Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
SKRIFOORDENKING
HARTE WAT DEUR GEES EN WOORD AAN DIE BRAND GESTEEK IS, MAAK GESLOTE Oë OOP
Lukas 24 : 13 - 35
- DS (EM) WOUTER DE VOS - PRETORIA -
| Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie ... En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. ... Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. Luk 24:16, 25-27 en 31) |
In hierdie tyd waarin daar ‘n groot diskussie gevoer word oor die verband tussen die Ou en Nuwe Testament, oor die inspirasie van die Skrif, oor die kruisdood en offer van Christus, sy opstanding en hemelvaart, is dit dringend noodsaaklik om te hoor wat die vleesgeworde Woord Self in die verband te sê het.
Geslote oë.
Die Emmausgangers se oë is weerhou sodat hulle nie Jesus kon herken in die vreemdeling wat met hulle saam kom loop het nie. Hulle kon Hom nie sien nie vanweë die traagheid van hulle harte. Saam met die algemene opvatting van daardie tyd wou hulle Jesus slegs sien as aardse koning wat die ou glorie van Israel sou kom herstel en hulle verlos van die onderdrukkende juk van die Romeine. Hulle het die woord van Jesus dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, nie reg verstaan nie omdat hulle nie reg geglo het nie.
Hulle het ‘n verkeerde gedagtebeeld van die Messias gehad daarom was sy kruisiging en dood vir hulle so ‘n groot terleurstelling. Hulle het dan van Hom sulke grootse verwagtings gekoester! Met hul koning in die graf gaan hulle dan maar huis toe. Met sy dood het hulle verwagtings ook gesterf. Daarom weerhou Jesus hul oë dat hulle Hom nie kon herken nie. Al was daar gerugte dat die vroue ‘n leë graf gevind het en dat ‘n engel selfs aan hulle verkondig het dat Jesus uit die dood opgestaan het, wou hulle dit nie glo nie. Die twee wandelaars het vir Jesus verlaat, maar Hy het hulle nie verlaat nie, daarom kom loop Hy met hulle saam maar hulle herken Hom nie —— geslote oë vanweë ongeloof! Hulle wou alles met hulle verstand verklaar. Van nature wil die mens mos vashou aan: sien is glo.
Brandende harte.
Maar Jesus wou hulle onverstandige harte wat traag is om te glo (daarom kon hulle Hom nie herken, nie sien nie!), aan die brand steek. Hy (die Profeet) begin dan by Moses en die profete en lê vir hulle die Skifte uit, alles wat op die Christus betrekking het, aan die hand van die vraag: Móes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? Dit het hulle nie verstaan nie en daarom kon hulle in die vreemdeling wat met hulle saamloop nie Christus die Koning herken nie. Julle oë is toe omdat julle nie die Skrifte ken nie! Hulle sien nie Christus nie omdat hulle net dele van die Skrif glo en hul eie dwaalgedagtes daar inlees. Die volle openbaring van God het grotendeels by hulle verbygegaan en daarom was hulle geloof onvolledig en vol dwalinge. Hulle het ‘n verkeerde beeld van Christus gehad, naamlik dat Hy bloot ‘n aardse koning sou wees en daarom kon hulle die ware Christus nie raaksien in die Man van smarte en in die verheerlikte Heiland nie. Sy dood was vir hulle ‘n terleurstelling en sy opstanding ‘n onmoont-likheid —sommiges in ons tyd sê mos dat sulke dinge nie in ons leefwêreld gebeur nie en dáárom is dit nie moontlik nie!
Om die Emmausgangers dieper in te lei in die kennis van die waarheid, onderrig Jesus nou hul trae harte uit die Skrifte oor al die dinge wat op Hom betrekking het ——dit loop immers soos ‘n goue draad deur die Skrif. Presies wat Hy vir hulle gesê het om hulle harte aan die brand te steek, dit weet ons nie. Maar sy lyde is tog duidelik dwarsdeur die hele Ou Testament ——al die offerandes waar bloed moes vloei; ‘n vader Abraham wat sy seun Isak moes offer; Jes. 53: Soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders, soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word…..die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ook die Psalms spreek van sy lyde. Ps.22: My God, my God waarom het U my verlaat? Ek is ‘n smaad vir die mense en verag deur my volk. Maar ook oor sy verheerliking word gespreek—— Ps 2; Ps 16; Ps 110…….En in die Evangelies het Hy Self van die uitsprake op Hom van toepassing gemaak. In Handelinge 2 pas Petrus ook Psalms 16, 132 en 110 toe op Christus se opstanding.
Geopende oë.
Hierdie Woord van God, geïnspireer deur die Gees van God, verkondig deur die ware Profeet, het (soos die Emmausgangers self later gesê het) deur die werking van die Gees, hulle harte brandende gemaak sodat hulle waarlik reg kon glo — nie in die eerste plek met die verstand nie, maar met die hart. Christus het vir hulle die volle Woord van God geopen, daarom kon hulle nou insien dat die Christus moes ly en sterf sodat die onderdane van sy ryk kan lewe. So moes hulle die volle Skrif glo voordat hulle oë geopen is (daar by die breking van die brood) en hulle die opgestane en verheerlikte Christus kon sien. Nie die sien is glo nie, maar glo is sien.
Solank die hart gesluit is vir die volle waarheid van die Skrif, so lank bly die oog verblind en kan dit nie die waarheid van Christus se geboorte, lyde, sterwe, opstanding en hemelvaart glo nie. Juis as die paaslig in die duisternis van die mens se hart inskyn, dan word die hart warm en die oog verlig om Christus in al sy klaarheid te kan sien. Die ware Christus is vir niemand ‘n teleurstelling nie. Mense raak teleurgesteld in die verkeerde beeld van Christus wat hulle buite die Skrif om vir hulleself ontwerp het. Ons doen Hom oneer aan deur Hom uit die Ou Testament weg te lees asof ons dit net moet verstaan soos die eerste lesers, asof ons nooit Nuwe Testamentiese lig ontvang het nie. Dit mag nie, dit kan tog nie, want dan plak ons weer die skille terug op ons oë.
Wie waarlik in die volle openbaring van God glo sal nie probleme hê met die inspirasie van die Skrif, die eenheid van Ou en Nuwe testament en met Christus nie. Ons bede is dat die Here ons dit alles duideliker en al hoe duideliker sal laat sien en dat hulle wat nog met toe oë daarna kyk se skille van hulle oë sal afval sodat hulle in klare omlyning die lyde, dood en verheerliking van Christus met die geloofsoog sal sien in die hele Skrif. "Toe hulle oë geopen is, het hulle Hom herken."