Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
KERKLIKE JOERNAALHUMANISTIESE MENSVERHEERLIKING DEUR MIDDEL VAN DIE MEDIA
Amanda Botha skryf in KRUISPUNT (NG blad oor kerk- en geloofsake - 25/26/27 Maart 2004, bl 14) oor Suid-Afrikaanse "glanspersoonlikhede", onder andere soos volg:
Glanspersoonlikhede verkoop koerante. Die aandag word op persoonlikheid en prestasie gevestig. Die laaste klompie weke het die kollig skerp geval op ons megaster, Charlize Theron, wenner van die gesogte Oscar. Dit was 'n inspuiting van goeie nuus soos ons nog selde ervaar het.
Die aanbiedings oor nuuswaardighede van Theron het baie positiewe aspekte beklemtoon. Sy is 'n rolmodel. Haar boodskap is konsekwent: volg jou droom, werk hard, styg bo die omstandighede van jou verlede uit om verdriet en verlies as boustene vir 'n nuwe toekoms te gebruik, gooi die mantel van martelaarskap af en omhels die lewe.
Twee aspekte is ewe belangrik: die voorbeeld wat sy stel as positiewe rolmodel vir die verhouding van respek en erkenning aan haar moeder en ook dat sy deur liefdadigheidswerk wil fokus op die onaanvaarbare gedrag van geweld en spesifiek verkragting van vroue.
In die afgelope dekade van demokrasie was daar ver-skillende Suid-Afrikaanse glanspersoonlikhede wat die aandag getrek het. Nie almal ewe positief nie, maar wat ons land tog onderstreep as 'n teelaarde vir suksesvolle mense. Hieronder tel ons Nobelpryswenners, wetenskaplikes, kunstenaars, skrywers en sportsterre. Ons sakelui ding internasionaal suksesvol mee en oud-pres Nelson Mandela is tot wêreldikoon verhef. Sonder die aandag van die media sou die goeie nuus nooit deel van ons huishoudelike gesprekke kon geword het nie. In hierdie verband het die media 'n belangrike rol gespeel in die bou van patriotisme. Via die media word ons toegelaat om so die beste waartoe die menslike gees in staat is, te vier. ...
Waaroor dié besinning? Om opnuut na te dink oor die rol van die media, die hantering van nuus, die deurgee van inligting en die waarde daarvan. ...
Die media erken die ongewone - die kerk behoort die gewone te erken. Die terrein van die kerk is ook om die lewenshelde van elke dag te erken en te inspireer. ... As die kerk omsien na die lewenshelde, sal die prestasievermoë van gewone mense wat die ongewone verrig, groei.
Kommentaar: Dis 'n bedenklike op die mens gerigte, 'n nie op God en sy beskikking gerigte lewensbekouing wat in hierdie NG blad-artikel gehuldig word.