Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
OPVOEDING EN ONDERWYSNUUS UIT DIE VSA
Kerk, Skool en Huisgesin in die VSA
- DS FREDDIE BURGER (VSA) INN DIE BOODSKAPPER, JANUARIE/FEBRUARIE 2004 -
Daar is drie woorde wat 'n mens in enige volgorde kan sê en dieselfde mistieke band sal hulle ewe sterk aan mekaar bind. Kerk, Skool en Gesin is inderdaad die drie pilare waarop die samelewing gebou word en as een aangetas word, dan word al drie geraak. In die tye waarin ons leef, is die aamvalle op al drie baie heftig en skerp. In die VSA word, net soos in ander lande, ook verwoede aanvalle op al hierdie instansies geloods. Aangesien die liberalisme uit Amerika neig om na die RSA oor te waai, is dit nodig om kennis te neem van wat in Amerika gebeur.
Die VSA het alreeds in 1791 in die eerste wysiging van die Grondwet kerk en staat van mekaar geskei, maar ook die regte van die enkeling om in vryheid te aanbid, beskerm. Die skeiding van kerk en staat was nodig omdat sekere kolonies selfs sover gegaan het om mense tereg te stel wat anders as hulle aanbid het. Hierdie skeiding het aanvanklik nie die skole geraak nie en die vennootskap tussen kerk, skool en gesin was stewig.
'n Besluit van die New Yorkse owerhede in die 1950's het egter alles verander. Die Skoolraad het 'n modelgebed aan skole gestuur wat onder leiding van die onderwyser in die klaskamer gebid moes word. Die gebed lees soos volg: Almighty God, we acknowledge our dependence upon Thee, and we beg Thy blessings upon us, our parents, our teachers and our Country.
Alhoewel dit nie verpligtend was vir alle leerlinge nie, het die skoolraad tog gesê dat die gebed onderskryf sal word deur "all men and women of goodwill". Die implikasie is duidelik dat mense en kinders wat nie die gebed onderskryf nie, nie mense "of goodwill" was nie. Hierteen het tien ouers beswaar gehad en die saak hof toe geneem. Hulle het aanvanklik die onderspit gedelf in die howe en het uiteindelik by die Hoërhof appèl aangeteken. Ten spyte van groot ondersteuning van die formele en informele sektore het die bekende uitspraak in 1962 (Engels versus Vitale) ten gunste van die tien ouers besluit en verklaar dat gebede in die openbare skole onkonstitusioneel is.
Hierdie beslissing van die Hoërhof vind vandag nog weerklank in Amerikaanse skole en het die onderwysstelsel wêreldwyd as liberaal en ongelowig gebrandmerk. Oorywerige onderwys-amptenare het dadelik aan die werk gespring en alles wat na godsdiens lyk of ruik verbied. Hierdie stap het kerk, skool en gesin onverhoeds en onvoorbereid getref, die liberale minderheid het geseëvier en baie Christene het maar aanvaar dat godsdiens op skoolterreine verbode was.
Daar was egter en is nog steeds baie gelowige Amerikaners wat nie die toedrag van sake gelate aanvaar het nie. Een van hierdie groepe is die Good News Club wat Bybelstudieklubs op skoolterreine begin het en onmiddellik deur die owerhede verbied was. Die howe het ook aanvanklik teen die klubs besluit, maar met die hulp van die Center for Religious Freedom het hulle in die Hoërhof geseëvier. Daar is bevind dat die hof in 1962 nie godsdiens op skoolterreine verbied het nie, maar amptelike godsdiensbeoefening deur skoolowerhede verbied het. Wat opvallend was, is dat die klubs nie die klousule oor vryheid van godsdiens gebruik het nie, maar die reg tot vrye spraak. Die hof het bevind dat indien 'n skool enige aktiwiteite soos Boys Scouts, Bestuur Klubs ensovoorts toelaat, dan moet hulle die Bybelstudie Klubs ook toelaat. Kinders mag ook by die vlagpaal bid, maar nie onder leiding van onderwysers nie. Godsdienstige vakke mag wel by skole aangebied word, maar dan nie as geloofsinhoud nie - wel in historiese konteks.
Sommige godsdienslleiers is nie ten gunste van godsdiensonderrig op skool nie aangesien daar min of geen kontrole is oor watter leerstellings beklemtoon word nie. Dit is ook in Suid-Afrika 'n probleem dat sekere onderwysers óf die tyd gebruik vir tuiswerk óf om hulle eie oortuigings op kinders af te dwing. Die feit is dat die liberale aanslag op skole al feller word en dat die howe al meer liberale uitsprake lewer. Goeie voorbeelde hiervan is onlangse gebeure in verskillende state. In die staat New York het skoolowerhede pas besluit dat die geboortetoneel van Jesus nie vertoon mag word nie aangesien dit die meerderheid se geloof in die kele van die minderheid afdruk. Moslems en Jode mag egter wel hulle simbole vertoon. In sommige state mag kinders nie op skoolgrond vir mekaar "merry Christmas" toewens nie, maar verdien ekstra krediete as hulle met Ramadan vas om te wys hulle verstaan die Moslemgeloof. Dissipline word op dieselfde wyse vernietig. In die dorp Mount Pleasant het 'n 16-jarige skoolseun in 'n openbare skoolkafetaria die skoolhof 'n "skank" (hy kon nie eens "skunk" reg spel nie) en 'n "tramp" genoem. Hy is vir tien dae geskors, alreeds 'n ligte straf. ACLU (American Civil Liberties Union, 'n uiters liberale liggaam wat liberale regters gebruik om die wil van die minderheid op die meerderheid af te dwing) het hiervan gehoor en namens die seun by 'n federale hof appèl aangeteken en die saak gewen op grond daarvan dat die seun 'n parodie geuiter het. Die seun kan waarskynlik nie eers "parody" spel of verstaan nie. In Housten alleen het al meer as 70% van alle onderwysers onder vloekwoorde deurgeloop en kan niks daaraan doen nie.
Die afbreek van die Christelike gemeenskap is duidelik te siene in die gebeure alhier en die eise wat aan kerk en huisgesin gestel word, word al groter. Ouers kan nie meer hulle verbondsverpligtinge aan die skool en kerk oorlaat nie, maar moet meer aktief deelneem aan die geloofsonderrig van hulle kinders. Kerk en ouer is verplig om te sorg dat die geestelike weerbaarmaking van hulle kinders deur hulleself gedoen word. Die kind se geloofswaardes moet nou so sterk wees dat hulle die invloed by die skole uitoefen en self nie negatief beïnvloed word nie.
Een ding staan onomstootlik vas en dit is dat die skoolsituasie hier in die VSA en in die RSA nooit weer sal terugkeer na die goeie ou dae nie en dat die verpligting op kerk en gesin nou soveel groter is. Die geestelike terrorisme teen kerk, skool en huisgesin gaan net toeneem in felheid en onbeskaamde oneerlikheid en slegs 'n kerk wat onbeweeglik vasstaan op die Woord van God as enigste waarheid sal die aanslag kan oorleef.