Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
GEREFORMEERDE KERK PRETORIA ("PAUL KRUGERKERK")
VERSLAG EN VOORSTEL AAN KERKRAAD OOR SLEGS DIE GEBRUIK VAN DIE 1933/53 BYBEL.
VERSLAG EN VOORSTEL AAN KERKRAAD OOR SLEGS
DIE GEBRUIK VAN DIE 1933/53 BYBEL.
1. Tydens die laaste kerkraadsvergadering wat op 18 September 2003 gehou was, is met ontnugtering agtergekom dat die oorspronklike besluit van hierdie kerkraad oor die gebruik van die 1933/53 Bybel nêrens opgespoor kan word nie. Na bespreking is die volgende kommissie aangewys om die kerkraad te adviseer oor die gebruik van die 1933/53 Bybel. Die kommissie bestaan uit: Ouderlinge Andries du Plessis, Dries de Ridder en Piet van der Kooi asook ds HT de Villiers. Die skriba het vir ds Andries Mulder betrek om hom behulpsaam te wees.
2. OPDRAG :
Die Kommissie het opdrag gekry om die hele aangeleentheid te ondersoek en met ‘n voorstel na die kerkraad te kom. Skriba het opdrag gekry om intussen alle ou notuleboeke deeglik deur te gaan en vas te stel of daar so ‘n besluit aangeteken is.
3. WERKSWYSE:
Die skriba het saam met ds Hennie de Villiers alle notuleboeke deeglik deurgewerk en slegs die volgende 2 gedeeltes is gevind, wat met die gebruik van die 1933/53 Bybel verband hou:
i) Op 16 Augustus 1984 op bladsy 195 van die notule is die volgende besluit gevind : " Die kerkraad besluit om by die goedgekeurde Bybelvertaling te hou totdat die klassis ‘n verslag oor die aangeleentheid uitgebring het, daarna sal gewag word vir uitspraak deur die Sinode. "
ii) Op 24 Maart 1996 op bladsy 308 van die notule is die volgende gevind : "Na deeglike bespreking besluit die kerkraad dat die hele kerkraad die skriba sal bystaan om te verseker dat die 1983 vertaling nie weer tydens die erediens gebruik word nie. "
Uit bogemelde blyk dit nou dat dit na alle waarskynlikheid alleen ‘n gesproke reëling betref, wat geen vaste orde kan afdwing nie, aangesien die Woord van God ook nie net op die kansel gebruik word nie.
Hierdie reëling noop ons om die Nasionale Sinode besluit ondubbelsinnig aan die orde te bring :
1. Aangesien die Nasionale Sinode , Acta 1985 op bl 564, baie duidelik dit uitgespel het, dat "aangesien die 1983 vertaling pas voltooi is en dus nog herformuleer kan word, is dit derhalwe nie geskik as bewysplaatse vir die belydenisskrifte en formuliere nie."
2. In 1991 het die Bybelgenootskap onomwonde aan al die kerke verklaar dat die 1983 vertaling nie weer hersien sal word nie, selfs al is daar ernstige beswaar oor die wegvertaling van Gods Verbondsnaam, Jahwe, HERE.
3. Ook die feit dat nóg die Bybelgenootskap nóg die vertalingskommissie nie die vrymoedigheid gehad het om voor in die 1983 vertaling die volgende neer te skryf nie, soos voor in alle Bybels staan: "DIE BYBEL Dit is die ganse heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die OU EN NUWE TESTAMENT bevat oorgesit uit die oorspronklike tale."
Dit staan ook so voor in die 1933/53 Bybel. ‘n Blote vertaling kan nie as Woord van God kwalifiseer nie. Die 1933/53 Bybel is oorgesit uit die oorspronklike tale. As voorbeeld, so het deur die eeue die Latynse Vulgata, Vulgata gebly en is nie eers deur ‘ n Roomse Konsilie tot Bybel verklaar nie, alhoewel hulle kerklike ampstaal Latyn was.
AANBEVELING
Die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Pretoria besluit dat by alle bediening van die Woord van God, slegs die 1933/53 Bybel gebruik sal word.
Ouderlinge AS du Plessis, D de Ridder, P van der Kooi, Di HT de Villiers en AH Mulder
(Deur die kerkraad goedgekeur op 23 Oktober 2003)