Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING

AKTUEEL: Thabo Mbeki dien die voorvadergeeste!       

SKRIFOORDENKING:
Harte wat deur Gees en Woord aan die brand gesteek is, maak geslote oë oop

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks

Why a Reformed Christian May Not Attend the Movie: "The Passion of the Christ"

Waarom Doleansie? Prof H van der Wateren - GK Waterberg (Dolerend)

Die 2001 - Psalmomdigting Christus Self is in gedrang

Multi-Religieuse Polities gemotiveerde gebedsdiens vir 'n vreedsame verkiesing

Verplig om by die ware Kerk aan te sluit Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 28

Gereformeerde Kerk Pretoria ("Paul Krugerkerk") Verslag en voorstel aan kerkraad oor slegs die gebruik van die 1933/53 Bybel

1994 - 2004 Die Kerk in 'n nuwe bedeling

Woord en Wêreld : Opstand en opstanding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe Psalm-omdigting getoets deur predikante van GK Rietvallei, Pretoria

Kerkraad van GK Pretoria ("Paul Krugerkerk") verwerp besluite van Nasionale Sinode 2003

Massale demonstratiewe multi-kulturele sinkretistiese gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Mei 2004

Sektariese Bygelowigheid

Humanistiese mensverheerliking deur middel van die media

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Nie uit waardes maar uit wortels

Nuus uit die VSA

Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys

Mediaverklaring : Kommunisme vervang Christelikheid as norm

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
SJP Kruger : Sterfdag 14 Julie 1904

PERSRUBRIEK: Ds LS Kruger antwoord redakteur van die Kerkblad

Ons Griekse teks van die Nuwe Testament

Op soek na één wêreld 

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Knegskap en die geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 3 Mei 2004

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

OP SOEK NA ééN WêRELD

 -  DR AP TREURNICHT - IN: "WAAR DIE SOEKLIG VAL" -

1974. KAAPSTAD: NG KERK-UITGEWERS (BL 125 vv

Die soektog of strewe na één wêreld is geen nuwe nie. En die aandrang tot die eenheid is ook nie sonder meer die onvervalste liefde nie. Ook in die afgelope dekades het ons nie net 'n geroep om die één wêreld verneem nie, maar ook van die een ras en die een kerk. Dis opvallend dat dié drie heel dikwels in een asem genoem word, asof dit drie sye van dieselfde saak is. Dat dit gedoen word, kan uit die ervaringe, veral van die laaste dertig jaar, (let wel dat dit in 1974 gepubliseer is - PvdK) maklik verklaar word.

Gedurende hierdie periode het ons immers die grootste botsing tussen die volkere en die grootste verlies aan menselewens gesien. 'n Verskeurde wêreld! Vir baie mense het dit gegaan om die uitroeiing van wat hulle 'n onheilige en verdelende rassisme genoem het. 'n Verskeurde mensdom! En die kerke is daarby betrek - nie net in hul skuld dat hulle so 'n verskeurdheid geduld of selfs verdedig het nie, maar ook omdat dit hul plig is om die disharmonie, haat en afguns of verwaandheid van diskriminerende volke te bestraf en deur bevordering van eenheid te oorwin.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe Rusland en Amerika nog bondgenote was, skryf Wendell Wilkie, 'n voormalige aspirant vir die Amerikaanse presidentskap, 'n boek met die titel: One World. Die boek is wyd gelees. Te midde van die oorlog en verskeurdheid wou mense lees van die eenheid onder mense en van die één wêreld. Selfs Stalin het gepraat van die Engels-Amerikaans-Russiese koalisie waarvan die program was: gelykheid van volke, vernietiging van rasse-eksklusivisme, die reg van elke volk om sy sake na eie goeddunke te behartig, die herstel van demokratiese vryhede en die vernietiging van die Hitler-regime.

Maar die vrees moes verban word. Met kommunistiese Rusland moes saamgewerk word, ook ná die oorlog. Staatsmanne het begin praat van één oorkoepelende wêreldregering en die uitskakeling van nasionale selfstandigheid en selfbeskikking. Nasionalisme as die uitdrukking juis van die wil en reg van volke om hulself te wees en te handhaaf, is uit naam van Westerse liberalisme sowel as 'n sekere Christelike siening oor die gelykheid en eenheid van alle mense, veroordeel. En binne die Russiese ideaal van oorheersing sou 'n alte sterk nasionalisme of die selfbeskikking ook nie pas nie.

Die droom oor die één wêreld wat in vrede saamgebind word, het egter 'n illusie gebly. Die verdeling van Duitsland, die skandmuur van Berlyn, die Kommunistiese aggressie teen Hongarye en Tsjeggo-Slowakye, Korea, die Kongo, Viêtnam, die oorlog in die Midde-Ooste, Nigerië en Biafra, die opkoms en mag van Rooi China, die misbruik en onmag van die VVO, het die optimisme oor die één wêreld vernietig.

Maar dit het ook méér gedoen. Dit het náás die besef van die samehang tussen die verskillende wêrelddele juis ook die spanning en vrees gebring. Spanning en vrees omdat ons in die één wêreld vasgekeer sit met die vyande van die ware vryheid, vyande van die Christendom - die skoktroepe van die Bose wat ons bestaan bedreig. Die optimisme oor die één wêreld het langs die weg van die ontnugtering oorgeslaan in vrees en pessimisme by vele. Daar is die bewapeningswedloop. Dit is nie net 'n loëning van die geloof in die één wêreld nie; dit het nie net die geskeurdheid en wantroue beklemtoon nie; dit het die besef tuisgebring dat niemand die wedloop eintlik uit en uit kan wen nie. En tog moet daar bewapen word om die eie land en vryheid nie op 'n skinkbord aan die aggressor, die wêreldoorheerser, present te gee nie. Mense praat voortdurend van die "vonk" wat 'n derde wêreldbrand - miskien die laaste - kan aansteek.

