Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
KERKLIKE JOERNAALNUWE PSALM-OMDIGTING GETOETS DEUR PREDIKANTE VAN GEREFORMEERDE KERK RIETVALLEI, PRETORIA
Verslag van predikante
Die predikante het verder ondersoek gaan doen in die Nuwe Beryming van die Psalms, soos dit hulle opdrag was.
Die Skrifbeskouing wat as vertrekpunt vir die omdigting gegeld het,is aan die hand van ons Gereformeerde belydenisskrifte geweeg (kyk in besonders die Geloofsbelydenis van Nicéa; artt 2-7 van die NGB; HK, Sond 6 vr/antw 18 & 19).
Enkele psalms in die nuwe beryming is ook indringend eksegeties getoets met behulp van kenners op die gebied. Hierdie toetsing is nie toegespits op die digterlike kwaliteit van die omdigters, iets wat nie hier ter sprake kom nie. Daar is ook nie gepoog om die meriete of karakter van die Ou Beryming in vergelyking met die Nuwe Beryming te bring nie.
Die bevinding is dat die Nuwe Beryming van die Psalms 'n ernstige probleem skep ten opsigte van die Gereformeerde Skrifbeskouing en belydenis op verskeie punte wat uitvoerig gemotiveer is.
Aanbeveling (aanvaar deur die kerkraad)
1.1 Dat, as gevolg van gestelde motiverings die nuwe omdigting van al 150 psalms nie in Rietvallei Gereformeerde gemeente gebruik word nie, en dat daar gewag word op die hersiening van die 1936 beryming.
1.2 Dat, indien lidmate van mening sou wees dat afsonderlike psalms in die Nuwe Omdigting wel voldoen aan die kriteria van Skrifgetrouheid soos (positief of negatief) uiteengesit, hulle met 'n deeglike Skriftuurlike motivering na die Kerkraad toe kom vir 'n toetsing van sodanige psalms.
1.3 Dat Rietvallei gemeente die Gereformeerde Kerke van die Part Sinode Pretoria uitnooi om oor dié saak 'n ope gesprek te kom voer, aan die hand van twee inleiers (voorgestelde datum: Saterdag 1ste Mei 2004).