Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
WOORD EN WêRELD
Opstand en Opstanding
- DS (EM) LAMMERT STAVAST - POTCHEFSTROOM -
(Gepubliseer in DIE AFRIKANER, 9 April 2004
As ek kans kry, luister ek Sondagaande dikwels na die rubriek: "Oop Gesprek" op die radio. Soms is daardie gesprek nie so heeltemal "oop" nie, omdat die deelnemers dit eintlik al by voorbaat eens is oor die saak onder bespreking. Dan ontaard die gepraat maar net in ‘n heen en weer gekwetter soos van ‘n trop mossies: elkeen maak sy eie geluid, maar op die ou end is al wat jy weet: dit was almal maar net mossies, voëls van enerse vere!
Maar gisteraand was dit gelukkig ‘n bietjie anders. Daar was ‘n Rooms-Katolieke, ‘n Gereformeerde en ‘n Unisa-teoloog bymekaar en die vraag wat bespreek was, was die kernvraag wat die Heiland Self ook aan sy dissipels gestel het: "Wie, sê julle, is Ek?" (Matt. 16:15).En dan is dit Petrus wat (met instemming van die hele Kerk!) die Geesgedrewe antwoord gee: "U is die Christus, die Seun van die lewende God!" (Matt 16:16). Daardie antwoord was die fondament waarop die Kerk van alle eeue gebou is en waarop elke gelowige sy lewenshuis bou. Dis ook die fondament waarop ‘n Christen die politieke terrein vasheg.
In die loop van die eeue het mense baie keer moeite gehad met daardie stelling dat Jesus van Nasaret tegelykertyd God en mens is. Hoe moet ‘n mens dit verstaan? Hoe kan ‘n mens dit verstaan? Christus sê self: "…vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is." (Matt. 16:17).
Vanaf die eerste eeu na sy opstanding, tot die "Nuwe Hervorming" van Unisa se teoloë toe, het mense met allerlei geleerde terme probeer om daardie twee nature van Christus van mekaar los te torring. Hierdie blad is geen teologiese weekblad nie en daarom bespreek ek nie die verskillende teorieë wat ook teenswoordig weer die rondte doen nie. Wat ons vandag vanaf kateders en kansels hoor, ook in ons Afrikaanse kerke, wat in die gedrukte en elektroniese media, tot groot vermaak van die teïstiese politici van ons tyd en ons land, ten beste gegee word, is uitvloeisels van die sogenaamde Eksistensialisme wat langs die kronkelpad van die "Bevrydingsteologie" in ons kerke onderwysinrigtings en woonkamers binnedring. Jesus Christus is dan hoogstens – ek het dit gisteraand weer uit Unisa-mond gehoor – iemand wat soveel eeue gelede op sy manier in opstand gekom het teen die politieke en sosiale onreg van sy tyd en ten slotte daarvan self die slagoffer geword het. Ons kan Hom binne die raamwerk van ons moderne eeu volg in die beginsels van sy stryd om die verkeerde strukture van ons tyd af te breek, maar daar bly dit dan ook by. In daardie gesprek het sowel die Roomse, asook die Gereformeerde teoloog telkens verwys na die opdrag van die "Vader in die hemele": die Verlosser is gestuur om ons sondes te versoen. Daarvoor moes Hy ly en weer opstaan uit die dood. "Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?" (vgl. Luk 24: 25-27). Die Unisa-teoloog het gedurig half ergerlik gereageer deur te sê: "Wat praat julle tog elke keer oor sonde en versoening? Dis mos glad nie waaroor dit gaan nie."
In die "Bevrydingsteologie" is Jesus die opstandige, iemand soos Che Guavara en Mandela en sulkes. En dan is daar vir die idee dat Hy God en mens tegelykertyd is, natuurlik geen plek nie. Dan het Hy vir ons tyd ook hoogstens ‘n soort morele gesag vanweë sy edele, maar ook ydele strewe na ‘n beter bestel vir die verdruktes van sy tyd. Vir ons wat maar eenvoudig glo in Hom wat die waaragtige Seun van God is, is Hy nie die opstandige mislukking van 2000 jaar terug nie, maar die Opgestane Here aan Wie gegee is alle mag in die hemel en op aarde (Matt. 28:18). Ons vier weekliks as sy gemeente sy opstanding en jaarliks die opstandingsdag met Paasfees. En oral waar ons besig is, is Hy ons Koning, die Christus, die Seun van die lewende God. En Hy sê: "Salig is jy!" So stap ons as Christen-Afrikaners agter ons lewende Koning aan, totdat Hy weerkom!