Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

AKTUEEL: Thabo Mbeki dien die voorvadergeeste!       

SKRIFOORDENKING:
Harte wat deur Gees en Woord aan die brand gesteek is, maak geslote oë oop

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Why a Reformed Christian May Not Attend the Movie: "The Passion of the Christ"

Waarom Doleansie? Prof H van der Wateren - GK Waterberg (Dolerend)

Die 2001 - Psalmomdigting Christus Self is in gedrang

Multi-Religieuse Polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing

Verplig om by die ware Kerk aan te sluit Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk") Verslag en voorstel aan kerkraad oor slegs die gebruik van die 1933/53 Bybel

1994 - 2004 Die Kerk in 'n nuwe bedeling

Woord en Wêreld : Opstand en opstanding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Psalm-omdigting getoets deur predikante van GK Rietvallei, Pretoria

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") verwerp besluite van Nasionale Sinode 2003

Massale demonstratiewe multi-kulturele sinkretistiese gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Mei 2004

Sektariese Bygelowigheid

Humanistiese mensverheerliking deur middel van die media

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Nie uit waardes maar uit wortels

Nuus uit die VSA

Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys

Mediaverklaring : Kommunisme vervang Christelikheid as norm

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
SJP Kruger : Sterfdag 14 Julie 1904

PERSRUBRIEK: Ds LS Kruger antwoord redakteur van die Kerkblad

Ons Griekse teks van die Nuwe Testament

Op soek na één wêreld 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Knegskap en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 3 Mei 2004

VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT

Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

-  DS HLJ MOMBERG - PRETORIA-DIE KANDELAAR  -

Gepubliseer in KERK EN WOORD, Maandblad van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar, September 2003

Die eerste woorde van artikel 28 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gryp na artikel 27 terug en voer daarmee die argument verder. Want waar die vorige artikel vrymoediglik die Skrif naspreek dat God die mense wat Hy in Christus salig gemaak het, nie op hulle eie los nie, maar hulle vergader om sy kerk te wees, so spreek artikel 28 die roeping uit dat elkeen dus verplig is om hom by die ware kerk te voeg, en om hulself van die wat nie van die kerk is nie, af te skei.

Die roeping

Hierdie artikels oor die inrigting van die kerk gee herderlik en sorgsaam vanuit die Skrif leiding. Dit is dus nie maar net 'n koud-kliniese dogma oor die kerk nie,maar dit vorm eindelik deel van ons lewensinrigting. Die belydenis is bedoel om in ons dade neerslag te vind.

Wanneer die eerste woorde van artikel 28 dan terugwys na die begin van artikel 27, dan gee hy daarmee die redes waarom die gelowiges hulle by die ware kerk moet voeg.

Die belangrikste rede is dat dit direk in lyn met God se raadsplan is. Die kerk is eenvoudig die bestemming waar God sy gelowiges laat vergader en waar Hy die wat salig word, versamel. Die gelowiges word deur Christus versamel tot een kudde, en hulle word saamgebring deur die werking van die Heilige Gees. Saam vorm hulle een liggaam.

Daarom het hulle die roeping om saam te kom - en die onderlinge byeenkomste nie te versuim soos sommige die gewoonte het nie, en hulle te verenig en soos lewende stene te laat inbou in die tempel van God.

Die Goeie Herder versamel sy kudde, en die gelowiges het daarom die roeping om hulle te laat versamel, saam te kom en hulle by die ware kerk te voeg. Gewoon omdat dit is hoe die Bybel ons God se raadsplan leer oor wat Hy maak met almal wat Hy salig maak.

Hier word ook nog 'n tweede rede gegee in aansluiting by die eerste: Omdat buite die kerk geen saligheid is nie. Dit is natuurlik 'n logiese afleiding uit die gegewe feit dat Christus al die saliges tot sy kerk vergader. As almal wat salig is tot sy kerk vergader word, beteken dit immers dat daar geen saligheid buite die kerk te vinde is nie. Dit is onmoontlik om 'n skaap van die Goeie Herder te wees en nie ook deel van sy kudde te wees nie.

Niemand kan eenkant en alleen buite die kudde ronddwaal nie. Trouens, dit is so ernstig dat volgens die gelykenis van die verlore skaap, die goeie herder selfs die kudde vir 'n tyd alleen sal laat om een afgedwaalde skaap te loop soek sodat dit deel van die hele kudde bly.

Dit kan ook gesien word uit die reddende genade wat gegee is aan die kerk met sy lidmatetal van agt mense in die dae van Noag. Dit is uit hierdie geskiedenis duidelik dat God almal wat Hy verlos het, in die ark versamel het, en dat daarbuite geen redding was nie.

Wanneer die belydenis hierdie stelling maak, is dit nie net teoreties nie, maar prakties. Christus versamel sy kerk immers waar die evangelie verkondig word en die mense tot geloofsgehoorsaamheid gebring word. In hierdie praktiese uitwerking word dus nie net teoreties gedink aan die onoorsienbare universele kerk wêreldwyd in Christus een nie, maar ook aan die sigbare kerk, die plaaslike gemeente waar die gawes wat Christus gegee het, die Apostels, die profete en evangeliste, die herders en leraars die heiliges toerus vir hulle dienswerk ... .

