Laat ons dus onwrikbaaar vashou aan die geloof dat Jesus Christus ons Middelaar is en dat ons dit weet uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete (dit sluit die Psalms in) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld. Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul" (HK vr/antw 19).