Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYSTEPHANUS JOHANNES PAULUS KRUGER
In lewe Staatspresident van de Zuid-Afrikaansche Republiek
Sag heengegaan op 14 Julie 1904 te Clarens, Switserland
- Naskrif in "Die Gedenkskrifte van Paul Kruger". 1947. Pretoria: Van Schaik, bl 241vv. -
(Geskryf deur dr Jan Ploeger)
Op 10 Desember 1901 het die president intrek geneem in die villa "Oranjelust" te Utrecht (Nederland).
Hy het daar gewoon tot Oktober 1902; met ander woorde, tot 'n paar maande na die Vrede van Vereeniging waardeur die Tweede Vryheidsoorlog afgesluit is en die Zuid-Afrikaansche Republiek uit die ry van onafhanklike state en selfstandige moondhede verdwyn het.
Om die onaangename Nederlandse winter te ontvlug het die oud-president in bogenoemde maand na die sonnige suidkus van Frankryk verhuis om daar, te Menton, in die villa "Gena I" te vertoef.
In Mei 1903 is hy vervolgens terug na Nederland. Waar hy in die verlede in Utrecht gewoon het, daar het nou die rustige en mooi dorp Hilversum die eer gehad om die oud-president onder sy inwoners te mag reken..
Die oud-president het tuisgegaan in die villa "Casa Cara" om, met die aanbreek van die herfs, in Oktober 1903 weer sy villa te Menton te betrek.
Ondanks die voortreflike klimaat van die Rivièra en die pragtige omgewing het die gesondheid van die oud-president agteruit gegaan en is dit wenslik geoordeel om na Switserland af te reis.
In die somer van 1904 het die oud-president en die wat hom omring en versorg het in die villa "Villas des Prierriers" te Clarens verskyn.
Clarens lê naby Montreux aan die beroemde Meer van Genève en in die beskrywings lees mens dat die verblyfplek van die oud-president 'n pragtige uitsig op die meer gebied het.
Daar het die oud-president onder meer 'n telegram van genl Louis Botha ontvang. Dit was die gevolg van 'n besluit wat die "Het Volk"-kongres in Mei 1904 met algemene stemme te Pretoria geneem het. Die vergadering het aan genl Botha opgedra om - namens die kongres - die hartlike groete te stuur aan "onzen gewezen ouden Staatspresident" en die innige leedwese uit te spreek dat S.H.Ed. die groete nie in sy land en in die kring van sy familie, vriende en stamgenote kan ontvang nie.
Die oud-president het sy privaat sekretaris, mnr HC Bredell, versoek om dr WJ Leyds te vra om 'n passende konsep-antwoord op te stel.
Dr Leyds het aan die versoek voldoen en behoudens 'n paar woordjies het die oud-president die ontwerp goedgekeur.
In 'n brief aan genl Louis Botha het mnr Bredell die gewysigde en goedgekeurde brief van die oud-president beskryf as synde "eigenlijk een soort van politieke manifest - of wat men het ook noemen wil - doch zeer zeker zijn het woorden die uit zijn hart komen - oprecht en welgemeend".
Tewens het die oud-president die mening uitgespreek dat, indien genl Botha geen beswaar daarteen het nie, dit goed sal wees om die brief in sy geheel byvoorbeeld in "Die Volkstem" te publiseer.
Dit is - in kort trekke - die agtergrond van die brief wat vandag algemeen as "Die Laaste Boodskap" van president Kruger bekend staan. Die brief is gedateer 29 Junie 1904 en eiehandig deur homself onderteken.
Op 9 Julie is die oud-president aangetas deur longontsteking en op die veertiende van dieselfde maand het hy die tydelike met die ewige verwissel. Die afsterwe is deur die familie in die volgende bewoording in die vorm van 'n roubrief aangekondig:
Overleden op den 14de Julie 1904, om 3 uur 's mor-gens de Hoog Edele Heer Stephanus Johannes Paulus Kruger, geboren in het district Colesberg, Kaap Kolo-nie, Zuid-Afrika, op den 10de October 1825, in leven Staatspresident der Zuid-Afrikaansche Republiek.
Namens de familie,
de Heer en Mevr. F.C. Eloff-Kruger.
Clarens, Zwitserland, 14de Juli 1904
Die liggaam van Stephanus Johannes Paulus Kruger is na Nederland vervoer en op die begraafplaas "Eik en Duinen" (Den Haag) voorlopig ter aarde bestel. Koningin Wilhelmina van die Nederlande het 'n verteenwoordiger gestuur om die plechtigheid by te woon terwyl, behalwe verskillende familielede van die oorledene, die ou strydmakker en ampsbroeder van die oorledene, oud-president MT Steyn; dr WJ Leyds, dr Hendrik PN Muller en verskeie ander hooggeplaaste persone by die plegtigheid aanwesig was.
