Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
KERKLIKE JOERNAALKERKRAAD VAN GEREFORMEERDE KERK PRETORIA
("PAUL KRUGERKERK")
VERWERP BESLUITE VAN NASIONALE SINODE 2003
VERKLARING
Die Gereformeerde Kerk Pretoria verklaar, na 'n vergadering op 14 Maart 2004 van die Kerkraad met die gemeente, só in heilige erns voor ons Verbondsgod:
Tot op hede is geen beswaar ontvang nie en word die verklaring gemaak:
1. Sedert die stigting van hierdie gemeente op 8 April 1859, is vir bykans een-en-'n-halwe eeu by die beginsels wat tot die afstigting van die Gereformeerde Kerk gelei het gehou by die Bybelse waarhede, belydenisskrifte en die kerkorde. Dit het die Gereformeerde Kerk staande gehou teen alle aanslae van die Satan en dwalinge en het elke lidmaat voor God en sy gemeente dit openlik bely.
2. In ons liturgie handhaaf ons die orde soos neergelê in besluite van Nasionale Sinodes sedert 1955 tot 1964, met die bekende geloofsbelydenis, die sing van die Totiusberymings en die Skrifberymings, en die gebruik van die 1933/53 Bybel en met die seëngroet in die Naam van ons God Drieënig. Verder het ons steeds die eenvormige gebruik dat die broeders staan tydens die gebede. Tydens die gemeentesang staan die gemeente ook almal.
3. Met die besluite wat geneem is buig ons in ootmoed voor die Woord van God volgens Jeremia 6:16, waar God beveel dat die ou en goeie paaie gesoek en gehou moet word, soos Christus ook vir ons bid in Johannes 17:17: "Heilig hulle in u waarheid; U Woord is die waarheid." Daarom verander ons nie in besluite terwille van verander nie, maar alleen as dit tot eer van God sal wees EN REFORMEREND.
4. Ons bely met die NGB, artikel 32, dat ons alle menslike versinsels wat mense wil invoer om ons gewetens te bind, verwerp en bely met artikel 29 waar die kenmerke van die ware kerk uitgespel word as: "daar waar die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik word om die sondes te straf ..."
5. Hierdie besluite word deur die Kerkraad gehandhaaf omdat ons oortuig is dat die Nasionale Sinode onskriftuurlike besluite geneem het en ook oor die wyse waarop besluite geneem is wat stry teen artikels 30, 31, 53, 69, 84 en 86 van die kerkorde.
Voorneme van optrede:
Die besluite gaan ons aan die kerkverband bekendmaak om as suiwer getuienis uit Gods Woord te laat hoor.
As daar beswaarskrifte op die volgende Nasionale Sinode gaan dien oor sake wat ons oor beswaar het en ons ons met die inhoud kan vereenselwig, sal ons dit steun, anders sal onsself beswaar moet maak.
Alle bestaande besluite sal in die erediens, huisbesoek en katkisasie gehandhaaf word aan die Woord van God asook die bestaande Kerkorde en Belydenisskrifte soos vervat in die Drie Formuliere van Eenheid.
Lidmate wat na ons gemeente oorkom, sal duidelik oor die genoemde besluite ingelig word.
Die Kerkraad en gemeente wil elke gemeente oproep om trou te bly aan ons Gereformeerde erfenis en met alle ywer die Woord van God te ondersoek en die Woordverkondiging op te soek en van harte te bid vir die Kerk oor die ganse aarde: Dat die Kerk bewaar sal bly in die tyd van afval. Dat God die Kerk sal vermeerder om bewaar te bly by die waarheid en suiwerheid van die Woord. Dat die getal van die uitverkorenes vol mag word. Dat die verskeurdheid wat daar op die oomblik is, deur Gods krag geheel mag word. Mag God ons daartoe help!
Namens die Kerkraad en gemeente, onderteken deur:
Ds HT de Villiers (voorsitter) Oudl AS du Plessis (skriba)