Buite hierdie kerkvergaderende werk van Christus vind mens nie die saligheid nie. Die Bruid van Christus is geroep om haar met die sierlike gewaad van die kerklike instituut wat Christus haar gegee het te versier en sy mag nooit sonder haar kleed die wêreld deurgaan.

Almal wat tot dissipels van Christus gemaak is, moet ook tot een liggaam gedoop wees, en hulle moet in die situasie gestel word waar hulle voortdurend geleer word om alles te onderhou wat Christus beveel het.

Om hierdie twee redes bely ons dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie.

Individualisme

Hier word die stryd aangeknoop teen die individualisme wat ook op kerklike gebied onheil stig. God is immers nie 'n God van wanorde en willekeur nie, maar van orde en vrede.

Wanneer Paulus die verskillende gawes van die gemeente met die Korintiërs behandel, en dit soos die ledemate van 'n liggaam uitlê, sê hy by geleentheid in 1 Korintiërs 12: Die een kan nie vir die ander sê: Ek het jou nie nodig nie!

Maar ons weet dat dit die werk van die duiwel is wat die kudde verbreek en verskeur dat hulle in verskillende rigtings spat. En in die hel sal ons sekerlik die suiwerste vorm van egosentriese individualisme kry waar almal God en mekaar sal haat.

Maar Christus is die Goeie Herder wat verenig. Hy is die Hoof en die uitverkorenes vorm die Liggaam van Christus.

Daarom moet almal ook getrou wees in die bywoning van die samekomste van die gemeente. En dan nie alleen in die oggende (eerste dienste) nie, maar ook in die namiddae (tweede dienste). Laat ons die onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie. Die sondige gewoonte moet bestry word.

Die positiewe hiervan is dat ons waarlik as 'n geloofsgemeenskap moet leef deur onsself aktief aan die vergadering van die gemeente toe te voeg.

Christus het in Johannes 17, sy Hoëpriesterlike gebed, gebid en daarby sy wilsverklaring aan die Vader gemaak: Vs 20: Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo ... Vs 21: dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en.Ek in U ; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

En hierdie aktiewe vereniging met die gemeente waarin ons ook die eenheid van die kerk wil onderhou, val in sekere praktiese dinge uiteen:

 

Ons onderwerp ons aan die leer en tug van Christus wat deur die Kerk bedien word.

'n Kerk sonder tug en dissipline laat die onkruid welig groei, en dan word Gods verbond ontheilig en die toorn van God word oor die hele gemeente verwek. Christus het immmers beveel dat ons die dissipels moet leer om alles te onderhou wat Hy beveel het.

Mense wat hulle aan die opsig en tug van die kerk onttrek, laai daarmee 'n groot verantwoordelikheid op hulle. Hulle maak hul skuldig aan oortreding van die tweede gebod deur eiewillige Godsdiens. En dit is juis hierdie sonde wat in die geslagte gestraf word. Ons sien ook dikwels dat kinders uit onkerklike gesinne geheel en al ongodsdienstig word.

Ons neem die juk van Christus op ons

Jesus het gesê: Neem my juk op julle en leer van My, dat Ek sagmoedig is en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele, want my juk is sag en my las is lig. U sien ... as ons maar weet dat Hy ons geweldige las op Hom geneem het, dan moet ons tog ook hoor as Hy sê dat ons sy ligte las op ons moet neem: 'n Lasdraer is iemand wat ingespan is, 'n donkie of 'n slaaf ...

Wanneer Hy ons dan beveel om sy ligte las op ons te neem, is dit niks minder as dat Hy ons in sy diens wil gebruik nie. Hy wil dat ons ook 'n nuttige priesterdom vir Hom sal wees.

En juis dit is die groot onderkeid tussen die mense wat hulself tevredenheid eenkant hou teenoor die wat hulle bewus diensbaar maak in die gemeente. Mense wat hulle in heilige selftevredenheid eenkant hou, is eintlik soos weerbarstige slawe wat hulle juk afsmyt. Net so ook met heilige godsdienstige kerkgroepies wat hulself soos die donatiste in selftevredenheid eenkant van die kerk wil hou ... Hulle het klaar gearriveer as die volmaakte kerk. Hulle het ook geen stryd, geen werk nie ... Hulle is maar net alte bly en gerus dat hulle die volmaakte kerk is. Intussen het Christus ons ook sy juk opgelê en ook die volle wapenrusting aangetrek om vir Hom die strydende reformerende kerk te wees.

Onttrekking is so goed soos roepingsversaking. U plek, broeder en suster, is dáár, in u gemeente, en in hierdie kerkverband met sy baie gebreke! Dáár wil die HERE hê dat u sy las moet dra wat lig is.

Vervolg DV in eersvolgende uitgawe.