Op passende wyse het die Nederlandse blad "Het Nieuws van den Dag" by die dood van die oud-president geskryf:
"Dat het stil zij om deze sterwenssponde! Dat niemand hier nadere, dan onhoorbaar en het hoofd ongedekt! Hier is de majesteit des doods gekomen om de majes-teit te vervangen van een heldenleven."
Hoe toepaslik is bostaande ontboeseming ook in verband met die plegtigheid op "Eik en Duinen".
Reeds voordat die liggaam in Nederland tydelik aan die skoot van die aarde toevertrou is, het genl Louis Botha op 18 Julie aan mnr Bredell meegedeel dat die Transvaalse owerheid gehoor gegee het aan die wens dat die oorledene in Transvaalse aarde sal rus.
As datum van die plegtigheid, wat in die Transvaalse hoofstad sou plaasvind, is uiteindelik 16 Desember vasgestel.
Deur bemiddeling van dr WJ Leyds het die "Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging" die skip "Batavier VI" ter beskikking gekry om die lyk na Suid-Afrika te vervoer.
'n Nederlandse kommissie, bestaande uit: dr WJ Leyds, mnr GAA Middelberg en dr A Heymans (die lyfarts van die oorledene) het die transport vergesel. Oud-onder-admiraal N Macleod, van die Nederlandse Marine het gedien as gesagvoerder van die skip. Op 1 Desember 1904 het die vaartuig in Kaapstad aangekom.
Daar is die kis, namens die hoofkommissie en reëlingskommissie, in ontvangs geneem deur genl Louis Botha.
Op 6 Desember is die lyk opgebaar in die Groot Kerk in Adderleystraat. Dienste en toesprake is gehou en die volgende dag het die reis na die Transvaalse hoofstad begin.
Deur sy geliefde Suid-Afrika het Paul Kruger, in lewe staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek, die laaste reis na sy tuiste in die aarde van Transvaal, in die nabyheid van sy aardse woning en in sy geliefde Pretoria, voltooi.
Op 10 Desember is die Transvaalse hoofstad bereik en is sy lyk opgebaar in die Suzannasaal.
Verskillende godsdienstige samekomste is gehou, treurdienste en ander byeenkomste het voldoende bewyse gelewer vir die liefde en agting vir die ontslapene ... .
Ses dae later, op 16 Desember 1904, het die plegtige teraardebestelling plaasgevind.
Na 'n lang, wisselvallige en veelbewoë lewensloop het 'n man en mens rus gevind, van wie dr WJ Leyds in 1904, kort voor die heengaan van sy geliefde president getuig het:
"Welk een stuk geschiedenis zal met hem verdwijnen! Verdwijnen voor ons oog, want leven zal die geschiedenis tot in eeuwigheid."
'n Dag na die teraardebestelling het, in die kolomme van "Die Volkstem", die antwoord van die oud-president op die brief van genl Louis Botha verskyn ...
Daarna het dit stil geword. Stephanus Johannes Paulus Kruger het in Transvaalse grond gaan rus van die vermoeienisse van die lewe ...
DIE LAASTE BOODSKAP VAN PRESIDENT KRUGER
(Uittreksels)
Waarde Generaal,
Het is my een groot voorrecht de ontvangst te kunnen erkennen van uw kabelgram van den 25 Mei en uwen brief van den 29n dierzelfde maand, waardoor mij de groet wordt overgebracht van het congres van 23 tot 25 Mei, te Pretoria gehouden.
By alle treurigheid en leed, die mijn lot zijn, stemde mij deze groet tot dankbaarheid. En van ganscher harte dank ik allen die, tezamen gekomen om te beraadslagen over het heden en de toekomst, gedacht hebben aan hunnen ouden Staats President en daardoor getoond hebben het verledene niet te hebben vergeten.
Want wie zich een toekomst scheppen wil, mag het verledene niet uit het oog verliezen.
Daarom: Zoekt in het verledene al het goede en schoone, dat daarin te ontdekken valt, vormt daarnaar uw ideaal en beproeft voor de toekomst dat ideaal te verwezenlijken. ...
Geboren onder de Engelsche vlag, wensch ik niet daaronder te sterven.
Ik heb geleerd te berusten bij de bittere gedachte de oogen te zullen sluiten in den vreemde als een balling, bijna geheel alleen, ver van bloedverwant en vrienden die ik waarschijnlijk nooit zal wederzien, ver van de Afrikaansche grond die ik wellicht nooit weer betreden zal, ver van het land waaraan ik mijn leven gewijd heb om het te openen voor de beschaving en waarin ik een eigen natie zag ontwikkelen.
Maar de bitterheid zal worden verzacht, zolang ik de overtuiging mag blijven koesteren dat het eenmaal aangevangen werk wordt voortgezet. Want, dan houden mij staande de hoop en de verwachting, dat het einde van dat werk goed zal wezen. - Zoo zij het.
Uit die diepte van mijn hart, groet ik u en het gansche volk.
SJP KRUGER Clarens (Vaud), Suisse, 29 Junie 1904