|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
PERSVERSLAG VAN 3DE NASIONALE
GEREFORMEERDE KONFERENSIE
Gehou by die NG Kerk Suider-Strand, Wes-Kaap op 23 en 24 September 2004
Wanneer in die verlede is daar ooit ’n Nasionale Gereformeerde Konferensie in Suid-Afrika gehou waar daar soveel kerke wat dieselfde belydenisskrifte aanvaar in een konferensiesaal bymekaar gekom het? Die grootste aantal was lidmate en predikante uit die NG Kerk, maar daar was ook verteenwoordiges uit die Gereformeerde, die Evangelies-Gereformeerde, die Vrye Gereformeerde en die Verenigende Gereformeerde Kerke, die Reformed Church in Africa, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Church of England in South Africa, en nog ander.
Wat, sou ’n mens kon vra, bring soveel lidmate uit verskil-lende kerkgenootskappe vir byna twee volle dae bymekaar? Niks anders nie as ’n honger om die Bybel as onfeilbare Woord van God beter te verstaan en ook die gemeenskap-like Belydenisskrifte wat ons almal ten volle onderskryf.
Tweedens, waarom die moeite doen om uit so ver as Gauteng nege predikante en dosente af te vaardig, of as sprekers te laat optree? Niks anders nie as ’n diepe kommer oor die groeiende afvalligheid by vele kerke en teologiese fakulteite wat tradisioneel bekend was vir hul suiwer gereformeerde karakter. Vele uit genoemde kringe hanteer en respekteer die Bybel nie meer as enigste ware en onfeilbare Woord van God nie. Veral in die NG Kerk het die leierskap op drastiese wyse kontak met die lidmate op voetsoolvlak verloor. Lidmate voel vervreem en losgesny van enige seggenskap rakende verreikende besluite soos dié oor lidmaatskap van die SARK en die moontlike aanvaarding van die sogenaamde vierde belydenisskrif, dié van Belhar. Gemeet aan die kwaliteit en die Skrifgetrouheid van ons bestaande drie Belydenisskrifte, is daar geen raakpunt wat maak dat dit in dieselfde klas sou kon val nie.
Die konferensietema was "Wie en wat op aarde is die Kerk?" Dr Koos Adendorff het in sy toespraak oor kerkregering gesê dat sielkunde, sosiologie, kommunikasiekunde en veral die bestuurswetenskappe 'n te groot rol in kerkbestuur speel. "Ons moet die Kerk soos ’n besigheid bestuur" word deur vele gesê. Gonswoorde soos "visie", "missie" en "strategie" word toenemend gebruik. Hierdie tendense degradeer die eg geestelike karakter van ons gereformeerde kerke.
In ds Eugene Viljoen se bydrae oor die eienskappe van Die lidmaat van die ware kerk, sê hy: "Dit mag in die eerste plek nooit wees vanuit die vertrekpunt dat ons self bepaalde eise wil stel vir wie en wat die kerk [en lidmate] is nie. Alleen die Woord bepaal dit." Is dit nie in skrille kontras met wat ons vandag aantref nie?, sou met reg gevra kon word.
Prof. Roelof Marè meld dat die nuwe ‘Deformasie’ geen erg het aan ons Belydenisskrifte nie, want, wanneer die Bybel nie as onfeilbare Woord bely word nie, is daar geen basis meer waarop ’n Belydenis gebou kan word nie. Hy verwys na die erns waarmee Paulus die Evangelie bejeën wanneer hy sê dat mense wat daaraan peuter ’n 'vervloeking' is! Op treffend-eksegetiese wyse verklaar hy verder dat 1 Tim. 5:18a ('die hele Skrif is deur God ingegee…') wel betrekking op die hele Bybel het. Hy verwerp Schleiermacher se bewering dat die Christelike geloof geen objektiewe status het nie. "Die wortel van die huidige deformasie lê hier" sê hy. Teoloë sê vandag: "Jy moet die Bybel binne die Bybel soek", en "alles is relatief…" Dit kom voor asof moderne teoloë kompeteer om die minste van die Skrif te maak.
Ds Hendrik Hefer, oor Kerkverband, sê: "Hulle wat die Waarheid (van God se onfeilbare Woord) nie voor alles liefhet nie, moet hulle ook nie op Joh. 17:21 (oor die eenheid van gelowiges) beroep nie. Kerkvereniging ten koste van die Waarheid is nie God se wil nie. Verder: ’n meerdere vergadering (sinode) kan nie verwag dat ’n plaaslike gemeente hul besluite wat met ons Belydenisskrifte in stryd is, gehoorsaam nie. Die outonome aard van die plaaslike gemeente vereis selfs dat ’n gemeente dit ernstig sal moet oorweeg om homself los te maak van bepaalde sinodale verbande indien die gemeente oortuig is dat die sinode dwaal!
