Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
In Die Kerkblad, April 2004, bl 10vv "gesels" die redakteur Prof Amie van Wyk, met 'n ou bekende uit ons midde, ds LS Kruger, wat aangetas is deur spierdistrofie, as gevolg waarvan hy permanent bedlêend geword het. Ons siteer graag enkele vrae daaruit wat ds Kruger sterk motiverend as volg beantwoord het.
"In die aandeinde van my tydsbestaan, wat langer was as mensverwag, met 'n liggaam magteloos inmekaar gedomp en 'n breinkrag gefragmenteer in spatseltjies aan die hemeltrans, kom die dankgebed dat Hy my begenadig het om 'n lidmaat te kon wees van 'n Dopperkerk in ons Afrikanervolk se kortbestaan." (LS K)
Jy staan bekend as "stoere Dopper" en onverdagte Gereformeerde predikant. wat beteken dit?
"Wie Dopper is, is Gereformeerd; elke 'Gereformeerde' is egter nie 'n Dopper nie. Ek is 'n Dopper van geboorte. In die verbondslyn van die Godsbestel kom ek in ons volks- en kerkbestaan uit 'n Doppervoorgeslag. Die Bethalkerk het ek as kind net as Dopperkerk leer ken.
" 'n Dopper is 'n Calvinis. In Dopper-wees gaan dit om die Gereformeerd-Calvinistiese waarheidsleer van Skrifgesag en die Bybel as die Woord van God. Totius het hierdie waarheidsleer in kern saamgevat: In God se huis net God se Woord, en dit geld ook wat gesing mag word."
Wat kwel jou die meeste vandag in die GKSA? Sommige praat van "reformiste" en "tradisionaliste". Is dit 'n vertekening of steek daar waarheid in? Indien wel, sou hulle in vrede in een kerkverband kon saamleef?
"In waarheidsleer en liturgie is ons kerkverband in twee verdeel. Met die etikettering 'reformiste' en 'tradisionaliste' vereenselwig ek my nie, dit gaan eerder oor 'vrysinniges' en 'behoudendes' Die 'quia'- en 'quatenus'-standpunt word hierin betrek. By die 'quia' die Skrifgebondenheid van die Belydenisskrifte, by die 'quatenus' 'n vrysinnige waarheidsdissertasie. En hierdie uiteenlopende beginselpunte oor Skrifgesag en die Belydenisskrifte se waarheidsleer is onversoenbaar met mekaar."
Waaraan skryf jy dit toe dat dit wat sommige as opbouende reformasie ervaar, ander as dreigende deformasie beleef?
"Die skeuring in ons kerkverband is treffend raakgeskiet deur die stellings 'opbouende reformasie en dreigende deformasie'. Hier is die Woord van God die enigste beoordelaar (art 3, 5, 7 NGB). Die voedingsbron van die sogenaamde opbouende reformasie is die waarheidsdwaling van die 1983-vertaling. Die Skrifgesag (2 Tim 3:16) is vervang met 'n parafrase en die Heilige Gees se Skrifinspirasie (2 Pet 1:21) het plek gemaak vir die vertalers se eie interpretasie (Voorwoord BB, 75).
"Tereg het die Sinode 1985 die volgende besluit geneem: 'Die Sinode beklemtoon dat die 1983-vertaling nie die 1933/53-vertaling in enige opsig vervang of uitfaseer nie ... Die twee vertalings kan hoogstens naas mekaar gebruik word' (Acta, bl 575-576 - vgl ook art 6 NGB)."
Is dit nie so dat die slagspreuk van die sestiende-eeuse Reformasie ('die gereformeerde kerk moet altyd reformeer') impliseer dat die kerk nie by die bestaande kan bly nie, maar voortdurend moet verander/reformeer? Dis tog net die Rooms-Katolieke Kerk wat nooit verander nie en altyd dieselfde bly?
"In hierdie vraag gaan dit daaroor om regverdigheidsgronde te soek vir die verdwalings wat uit die 1983-vertaling afkomstig is en op die vorige twee vrae betreking het. Die ongekwalifiseerde stelling dat om te reformeer, beteken om te verander of te 'vernuut' en dat elke 'vernuwing' of verandering 'n waarheidsreformasie is, ontspring nie uit die Reformatoriese slagspreuk 'ecclesia reformata semper reformanda' nie. Die inroep van die Rooms-Katolieke Kerk is om 'n vry passaat na ons Sinodesaal te gee vir die winde van verdwaling."
Kan die begrip 'doleansie' kerkregtelik verantwoord word?
"Die begrip 'doleansie' bestaan kerkregtelik nie, kerkhistories wel. Tog is dit Skrifgefundeerd en die kerk se roepingsplig. Om te doleer, is om treurend te protesteer teen 'n meerdere vergadering se Skrifverdwalings. Elke plaaslike gemeente is verbonde met God; alle plaaslike gemeentes staan gelyk; elke plaaslike gemeente is die universele kerk op daardie plek. Kerkverband is noodsaaklik; dit bring nie eenheid nie, maar rus op eenheid. Die een mag die ander nie oorheers nie.
"Art 32 NGB verwerp alle menslike vindinge wat mense invoer om God te dien om daardeur die gewetens te bind en te dwing. Dan word 'n kerk se roepingsplig om in die Naam van Christus Christus se eiendom te beskerm teen waarheidsrowers. En dit is wat doleansie is, treurend protesteer."
Jy het in 'Handleiding by die Kerkorde' (1966) die volgende geskryf: 'Persone uit kerke met wie die Gereformeerde Kerke nie in enger korrespondensie staan nie, kan alleen toegang tot die Nagmaal verkry deur opgeneem te word as belydende lidmate van die plaaslike kerk' (bl 373). Mag daar hoegenaamd geen uitsondering op die reël wees nie? Daar is tog goeie gereformeerde Christene ook buite die GKSA?
"Op dieselfde bladsy staan ook geskrywe: Die Gereformeerde Kerkbegrip ken geen oop Nagmaalvierings nie; Nagmaalgangers moet onderworpe wees aan die tugreg van die kerkraad onder wie se toesig die Nagmaal gevier word. Dit is elke ouderling se roepingsplig om elke lidmaat voor die Nagmaal te besoek (art 23 KO). Die ouderlinge moet rekenskap kan gee van elke Nagmaalganger (art 64 KO; Handleiding p 394).
"Net soos die Pasga, is die Nagmaal 'n geslote eenheid. So is dit deur Christus verordineer. Net die huisgenote van die geloof het deel daaraan (Nagmaalsformulier). Dit is geen gemeenskapsmaal nie, maar 'n gemeentelike maal (art 29 NGB). Dit is 'n Skrifbeginsel en 'n Skrifbeginsel is onverhandelbaar."
Ek weet jy voel sterk oor (teen?) die vrou in die amp. Wat sou jou advies wees aan 'n jong dame wat aanvoer dat sy haar deur die Here geroep voel om die evangelie te verkondig?
"Hierdie vraag is hipoteties en Skrifverdwaald en daarom irrelevant. By die lees van hierdie vraag het my geheue egter teruggeflits na sowat 65 jaar gelede toe ek nog op hoërskool was. Dit is die slotreël van die gedig Milton on his blindness: 'They also serve who only stand and wait'."