Dis waar, in Parys word die beëindiging van oorlog bespreek en in Helsinki praat Amerika en Rusland oor die bewapeningswedloop. Rondom beide tafels sit 'n verskeurde wêreld. Miskien kan ons wel sê: één wêreld, maar dan één wêreld in 'n botsende samehang van wantroue en vrees. Want terwyl die nootlottige gevolge van onenigheid besweer word, word die volgende skuif op die skaakbord uitgedink om self nie deur 'n gevaarlike mededinger en vyand skaakmat gesit te word nie. Dis 'n armsalige, ligsinnige optimisme wat uitroep: vrede, vrede en geen gevaar nie.

Maar daar is iets anders. Dis opvallend hoe 'n magshonger dikwels deurklink in die hardste geroep om eenheid en vrede. Die Russiese slagkreet van vreedsame naasbestaan is nòg vreedsaam bedoel nòg op naasbestaan van byvoorbeeld die Christendom en die Kommunisme gemik. Dis vrede wat die magshonger van die aggressor nie aanstaan nie. En dis 'n naasbestaan op die voorwaardes van die oorweldiger. Dis die vrede wat 'n muis met 'n honger kat kan sluit.

Die vraag is nou of die ware één wêreld dan nie as vrug van die één kerk gestalte sal kry nie. Sal die één kerk of kerklike organisasie dan nie deur mense te verbroeder en rassisme te vernietig, die ideaal van één vreedsame wêreld verwesenlik nie?

Hierop moet 'n paar dinge as antwoord gesê word. Die eerste is dit: As die oogmerk nie werklik die verbreiding van die koninkryk van God oor die ganse aarde is nie, maar eerder denasionalisering, wêreldburgerskap, die internasionalisme, die aftakeling van volkere in hulle afsonderlike bestaan, dit wil sê, 'n soort neo-Babilonisme, dan is dit 'n ydel en onchristelike oogmerk. Dan is dit die kerk onwaardig. En dan is daar haas geen verskil tussen so 'n kerklike organisasie en die VVO nie.

Is dit so dat die kerk ras- of volksvergoding moet veroordeel en bestry, dan beteken dit nie dat hy hom voor die wa van die Westerse liberalisme of 'n sondige internasionalisme moet laat span, soos in meer as een geval gebeur nie. Wie die verskeurdheid van die wêreld wil genees met kompromisse tussen Christendom en Kommunisme, of 'n naïewe gepraat oor één wêreld, één ras en dan ook één regering, speel in die hande van die sterkste magsgroep. In plaas daarvan dat die koms van Christus se koninkryk bevorder word, word die koms van die ryk van die Antichris verhaas.

En nou wil ek dit waag om te sê dat indien kerke hulle nie hou by die Bybelse eenheidsbeeld van die mensdom in die wêreld nie, hulle onbewus die toneel vir die Antichris kan help voorberei.

Dis ongelukkig nodig om baie krities te staan - nie net teenoor politieke strominge wat in die wêreld op groter eenheid, magsgroeperinge en die uitskakeling van mededingers afstuur nie, maar ook teenoor 'n magsbegeerte wat hom in kerke kan laat geld onder die vlag van Christelike liefde.

Ibsen het eenmaal gesê daar is geen woord so vol leuens en strikke soos die woordjie "liefde" nie. Prof Ian Henderson het dit op die één wêreld- en één kerkstrewe toegepas en gesê: "Kerkmense wat daarna strewe om één kerk op te rig, word aangemoedig om te voel dat hulle die eenheid van die liefde soek, terwyl hulle - miskien onopsetlik - werk aan die eenheid van 'n imperialistiese magshonger." Henderson waarsku dan skerp teen die moontlikheid dat ons God kan vra om 'n eenheidstrewe te onderteken wat niks anders as kerklike diplomasie in die stryd om mag is nie.

Maar genoeg om aan te dui dat net soos die kerk nie sy eenheid vind in een organisasie en een sentrale beheer nie, die eenheid van die mensdom ook nie geleë is in aftakeling en vermenging van volke nie, en die eenheid van die wêreld ook nie onder een wêreldregering verseker word nie. Net God wat die grense stel, die verskeidenheid verorden en sy gesag op 'n veelheid lewensverbande lê, kan in die veelheid die gees van eensgesindheid lê. Hy het die gesag om tot een saam te snoer of saam te dwing, nie in één organisasie, één land of één regering gelê nie. Wie dit tog langs hierdie weg op 'n magshonger-wyse wil doen, vervals die idee van Gods koninkryk en bevorder eerder die ryk van die Antichris.

MAGSBEGEERTE

Besondere vermelding verdien die magsbegeerte, die "Wille zur Macht". Wanneer 'n staat deur die sug tot heerskappy verlei word en vergeet dat sy gesag 'n dienende gesag is en dat hy 'n dienaar van God tot heil van die menslike samelewing is, stuur hy eerder af op verdrukking van mense as op hul vrymaking in deug. En dan word hy die prooi van sy heerssug: Verdeeldheid word geskep en ontbinding staan voor die deur. Dis die misbruik van gesag en geweld wat mense laat wedywer om die posisie van gesag te gryp. Wanneer mag reg word, knaag die korrupsie deur. Dan word alle mededingers deur die sterkeres met uitklophoue uitgeskakel - soos ons dit telkens in die jongste tye in Kommunistiese state gesien het.

Dr AP Treurnicht. In: "Waar die Soeklig val" (bl 135)