Ds Rob Visser vra wie anders die 'skeurmaker' is as hy wat van die Woord en die Belydenisskrifte afwyk, en alternatiewe interpretasies daaraan heg. Die sogenaamde 'dinamiese binding' aan die Belydenisse veroorloof die moderne teoloog om op die Belydenisse 'voort te bou', om kwansuis vir die wêreld meer aanvaarbaar te wees. So ’n benadering verwoes die Kerk, sê hy.
Dr Willie Kotze, wat ’n voordrag oor Die ware en die valse kerk lewer, meld dat dwaling maar altyd teenwoordig is – of dit Aäron en die goue kalf is, of valse leraars in die Nuwe Testamentiese tyd. Hy onderstreep Artt 27 tot 29 van die NGB (Ned. Geloofsbelydenis) waar dit sê dat die ware kerk drie kenmerke (veral) het, naamlik, suiwer Woordverkondiging, korrekte bediening van sakramente en die toepassing van die kerklike tug. Sien ons dit nog vandag?
Die totstandkoming van die Stellenboschse Kweekskool in die middel van die 19de eeu was ’n gedetermineerde besluit om Suid-Afrikaanse toelogiese studente nie langer aan die liberalisme in Nederland bloot te stel nie. Hierin is uitmuntend geslaag. Maar, in die huidige tydsgewrig onder die universiteit se beskerming is akademiese vryheid en prestasie van groter belang as getrouheid aan die Woord en Belydenisskrifte. "Die Kerk mag nie toelaat dat die wêreld sy agenda bepaal nie – nie NEPAD nie, en ook nie die Afrika Renaissance nie!", het dr. Kotze gesê. "Hy moet aan niks anders as die Evangelie getrou wees".
Ds Paul du Toit se bydrae oor Die ware kerk as toekomskerk, het op treffende wyse na die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Christus se dag verwys as mense wat die Koninkryk vir mense toegesluit het. Hulle trek oor see en land om een bekeerling te maak wat vir die hel voorberei is, tweemaal erger as hulleself. Christus verwys na hulle as 'addergeslag', tiperend van die slang wat reeds in die Paradys werksaam was om die ware kerk uit die staanspoor te kelder. Die Satan het toe al gevra: "Sê God so?"
Op die Laaste dag sê Christus sal ons ‘moderne’ teoloë vra: "Het ons nie in u Naam geprofeteer nie…, en dan sal Hy sê: Gaan weg van my af, want Ek het julle nooit geken nie." Du Toit noem dit die "verdoemende misverstand". In die lig van so ’n toekomsblik, vra hy: "Watter woorde sal Hy die leraars van ons dag toevoeg?"Pieter Pelser se bydrae, juis oor Die Woordbedienaars van die ware kerk, het die klem laat val op die Bybelse norme vir die Woordbedienaar van ons tyd.
Hy het Johan Heyns aangehaal waar hy gesê het dat "die Evangelie nie eietyds gemaak moet word nie, maar as sodanig verstaan moet word. As die leraar die strominge van sy tyd self nie reg lees en verstaan nie, word hy eenvoudig deur sy tyd verslind." Verder, verwysend na die onbybelse uitsprake van vele teoloë in boeke soos Die Bybel A-Z, het hy die vraag gestel: Vir hoe lank gaan sulke dwalinge binne die georganiseerde kerk nog toegelaat word voordat, miskien te laat, halt geroep word? Is die NG Kerk miskien reeds te ver op die afwaartse glybaan waarin moderne evolusionistiese denke binne die toelogie sy tol begin te eis? Ons, as gereformeerdes wat nog staan by die suiwer belydenis soos vertolk in ons drie Belydenisskrifte, word al hoe meer as fundamentaliste getipeer, terwyl ons slegs vra dat ons kerk na sy eie wortels moet terugkeer.
Die konferensie is afgesluit met die formulering van ’n gesamentlike publieke verklaring wat op aanvraag beskik-baar is. Daar is ook besluit om aanstaande jaar weer so ’n konferensie te reël sodat gelowiges met ’n gereformeerde belydenis hul eenheid in Christus en sy Woord kan manifesteer.
(Hierdie konferensie is gereël deur die Reëlingskomitee van Reformator in samewerking met verskeie gerefor-meerde kerke en lidmate. Meer inligting oor Reformator asook die volledige referate is op die internet beskikbaar by: www.reformator.co.za)
Stellenbosch: Pieter J. Pelser, 30 September 2004.