|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
EEN EN ANDER OOR KERKMUSIEK EN KERKLIED
- SH SALOMONS. IN: KERK EN WOORD, OKTOBER 2004, BL 9 - 12 -
In BEELD se uitgawe van 1 September jongslede, verskyn uit die pen van Neels Jackson die volgende berig wat ons graag, met kommentaar aan u wil deurgee.
Onder die opskrif: Klassieke kerkmusiek gekies, skryf hy soos volg:
Gedink alle jongmense verkies kerkmusiek met tromspel en kitare? Verkeerd.
Die predikante van die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria het tot hul verrassing agtergekom die gewildste kerkmusiek onder dié wat hul aanddienste bywoon, is orrelbegeleiding aangevul deur klassieke instrumente soos viole, tjello's en dwarsfluite.Ds Emmanuel van Tonder së hulle het 'n peiling oor musiekvoorkeure gedoen tydens 'n aanddiens wat deur sowat 1 500 mense bygewoon is. Daarvan het 93% aangedui dat hulle tussen 19 en 30 jaar oud was. Op 'n skaal van 1 tot 5 moes hulle aandui hoe baie hulle van verskillende soorte kerkmusiek hou.
Die orrel alleen het gemiddeld 4 gekry, die orrel met klassieke orkes 4.5, 'n orkes met moderne en klassieke instrumente maar sonder orrel het 3.9 gekry en 'n moderne orkes met kitare en tromme net 3.5. Terwyl al die verskillende musiekstyle bogemiddelde punte van die studente gekry het, het net 'n beperkte gebruik van Engelse kerkliedere die studente se aanvaarding gekry. Alle opsies wat inhou dat die helfte of meer kerkliedere in Engels moes wees, is afgeskiet.Van Tonder sê hy sou versigtig wees om dié syfers op alle jongmense van toepassing te maak. Meer as die helfte van die respondente was koshuisstudente en baie van hulle het 'n plattelandse agtergrond. Stadsjongmense kan dalk anders voel.
Uit ds van Tonder se kommentaar van die uitkoms van die peiling (hy sou versigtig wees om dié syfers op alle jongmense van toepassing te maak), kan 'n mens aflei dat daar 'n heel ander uitslag verwag is. Want, so stel hy: "...meer as die helfte van die respondente was koshuisstudente en baie van hulle het 'n plattelandse agtergrond. Stadsjongmense kan dalk anders voel." Dit wil voorkom of ds van Tonder teleurgesteld voel oor die uitkoms van die peiling. So op 'n manier van: ons bied aan wat julle volgens ons graag wil hê en nou wys julle dit af. Dit kan nie waar wees nie. Die stadsjongmense kan dalk anders voel.Die groot vraag is egter nie oor hoe ons 'voel' oor die kerklied en kerkmusiek nie maar wat die Bybelse norme hiervoor is. Die uitgangspunt hierby mag nie ons, ou - of jongmense, se gevoelens oor die onderhawige sake wees nie, maar die vraag moet beantwoord word: hoe kan die Almagtige God en Vader met en deur ons kerklied en kerkmusiek die beste en meeste geëer en geprys word? Sang en musiek behoort tot Sy mooiste skeppings-gawes. Hoe gebruik ons hierdie gawes? Klink ons kerksang en musiek welgevallig in die Here se ore? Neem Hy met blydskap die offerande van ons lippe aan?
Dit gaan in die eerste plek nie daaroor hoe die meerderheid van die kerkgangers hieroor 'voel' nie maar hoe ons as kerk vreugdevol en stylvol God die Here met sy eie skeppingsgawes kan loof en eer. Daarby is die belangrikste norm seker dat dit wat gesing word in alle opsigte Woord-getrou moet wees Helaas wys die praktyk uit dat baie gesange en liedere wat graag gesing word, soms verskuilde maar ook blatante dwaalleer bevat.
