Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 3 Mei 2004
REDAKSIONEEL
Die twee maande wat sedert die vorige uitgawe verbygegaan het, was opwindend met die oog op die verkiesing wat plaasgevind het. Dit het soos verwag kon word gepaard gegaan met 'n multi-religieuse gebedsdiens, hierdie keer onder die vaandel van die sinkretistiese ZCC te Moria-City, naby Pietersburg. Dit is ontstellend dat verteenwoordigers van partye wat ongetwyfeld ondersteuning van Christen-gelowiges ontvang het, daaraan deelgeneem het. Inligting hieroor verskyn in die rubriek Kerklike Joernaal hierin. Daar is nog 'n ander multi-kulturele, intergeloofsbyeenkoms waar ook die aandag op gevestig word.
'n Ander saak wat baie aandag in die sekulêre, asook in die kerklike pers van, onder andere, die NG Kerk geniet het, is die vertoning van die omstrede film "The Passion of the Christ" wat algemeen aanvaar is en 'n topverkoper geword het. Van die kommentare van "kerklui"is dat dit hulle nader aan Christus gebring het. Terwyl daar in die Gereformeerde Kerke en ander Afrikaner kerkverbande geen eensgesindheid oor die Skriftuurlike antitese daaromtrent bestaan nie, vind ons in die laaste uitgawes van kerklike tydskrifte, tot op hede, geen inligting of beswarende kommentare daaroor nie. Die Redaksie van Die Kerkpad is egter onherroeplik verbind om brandwag te staan (Eseg 33) en die basuin te blaas vir dreigende deformasie op alle terreine van die kerklike- en volksbestaan. Ons doen dit gemotiveerd in die krag van die geloof, met die wysheid van Bo en met die kennis wat aan ons oorgelewer is.
Terugvoering wat ons ontvang, is hoogs waarderend vir die wyse waarop dit redaksioneel hanteer word. Mag die Here dit seën tot eer van sy Naam en tot heil van sy kerk en koninkryk.