Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

AKTUEEL: Thabo Mbeki dien die voorvadergeeste!       

SKRIFOORDENKING:
Harte wat deur Gees en Woord aan die brand gesteek is, maak geslote oë oop

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Why a Reformed Christian May Not Attend the Movie: "The Passion of the Christ"

Waarom Doleansie? Prof H van der Wateren - GK Waterberg (Dolerend)

Die 2001 - Psalmomdigting Christus Self is in gedrang

Multi-Religieuse Polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing

Verplig om by die ware Kerk aan te sluit Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk") Verslag en voorstel aan kerkraad oor slegs die gebruik van die 1933/53 Bybel

1994 - 2004 Die Kerk in 'n nuwe bedeling

Woord en Wêreld : Opstand en opstanding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Psalm-omdigting getoets deur predikante van GK Rietvallei, Pretoria

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") verwerp besluite van Nasionale Sinode 2003

Massale demonstratiewe multi-kulturele sinkretistiese gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Mei 2004

Sektariese Bygelowigheid

Humanistiese mensverheerliking deur middel van die media

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Nie uit waardes maar uit wortels

Nuus uit die VSA

Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys

Mediaverklaring : Kommunisme vervang Christelikheid as norm

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
SJP Kruger : Sterfdag 14 Julie 1904

PERSRUBRIEK: Ds LS Kruger antwoord redakteur van die Kerkblad

Ons Griekse teks van die Nuwe Testament

Op soek na één wêreld 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Knegskap en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 3 Mei 2004

MEDIESE ETIEK

KNEGSKAP EN DIE GENEESKUNDE

-  DR MC DURAND  -

Wie dien die arts wanneer hy ‘n pasiënt behandel?

Dien die arts eerstens homself? Is hy besig om daardie duur motor of huis in die luukse woonbuurt te betaal? Moontlik dien hy sy pasiënte eerstens? Bind die sogenaamde Hippokratiese eed die arts dan nie om aan sy pasiënte toegewy te wees nie? "Buitendien" herinner een pasiënt my `n ruk gelede "pasiënte het ook regte". Óf dien die arts sy vak - die mediese wetenskap - eerstens? Want met elke diagnose en behandeling word die geneeskunde as sulks ook bevorder. En dit is ook so. Daar was oor die afgelope duisende jare immers vordering in die geneeskunde gewees.

Elkeen van hierdie drie benaderings sal sy aanhangers hê. Selfs in die kerk sal elkeen verdedig kan word. Die arts wat die wetenskap van geneeskunde dien sal dit kan rasionaliseer onder die vaandel van die kultuuropdrag. Die arts wat die pasiënte dien sal dit kan verdedig onder die vaandel van naasteliefde. Die arts wat homself wil dien sal hom kan beroep op sy verantwoordelikheid om sy eie talente te ontplooi en om goed vir sy gesin te sorg (en nog oor te hê vir die armes). Les bes sal iemand selfs kan dink om elke benadering ‘n plekkie te gee. ‘n Goeie arts sal vir ‘n deel die wetenskap dien, vir ‘n deel homself dien en vir ‘n deel sy pasiënt dien. So lank hy nie iets te veel of te min sou doen nie. Die goue middeweg natuurlik!

Die probleem kan ook anders opgelos word. Elke deel van ons lewe, ook ons gedagtes moet ons in die lig van die Skrif ondersoek. So moet ons ons gedagtes oor diens ook ondersoek.

Werk is eerstens gehoorsaamheid

Die mens het in die Paradys van God sy opdrag gekry om die aarde te bewerk. Genesis 2:15: Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. Daar waar God die mens aangestel het, het Hy ook die mens die plig opgelê om te werk. Nadat God sy skeppingswerk voltooi het, gebied Hy die mens om in die skepping te werk en dit te ontplooi. God het die skepping goed gemaak. Hy het dit nie klaargemaak nie. Daar is werk om te doen!

Wat ookal die mens in die natuur gesien het om te verander, wat ookal die talente en nuuskierigheid van die mens was, wat ookal die dinge was wat hy kon weet en uitwerk - uiteindelik moes al hierdie besluite, kennis en begeertes aangewend geword het om gehoorsaam te wees aan God se opdrag om te werk. Na die sondeval kom hierdie opdrag om te werk uitdruklik na ons in die vierde gebod: Eksodus 20:9: Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen.

By die gelowige is werk nie eerstens die uitlewing van vermoëns, die onderhoud van die gesin, die verligting van die pyn van die naaste, of die bevordering van die wetenskap nie. Al hierdie dinge mag gebeur as seëning. Maar al hierdie dinge mag ook buite die bereik van die mens bly. Werk bly steeds in die eerste plek gehoorsaamheid aan God. So het die arts die taak tot geneeskunde solank as wat daar pasiënte is.

Werk is onvermydelik diens

Die woord wat in die Skrif gebruik word vir "om te bewerk" is awad. Die woord awad beteken nie net om te bewerk nie, dit beteken ook om te dien. Indien ons daaraan dink dat werk in die Paradys en by gelowiges `n uiting van gehoorsaamheid is - dan is die maklik om te verstaan dat gehoorsame werk terselfdertyd ook diens aan God is. Die bewerking van die aarde word deel van die mens se verhouding met sy  Skepper. Die gelowige is `n kneg van God.

Selfs by die ongehoorsame mens - naamlik die mens wat nie wil werk omdat dit God is wat hom eerstens gebied om te werk nie - sal sy werk ook ‘n uiting van diens wees. Maar hy sal nie God dien nie. Die ongehoorsame mens sal alles behalwe God dien.

Die ongehoorsame arts sal homself bedien met rykdom. Die ongehoorsame arts sal sy pasiënte dien. Enigiets wat die pasiënt hom vra sal hy doen - geslagsveranderings, talle kosmetiese operasies, aborsies, eutanasie, siektebriewe op bestelling invul en selfs kremasievorms invul. Die ongehoorsame arts sal sy drome oor die wetenskap van geneeskunde dien. Elke vorm van werk is uiteindelik diens - maar net die gehoorsame werk kan diens aan God wees.

Gehoorsame diens is nie sonder gehoorsame bewaring nie

Weer eens Genesis 2:15: Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. Reeds in die Paradys kry die mens die opdrag om die skepping te bewaar. Daar mag nie skade aan die skepping kom nie.

Na die sondeval het daar veranderinge gekom. Die hele skepping is vervloek. Die dood het in die skepping ingekom. Daar is lyding. Daar is siektes. Daar is pyn.

Die gehoorsame arts is as dienaar van God geroep om sy taak uit te voer. Hy sal uit die skepping middele ontdek en aanwend tot die bewaring van sy medemens. Hy sal baie ure spandeer om die werking van die gesonde mens en die wanwerking van die siek mens te wete te kom. Hy sal siektes beveg en wonde verbind.

Na die sondeval het die taak tot werk ook moeiliker geword. Daar is luiheid, hebsug, en frustrasies. Die gehoorsame arts sal daarom as gehoorsame dienaar van God veg teen die die druk van sy pasiënte om slegs ‘n kliëntediens aan te bied. Hy sal veg teen sy eie en sy pasiënte se luiheid. Hy sal veg teen hebsugtige begeertes.

Ten slotte

Geen kneg van sy drome, sigself of medemens nie - maar eerstens as kneg van God sal die gehoorsame arts werk én bewaar in gehoorsaamheid. God sal in liefde en genade hierdie werk, ten spyte van die gebreke daarin, seën met toenemende kennis, verligting van lyding, genesing en inkomste.