Kan ons werklik die Here eer met woorde wat nie met sy Woord ooreenstem nie? Gaan dit nie as 'n wanklank in sy ore klink nie?By die beoordeling van vrye kerkliedere (liedere wat nie op 'n Bybelteks gebaseer is nie), moet ons baie versigtig wees. Uit die kerkgeskiedenis is dit duidelik dat daar deur middel van die vrye kerklied baie dwaalleer die kerk ingesypel het. By die beoordeling van hierdie liedere het ons. naas die Heilige Skrif, die hulpmiddels van die gereformeerde belydenis en dogma. 'n Stewige verankering in en bekendheid met die leer van die kerk, sal ons vir baie misstappe behoed.
Dieselfde geld uiteraard ook vir die Psalmberymings.
Behalwe dat psalmberymings so na as moontlik die oorspronklike Bybelteks moet weergee, is dit 'n vereiste dat dit ook dogmaties suiwer moet wees. Na my mening voldoen die Cloete-omdigting van die Psalms nie aan hierdie kriteria nie. Afgesien daarvan dat die grondteks van die Bybelse teks nie getrou weergegee word nie, kom daar ook baie uitdrukkings in hierdie omdigting voor wat dogmaties nie korrek is nie.Die Cloete-omdigting het veral op aandrang van die NG Kerk (NGK) tot stand gekom. Aanvanklik het die NGK probeer om die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se toestemming en samewerking te verkry om die Totius-Psalmberyming te hersien. Die NGK het toestemming daartoe van die GKSA nodig gehad omdat die GKSA die outeursregte van dié beryming besit. Die GKSA het eers geen ore daarvoor gehad nie maar later tog besluit om saam met die NGK die wenslikheid en moontlikheid daarvan te ondersoek. Die NGK het toe plotseling in 1978 besluit om die saak nie verder te voer nie, met die argument dat die Totiusberyming ongeskonde vir die nageslag as 'n kultuurskat bewaar moet word. In beginsel het die NGK hiermee feitlik gesê dat die Totiusberyming as 'n museumstuk bewaar moes bly. Die GKSA het dit so aanvaar en onmiddellik van die saak afgestap, veral omrede daar binne die GKSA op dié stadium (1982) nie die noodsaaklikheid van 'n hersiening van die Totiusberyming gesien is nie.
Met die verskyning van die Nuwe Bybelvertaling in 1983 het sake 'n nuwe wending geneem. Die NGK het onmiddellik begin kyk na 'n nuwe Psalmberyming. Dit was volgens die NGK noodsaaklik omdat die Totiusberyming te veel afgewyk het van die Nuwe Bybelvertaling se boek van die Psalms. Weereens het hulle probeer om die GKSA daarby te betrek. Die kerke het later besluit om wel te gaan saamwerk met die uitdruklike beperking dat hulle daardeur geensins sou verplig wees om 'n eventuele Psalmberyming te aanvaar nie (Sinode 1985).
Die NGK het ook aangevoer dat 'n nuwe Psalmberyming nodig is om te verseker dat daar in die toekoms steeds Psalms gesing sal word.
'n Ondersoek wat in opdrag van die Breë Psalmberyming Kommissie van die Afrikaanse kerke gedurende 1990 uitgevoer is, wys duidelik uit dat daar binne die NGK en die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) bitter weinig psalms gesing word. Ook dat dit beperk is tot 'n bloemlesing van enkele geliefde psalms.
