Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
OPVOEDING EN ONDERWYSPRETORIASE AKADEMIE VIR CHRISTELIK-VOLKSEIE HOëR ONDERWYS
Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08
ONDERWYS EN OPLEIDING: 'N LAASTE GRENSPOS?
- HENRY DU PLESSIS - OPLEIDINGSBESTUURDER PA VIR CVHO - 6 APRIL 2004
As daar nog enige twyfel bestaan het, dan het Prof Kader Asmal se toespraak op 31 Maart 2004, seker die twyfel uit die weg geruim: "Onderwys en Opleiding blyk die laaste grenspos wat verower moet word". Die aanslag het lankal reeds begin, maar dit was subtiel, inhiberend en met enkele verdoeselde verwysings na die liberalisme, in teenstelling met wat dit werklik is. Noudat onderwys en opleiding in sy hand is, het die tipiese kommunistiese aanslag met oorgawe gekom. Binne enkele maande is al die universiteite in ‘n smeltkroes van vermenging saamgegooi tot waar hulle van alle identiteit ontbloot is. Selfs tegnikons (sogenaamde tegnologiese universiteite) is saamgeflans in hierdie babelse vermenging tot ‘n eenheidsplan van sosialistiese oorheersing van kennis en invloed. Die staat sal nou bepaal wat individue mag en nie mag leer nie!
Met tipiese kommunistiese tydsberekening is dan ook aangekondig: "Ten years of freedom and democracy .....ten years of transformation ....ten years of making history in education - achieving things that would have been beyond our wildest dreams a decade ago". Dit is fyn beplanning en ingrawing om die doodskoot te gee! Asmal verduidelik self: "Working together, with broad consultation, we have developed new policies and programmes for identifying values, nurturing lifeskills, addressing racism, promoting multilingualism, removing barriers to learning, restoring history, and understanding the role of religion in our schools."
Asmal gaan voort met sy lofbesinging aan die onheilige ondergrawing van die waardesisteem in Suid-Afrika; die aftakeling van die godsdiens en geskiedenis van Suid-Afrika en aan die "nuwe waardesisteem wat deur Afrika self daargestel word". Met ‘n feitlik kinderlike naïwiteit besing hy die lof van Afrika wat self sy geskiedenis geskryf het deur verwysings na vryheidsvegters soos Amilcar Cabral en Anton Lembede, Oliver Tambo, Walter Sisulu en Nelson Mandela. Tog verswyg hy die onderlig-gende ideologie waarna hy streef. Net om dit op 1 April wél te onthou: "The new higher education curriculum should be based on Karl Marx theory", soos aangekondig op ‘n konferensie in Pretoria.
Die skrif is aan die muur: Onderwys in ons eie taal, vanuit ons eie kultuur en veral vanuit die Christelike oogpunt in Suid-Afrika, se dae is getel. Die omsingeling het stadig gebeur, die rieme is stadig maar seker vasgetrek, toe kom die wetgewing oor hoër opvoedkundige instellings wat al die skape in een kraal jaag (makliker hanteerbaar sodat die merk van die dier finaal daarop ingebrand kan word), terwyl die meeste Suid-Afrikaners besig is om oor verskille in die politiek te redekawel; net so voor die verkiesing van 14 April. Terwyl daar na die spreekwoordelike splinter in "ons broer se oog" gesoek word, het die balk die oog van die onderwys getref. In 2006 sal die eerste groep skoliere matriek moet skryf, sonder die keuse van ‘n hoër- of standaard-graad eksamen. Soos iemand tereg opgemerk het: Daar is nou nie meer slim en dom kinders nie; sommer net kinders. Almal is skynbaar gelyk en standaarde nie meer belangrik nie.
Terwyl die volk skynbaar "goedgunstiglik die skuldgevoelens oor die onderdrukking en onregte van die verlede wil wegwens", word waardes prysgegee. Die kern van die probleem is dalk geleë in onbetrokkenheid by onderwys as bakermat vir voortbestaan. Daar is ‘n bewustheid oor die politieke en diplomatieke stryd in Suid-Afrika, kritiek teen verhoudings met Mugabe en ander militante ingrypings in Afrika; grootskaalse nuwe maatreëls om menseregte te beskerm en sosiaal aanvaarbare norme te skep vir vrede tussen verskillende groepe in Suid-Afrika, maar té dikwels is daar bemoeienis met die "splinter in die oog", terwyl die balk misgekyk word wat soos ‘n dolk op onderwys en opleiding, ons kinders en die toekoms, afpeil.
Reeds in 1989 skryf ene Klaus D Vaque in sy boek Verraad teen Suid-Afrika: "Daar verskyn al hoe meer bemoedigende tekens, veral in Amerika, van ‘n groot geestelike herlewing. Al hoe meer mense begin die dreigende gevaar sien van ‘n goddelose, materialistiese ‘Nuwe Wêreldorde’ (New Age) wat die hele ou orde wil vernietig om op die puinhope van die Christelike Aandland en die ondergang van die Blanke ras hulle totalitêre ‘Nuwe Wêreld’ te bou. Indien Suid-Afrika hom egter laat mislei, indien dit die gevaar van die liberale tydgees nie waarneem nie en dié se dekadente materiaslistiese wêreldbeskouing oorneem, indien dit toelaat dat die vyande van die land al meer konsessies en ‘n onmoontlike ‘magsdeling’ afdwing, indien sy regering instem met die huidige gelykheidswaan en Suid-Afrika se volkere wil indwing in die smeltkroes van ‘n demokratiese eenheidstaat, dan sal die land wegsink in Afrika se chaos omdat dit sy toekoms verspeel het".
Suid-Afrika het reeds die punt van die sogenaamde "demokrasie" bereik. Tans word ons oordonder met boodskappe van "Celebrating ten years of democracy", maar hoe ver is ons huidiglik van die volgende gewaarwording, naamlik dié van ‘n eenheidstaat? Is onderwys en opvoeding helaas die laaste grenspos wat nog oorrompel moet word? Of is dit reeds gewonne gebied deurdat dit op die regte tydstip en met die regte "sousie" uitverkoop is, soos eerstegeboortereg vir ‘n pot lensiesop?
"Die kwade in die wêreld lewe nie deur dié wat kwaad doen nie, maar deur dié wat die kwade duld" (Edmund Burke). Dit het daadwerklik tyd geword om op te staan vir dit waarin ons glo, om ‘n nalatenskap vir die toekoms daar te stel: Moedertaalonderwys wat Christelik-gefundeerd is en deur ons eie mense aan ons eie nageslag gelewer word.