Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

DIE NEGENTIENDE-EEUSE KERKLIED

Die toelating van die Evangelische Gezangen in 1814

- DR JJA VAN DER WALT - IN: 1962. DIE AFRIKAANSE PSALMMELODIEë (BL 76 - 79) -

Die toelating van die Evangelische Gezangen in 1814 kan al beskou word as 'n aanduiding daarvan dat die kerk die spoor byster geraak het. Sodra die geloofslewe nie meer deur die suiwere bediening van die Woord van God gevoed word nie, kan sy konstitusie langsamerhand nie meer die felle lig van die Skrif verdra nie en ontstaan behoefte aan 'n ander meer gepaste geestesklimaat, wat uiteraard Humanisties georiënteerd sal wees. Waar die bediening van die Woord verflou, bly uiteindelik net die berymde Psalms oor as verteenwoordigers van die Waarheid.

Mettertyd word hulle dan aangevoel as vreemde of dan minstens onwelkome elemente in die nuwe geestesklimaat. Die oorspronklike, Woordgetroue berymings word dan (a) "aangevul" met liedere wat wel by die gewysigde geestesklimaat pas maar die psalms geleidelik na die agtergrond verdring, en (b) vervang deur ander wat 'n gepaster vertolking van die nuwe geesteshouding is. Die gebruik van (a) sluit (b) nie noodwendig in of uit nie. In Nederland byvoorbeeld het 'n nuwe beryming die nuwe geestelike liedere (gesange) met 29 jaar voorafgegaan, terwyl die twee dinge in Engeland min of meer gelyktydig opgetree het. In die Middeleeuse Roomse Kerk het dit voorgekom dat psalm en geestelike meditasie langs mekaar in dieselfde werk te staan gekom het, dikwels op so 'n wyse dat die psalm haas onherkenbaar geword het, byvoorbeeld in die Introïtusgesange van die Proprium van die Mis.

Die negentiende-eeuse kerklied

Hierdie veranderde omstandighede op kerklike gebied bring ons as vanself tot die insig dat die nuwe aanvullende liedere en gewysigde psalmberymings ook melodieë met 'n andersoortige karakter sal vereis. In die eerste plek kon die humanistiese oriëntasie waarvan hierbo sprake was, in die geval van die middel-negentiende-eeuse Kaapse kerk geen ander vorm aanneem as dié waarin die moderne mens van die negentiende eeu sy eie selfstandigheid, selfgenoegsaamheid en soewereiniteit tot lewensbeginsel verklaar nie (liberalisme). Waar hierdie geesteshouding hom in die kuns openbaar, het ons te doen met Romantiek in die kuns, soos blyk uit Victor Hugo se definisie as "liberalism in art". Die Romantiese kuns, wat pertinent subjektivisties is, word dus die vergestalting van die gees van die liberalisme.

In die tweede plek het die Romantiek die kerklied op 'n eiesoortige wyse beïnvloed. Ons het reeds vroeër daarop gewys dat die musiek in die erediens funksioneel is en nie "vry" nie. Die funksie van die musiek in die erediens word bepaal deur die opvatting van die wese daarvan. Waar die kerk 'n "genootskap" is wat deug en goeie sedes wil bevorder, word die erediens in wese eintlik 'n "stigtingsdiens" met die mens as objek van die stigting; die erediens word antroposentries in plaas van teosentries. In so 'n "erediens" kan die musiek net één funksie hê, en dit is om die mens te streel, en dit sal dit die beste doen as dit hom beroep op sy sinnelikheid; subjektivistiese gevoelsmusiek vir 'n subjektivistiese gevoelsgodsdiens. Soos verwag kan word, het die Romantiese musiek in die algemeen uitnemende middele verskaf vir die bereiking van hierdie doel met die kerklied.

Uit die voorgaande kan die volgende twee hoofvereistes vir die negentiende-eeuse kerklied afgelei word:

Gemoedelikheid: Die "persoonlikheid" van die melodie moet van so 'n aard wees dat niemand se gevoelens daardeur geskok sal word nie. John Beaumont, 'n prediker van Wesley, het hom in die voorwoord tot 'n bundel Metodistiese Anthems (1793) soos volg uitgelaat: "(They) can be introduced into any place of worship without shocking the feelings of the most delicate mind".

Sinnelikheid: Die mens moet die musiek as streling van die sinne ervaar. Die opmerking van PA Scholes in verband met Metodistiese musiek in die algemeen tref die kol: " ... it is a little on paper, or played on a keyboard instrument, but thrilling when thundered in harmony by a large body of voices". Dit was veral die harmoniese gebruike van die Romantiek (dominant vier, vyf- en seweklanke, vergrote sesde akkoorde, harmoniese ornamentasie van die kadens ensovoorts) en die soetsappige melodiek van die swakker tipe negentiende-eeuse kunsmusiek wat aangewend is om hierdie thrilling musiek te komponeer.

Hierdie tipe Metodistiese lied was nou presies van dieselfde aard as dié wat gedurende die negentiende eeu toenemend hier in Suid-Afrika gedeeltelik as kerklied en gedeeltelik as geestelike huismusiek populêr geword het. Die gewildheid en intensiewe verspreiding en beoefening daarvan is teen die agtergrond van die voorgaande maklik te begryp. Die musikale gehalte daarvan was sodanig dat dit onmiddellik inslag sou vind by 'n publiek met 'n musieksmaak wat hoofsaaklik deur ligte vermaaklikheids- en dansmusiek gevorm is, en die liedere is vereis en goedgekeur deur 'n kerk met 'n nuwe opvatting van die wese van die erediens en 'n gevolglik gewysigde funksiebepaling van die kerklied. Dit is interessant om daarop te let hoedat die ontwikkeling van die musieksmaak gedurende die agttiende en negentiende eeue in ons land wegbereidend was vir die gretige opname en verspreiding van hierdie oppervlakkige tipe godsdienstige lied, wat op sy beurt weer 'n ywerige verspreider van die Metodisme was. Dat die invloede só werksaam was as wat ons so pas aangedui het, word deur niks so presies bevestig as deur die liederwysies nie. Hierdie wysies wat as 't ware uit die volk self voortgekom het, toon soos niks anders nie wat die opvatting van kerkmusiek en -lied tydens die ontstaan daarvan (liederwysies) was nie, en vorm in die versmelting van al die verskillende invloede 'n unieke vergestalting van dié opvatting. Die voorbeelde wat opgeteken is, bevestig eintlik alles wat tot dusver gesê is: oppervlakkige sekulêre musiek (18de en 19de eeue) en populêre kerklied, waarby die "bekende" psalmmelodieë ingesluit is, het hulle stempel onuitwisbaar daarop gelaat.

Die musikale ideoom van hierdie geestelike liedere het die orrel- en koormusiek wat in die tweede helfte van die negentiende eeu hier te lande vir kerklike gebruik gekomponeer is, oorheersend beïnvloed. 'n Dergelike invloed was die kerkmusiek wat van oorsee (Engeland en Amerika) ingevoer is. Bevestiging hiervan kan onder andere gevind word in plaatopnames van kerkkoormusiek wat in die vroeë jare van die twintigste eeu gemaak is, asook natuurlik in die musiek self. ...

Vir die stoere, Woordgetroue psalmmelodieë, met hulle objektiewe eenvoud, kon in die radikaal gewysigde geestesklimaat en die daarmee gepaardgaande nuwe geestelike lied van die middel-negentiende-eeuse Boland geen waardering meer gevind  word nie. Dekade lange onbruik het onbekendheid meegebring, ... sodoende is daar omgesien na nuwe melodieë.