Die vraag kom op of dié situasie, na die verskyning van die Cloete-omdigting, enigsins verbeter het. Gebaseer op persoonlike vrae aan enkele orreliste en lidmate van die NGK, wil dit voorkom dat
daar tans nog minder as voorheen psalms gesing word. 'n Wetenskaplik verantwoorde steekproef sou moet uitgevoer word om dit te verifieer.Die ironie van die saak is dat daar tans binne die GKSA tweespalt heers oor die nuwe Psalm-omdigting, terwyl dié kerke aanvanklik glad nie ten gunste daarvan was nie! Op die sinode 1991 het 'n beswaarskrif gedien op grond waarvan besluit is om deelname aan die nuwe Psalmberyming te staak. Teen dié besluit het 'n beswaarskrif van die Partikuliere Sinode Noord Transvaal op die sinode 1994 gedien. Die beswaarskrif het geslaag en van toe af het die GKSA weer deelgeneem aan die proses om tot 'n nuwe Psalm-omdigting te kom. Die wrange vrugte van hierdie besluit word tans gepluk! In beginsel lê die omstrede besluit van die sinode 1985 om die 1983 Bybelvertaling vir kerklike gebruik vry te gee, hieraan ten grondslag.
Die Psalms is by uitstek verbondsliedere. In die 1983-Bybelvertaling kom dié besondere kenmerk nie meer tot sy reg nie. Hierdie stelling kan reeds deur die vertaling en beryming van Psalm 1 : 1 aangetoon word. Die 1933 (Totius-) vertaling lui: "Welgeluksalig is die man wat nie wandel ...". In die 1983 vertaling is dit vervlak tot: "Dit gaan goed met die mens ...". Tussen welgeluksalig wees en goed gaan lê 'n groot verskil. Ons kan in nood verkeer of swaar lyding ervaar en nogtans welgeluksalig wees. "Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe en wie se sonde bedek is" (Psalm 32 : 1). Dit gaan dus hoegenaamd nie oor die menslike 'dit gaan goed' nie maar die betekenis is baie dieper. Want ons is, as kinders van die Here, reeds in hierdie dikwels moeitevolle lewe, as gelukkig te prys. Nie omdat dit menslik gesproke met ons goed gaan nie, maar omdat die saligheid ons in belofte toegesê is. Ons ervaar en besit temidde van beproewings, teleurstellings en verdriet reeds die begin van die ewige vreugde in ons harte.
Natuurlik gee die Here ons ook materiële seëninge hier en nou in ons daaglikse bestaan op aarde.
Welgeluksalig die mens wat ook die goeie dinge soos gesondheid, welvaart, rykdom, aardse geluk ensovoorts sien as onverdiende seëninge wat ons slegs as genade uit die Here se hand ontvang.Betreffende die beryming van Psalm 1 : 1, Totius berym: "Welsalig hy wat op die spoor nie gaan", terwyl Cloete die teks soos volg weergee: "Gelukkig hy wat slegte raad vermy." In Totius se beryming kom duidelik die mens se afhanklikheid van God tot uiting. Welsalig is ons as ons leef in die verbond wat God uit genade met ons gesluit het. Dié element ontbreek in albei, die 1983 vertaling en die Cloete-omdigting. Daar gaan dit oor 'n menslik daad: "Gelukkig hy wat slegte raad vermy, wat op 'n goddelose pad hom lei."
Hierdie is sommer 'n willekeurige voorbeeld daarvan hoe beide, die 1983 vertaling en die Cloete-omdigting vervlakkend en ongenuanseerd is. Daar kan talle ander voorbeelde van dieselfde verskynsel gegee word. Om nog een sprekende voorbeeld te gee: die Bybelse regverdiges,
hulle wat deur God geregverdig is deur die genoegdoe-ning, geregtigheid en heiligheid van Christus, word in die 1983 vertaling dikwels "goeie mense" genoem. Daarmee verdwyn die begrip van die regverdiging deur die geloof.Dit is van uiterste belang dat ons ons verbondskinders die skriftuurlike taal en die rykdom en diepte daarvan leer verstaan. Dat die 1983 Bybelvertaling en gevolglik die Cloete-omdigting van die Psalms ons daarby nie help nie, behoort duidelik te wees. Binne die kerke gaan mee daardeur 'n geslag opgroei wat die diepte van die rykdom van God se genade nie meer gaan ken nie. Tensy Hy dit genadiglik verhoed. Laat ons intussen die kinders wat die Here aan ons toevertrou het, opvoed in die vrees van sy Naam.