Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

KERKLIKE SKISMATIEK

- P van der Kooi - Redaksioneel -

Die betekenis van die woordjie "skismatiek" is volgens die woordeboek wat ek gebruik die neiging om verdeling of skeuring te veroorsaak. Met die oog op vandag se omstandighede wil ons daaroor besin

Dr Nico Vorster stel in DIE KERKBLAD, September 2004, bl 34, die probleem soos volg:

"Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is besig om in verskillende kampe te verdeel. Hierdie tendens merk 'n mens gou op wanneer jy plaaslike gereformeerde gemeentes besoek. In sommige gereformeerde gemeentes word uit die 1933-vertaling gelees, net die Totiusberyming word gesing, alleen die beker word by die nagmaal gebruik en geen vrouens word in die ampte toegelaat nie. By ander gereformeerde gemeentes word alternatiewe kerklike liedere gesing, spesiale jeug- en sangdienste word gehou, vrouens word in die ampte toegelaat, die kategismus word nie gepreek nie en die tweede erediens word vervang met ander geleenthede. ..."

"Waaroor verskil ons kerke so ernstig met mekaar?" vra dr Vorster. Hy meen dat dit oor twee sake gaan, naamlik: tradisie en Skrifgebruik. In sy artikel soek hy 'n oplossing om "ons onderlinge verskille in die praktyk te hanteer". Hoe kan ons ons verskille oorkom? Met die oog daarop lewer hy 'n perspektief vanuit Handelinge 21: 17 - 26. . . .

"Op die plaaslike vlak is daar nie net verskille tussen gemeentes nie, maar ook in gemeentes oor kwessies soos die wyse van nagmaalsviering en die Psalmberyming. Dit lei daartoe dat baie lidmate hulle gemeentes heelte-mal verlaat het en by naburige gemeentes of ander kerke gaan aansluit wat hulle behoeftes bevredig. In stedelike gebiede vervaag gemeentegrense. Sommige stedelike gereformeerde gemeentes bars uit hulle nate, terwyl naburige gemeentes doodloop.

"Waaroor verskil ons kerke so ernstig met mekaar? Myns insiens gaan dit oor twee sake: tradisie en Skrifgebruik." aldus dr Vorster. Met verbygaan aan sy motiverings hieroor, vestig ons die aandag op die "Skriftuurlike perspektief" vanuit Handelinge 21:17-26, wat hy beskryf en aanbeveel as riglyn om "ons verskille te oorkom". Hy verwys na die gebeurtenis dat Paulus in Jerusalem versoek is om ter wille van die Joodse Christene 'n toegewing te maak waaruit sou blyk dat hy nie die Ou Testamentiese tradisie geheel en al verwerp het nie.

"Die wyse waarop Paulus die Ou Testament geïnterpreteer het, het hom ongewild onder die Joodse Christene gemaak. Hulle het hom gesien as 'n liberale prediker wat die Joodse wette en tradisies ondermyn. Gou het daar gerugte in die Joodse gemeentes ontstaan dat Paulus nie net van die Griekssprekendes nie, maar ook van Joodse Christene verwag om af te sien van die Joodse wette en tradisies". sê dr Vorster. Ook ander beweer dat daar 'n wantroue teen Paulus bestaan het.

Om aan te toon dat Paulus tog nie die Ou Testamentiese wette en tradisies vir die Joodse geloofsgenote verwerp het nie, het hyself gaan deelneem om vir vier persone wat 'n nasireërgelofte afgelê het en nie genoeg geld gehad het om daarvoor te betaal nie, in te staan en homself saam met hulle te heilig volgens reinigingseremonies wat tradisioneel gegeld het.

Dit is nou vir dr Vorster die voorbeeld wat in ons geval ook moet geld as daar onenigheid oor tradisies en Skrifgebruik is. Dit is vir hom die oplossing. "Uit hierdie stuk geskiedenis leer ons dat daar in die kerk van die Here verskeidenheid is. Ons vind in die kerk Grieke en Jode, tradisionaliste en progressiewes, mans en vrouens, bejaardes en jonges. Vir almal van ons is daar plek in die kerk van die Here. Die kerk is immers 'n liggaam met verskillende liggaamsdele. Die verskeidenheid van liggaamsdele bind ons liggaam tot 'n eenheid saam. Verskeidenheid is nie 'n bedreiging nie, dit is 'n seën. Daarom moet ons verskille waardeer", aldus dr Vorster.

Daarmee gaan hy verby aan die omstandigheid van die situasie van die oorgang van die Ou na die Nuwe Testamentiese bedeling wat aanvanklik deur Joodse Christene anders geïnterpreteer is as die bekeerlinge uit die heidene. Onder leiding van die Heilige Gees is besluit dat laasgenoemdes geen verdere las opgelê word nie as "hierdie noodsaaklike dinge: dat julle julle onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery ..." (Hand 15 : 28, 29).

Dit het 'n tydlank geneem voordat die afskaffing van die Ou Testamentiese seremoniële wette en tradisies deur die Joodse navolgers van Christus verstaan en toegepas is. Die Judaïste, die nie bekeerde Jode hou dit nog altyd teen die Christene dat hulle nie voldoen aan die wette van Moses nie. Dit was van hulle wat, toe hulle Paulus in die tempel raakgesien het begin skreeu het: "Israeliete help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. ..." (Hand 21: 28).

Prof dr EP Groenewald beskryf in sy Handboek By-belse Geskiedenis - Die Nuwe Testament (Vyfde Druk 1986, bl 509) soos volg: "Paulus sou seker verkies het om nie met dergelike planne saam te werk nie, en om liewer openlik sy saak aan die gemeente te stel. Dit was egter kort voor Pinkster en hy wou nie die gemoedere verontrus nie. Daarom stem hy in om aan die versoek te voldoen. Hy het toe die vier manne geneem en homself saam met hulle geheilig. ..."

Vandag se verskille lê op 'n ander vlak. Dit raak 'n veranderde Skrifbeskouing en liturgiese aanpassings in die Gereformeerde kerke met konsekwensies van 'n kritiese en relativerende Skrifgebruik asook 'n valse eku-meniese strewe vir eenheid en 'n breë gelykheid van die gewaande Christelike geloof. Dit is 'n nuwe vorm van remonstrantisme en mensgesentreerde religie. Dit is bevorder deur 'n Bybelvertaling (1983) wat aangepas is aan die "behoeftes" van ons tyd. In dié behoeftes staan die menslike beskouing oor die skriftuurlike geloof en oor die Goddelike wese en sy voorsienigheid op 'n betwisbare hoë vlak. Dit raak alle terreine van die menslike bestaan, die denke, doen en late, asook die kerklike (sinodale) besluitnemings.

Die "Skriftuurlike perspektief" waarna dr Vorster in Die Kerkblad verwys, betref geen teologiese verskille met konsekwensies van relativerende Skrifbeskouing en deformatoriese verval nie. Net so kan die huidige verskille ook nie as 'n "verskeidenheid" wat 'n "seën" is, getipeer word nie. Dié argument van dr Vorster handel oor 'n misplaaste wantroue in Paulus omdat hy voorgeloop het in die afskaffing van die wette en voorskrifte wat met die koms van Christus opgehou het (NGB, art 25). Met die oog daarop het die Heilige Gees onder andere die apostels Paulus en Petrus geïnspireer dat daar 'n nuwe bedeling ontstaan het deurdat Jesus Christus alles volbring het wat in die seremoniële wette vervat was.