Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
Gesprek met die Lesers
IS DAAR VREDE?
Uiteraard lees ek die koerante en kyk televisieprogramme (vir sover ek tyd daarvoor kan inruim) om ingelig te wees oor die verloop van sake in ons land. Soos ek dit waarneem lewe ons in 'n tyd van ongebondenheid. Die openbare lewe wat ten toon gestel word loop oor van sonde en ongeregtigheid. Die Suid-Afrikaanse samelewing is, soos mens daarna kyk, behep met materialisme, sport en losheid van sedes wat op talle wyses tot uitdrukking kom. In humanistiese verdwasing word die mens opgehef tot die selfbeskikker van sy lotgevalle. Die lotto en ander prysdelende projekte, op die televisie en in advertensies in die koerante, het reeds ver gevorder om die geldsug aan te wakker. Bioskoopprogramme loop oor van sensasie. Die politieke nuus vermeld hoofsaaklik die bevordering van die ANC se doelstellings om ons land te oorheers en te beroof van Christelike norme vir die wetgewing wat resulteer in die samelewing. Beteken dit vrede? Allermins! Vrede in Bybelse sin, daal van bò-af neer en bewerk vrede tussen God en sondige mense, versoen deur die offer van Christus aan die kruis.
DRINGENDE VERSOEK
As gevolg van waarskynlik 'n bloeding in die binnekant van my linkeroor is ek reeds vir 'n jaar gepla met 'n voortdurende gesuis wat volgens die oorspesialis ongeneesbaar is. Dit sal ook tot uiteindelike doofheid lei. My regteroor se gehoor is sedert my kinderdae as gevolg van 'n kindersiekte baie swak (omtrent 30 %), sodat ek veral in vergaderings en geselskappe, ook in kerkdienste, nie meer skerp kan hoor nie, wat vir my uiters hinderlik en frustrerend is. My regteroor kan wel beter funksioneer en dit sal ook die impak van die suising in die linkeroor verminder, volgens toetsing wat gedoen is, as ek 'n inset-oorfoon aanskaf. Die koste is egter dermate hoog, volgens kwotasie ten minste R8 000, wat nie uit my siekefonds voorsien word nie en waarvoor ek nie nou self oor die fondse beskik nie. My versoek aan die lesers is of daar nie iemand is, wat beskik oor 'n gebruikte insit-oorfoon wat oorgebly het, wat dalk aangepas kan word om die plaag van my gehoorprobleem te verlig. Skakel asseblief met my as u kan help. By voorbaat baie dankie! P van der Kooi.
ADMINISTRASIE
Dis 'n verblydende ervaring om die getal intekenare op ons blad maandeliks te sien groei. Die teiken wat ons graag wil bereik, kom naderby. As die getal duisend oorskry kan die Poskantoor dit as massapos hanteer en hoef daar vir die versending geen posseëls meer frankeer te word nie.
Verskeie intekenaar-lesers het die moeite gedoen om nuwe intekenare te werf. Ons het ook van talle lesers terugvoering ontvang dat hulle belangstellendes en "rooflesers" aanmoedig om in te teken, wat helaas nie altyd suksesvol is nie. Terwyl ons blad feitlik die enigste krities-behoudende Afrikaner-volkseie kerklike orgaan binne die gereformeerde gesindte is, is ons oortuig dat daar 'n behoefte bestaan wat nog glad nie sy volle potensiaal bereik het nie. Baie dankie ook vir bemoediging en waardering wat aan ons redaksie toegeken word.
Registreer asseblief op die adres-plakkertjie van die gedrukte uitgawe die nommer van die laaste jaargang wat u finansieel ondersteun het. Die huidige jaargang is 8. Hartlike dank vir almal wat tot hiertoe bygedra en ondersteun het.