|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
"Die redakteur gesels met ... PROF BOUKE SPOELSTRA"
Vrae van Prof Amie van Wyk en Antwoorde van Prof Bouke Spoelstra
- SELEKTIEF OORGENEEM UIT DIE KERKBLAD, OKTOBER 2004, BL 10 - 14
Vraag: Jy noem in jou Beknopte Kerkgeskiedenis vir Katkisasie (1964 ev) die jaar 1804 toe De Mist sy Kerkorde aan die Kaap ingevoer het as die 'sterfjaar' van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Maar tog leef die NGK en die NHK nog en het die NGK groot sendingarbeid verrig. Is die bewering 'sterfjaar' nie ietwat oordrewe nie?
Antwoord: Die uitdrukking kom nie van my nie, maar uit 'n Kerkgeskiedenis van prof S du Toit vir katkisasie. 'Gereformeerde Kerk' kan op twee maniere verstaan word. Eerstens kan dit soos in die Reformasie 'n gemeenskap van mense aandui wat deur gemeenskaplike geloof saamgebind word (HK, Sond 21; NGB, artt 27 - 29). Die rasionalisme het die begrip in die negentiende eeu verplaas in kerkwette wat die staat vir die kerke voorgeskryf het, waarin dit 'n naam vir 'n vereniging of organisasie van mense tot bevordering van godsdienstige belange van sy 'lidmate' geword het.
Jou vraag met sy verwysings gebruik klaarblyklik laasgenoemde begrip van kerke. In die boekie het ek probeer om die geskiedenis in terme van formasie, deformasie en reformasie van die kerk as gelowige gemeenskap vir kinders te beskryf. Daarin was die Woord van God (en nie die Skrif soos vandag gepraat word nie) die norm of meetsnoer. 'Sterfjaar van die Gereformeerde Kerk ' het probeer sê dat die geloof en godsdiens op kerklike gebied tydens die Reformasie aan die einde van die agttiende eeu onder invloed van rasionalisme en liberalisme totaal verander het.
Die geloof en godsdiens van die Reformasie is dikwels genoem die leer, diens en tug van die Sinode van Dordrecht 1618/19. Aan die Kaap was daar vóór 1824 nooit 'n 'Kerk' (enkelvoud) met 'n 'naam' onder een sinode nie. Die eerste staatskerk kom aan die Kaap eers in 1824 op die basis van die Kerkwet (ordonnansie) van De Mist saam. Die Transvaalse staats- of Hervormde Kerk neem die inrigting na 1853 oor. In 1816 het die koning die Nederlandse kerke op dieselfde beginsels tot 'n Nederlands Hervormde Kerk (enkelvoud) omvorm. Die 'kerke' as genootskappe met 'name' soos waarna jy verwys dateer dus eers uit die negentiende eeu en is produkte wat in die agttiende eeu ontstaan het uit die idees van die Franse Revolusie.
Die proefskrifte van prof TN Hanekom, Die Liberale rigting in Suid-Afrika (1951) en JAS Oberholster se Die Gereformeerde Kerke onder die kruis in SA (1956) kan vandag gerus weer in die GKSA gelees word om faktore te verstaan wat kerkwees deformeer. Dit is veranderinge of deformasies soos hierdie wat die Reformasie in die sestiende eeu teen Rome en in afskeiding van kerke in Europa, die VSA en Suid-Afrika in die negentiende eeu veroorsaak het.
Vraag: In jou proefskrif het jy geskryf oor die Doppers in Suid-Afrika 1760 - 1899. Wat beskou jy as die hoofkenmerke van die "Doppers" destyds en vandag?
Antwoord: Die naam "Dopper" kom reeds in 1853 in die pers vir die trekleier Potgieter voor. In 1856 beskryf Zwerfgraag (waarskynlik die latere prof John Murray) in Het Volksblad baie simpatiek die "Doppers" as 'n bepaalde uitkenbare groep mense met eie innerlike en uiterlike kenmerke in die noordoostelike Kaapkolonie. Die naam het niks te doen gehad met 'n kerklike afskeiding van die Kaapse kerk in 1860 nie.
Volgens dokumente het omtrent een-vyfde "Doppers" met die Reformasie saamgegaan. Die meeste vanne onder die mense (soos Kruger, Van der Walt, Venter, Vorster, Steenkamp en ander) laat dink dat gene en Lutherse agtergrond van Duitse stamouers hierdie subgroep met hulle besondere godsdienserns en eie identiteit gestempel het. Die naam "Dopper" (waarskynlik van "dorper" afgelei, uit nuwe klein dorpies) het dus nie uit kerkstryd ontstaan nie, maar veset uit hulle geledere teen kerklike en sosiale veranderinge in die "verligte" eeu het aandag getrek. Hulle diep godsdienserns, hoë morele standaarde en afkeer van die negentiende-eeuse "nuwighede" staan vas.
Die norm (gebore uit daaglikse gemeenskap met God) waarmee hulle elke verandering in kerk en samelewing beoordeel het was: Is het (nuwigheid) naar Gods Woord? 'n Kommissie van die Kaapse Sinode sê in 1847 dat hulle nie in hulle godsdiens (ook met betrekking tot modes, vermaak ensovoorts) gedwing wil word om te verander nie. Hulle godsdienserns en strewe na gehoorsaamheid en verantwoording aan God as gedoopte verbondsvolk (soos Israel in die Ou Testament) kenmerk die gewone mense tot diep in die twintigste eeu.
Ek glo nie dat huidige "Doppers" hierdie historiese band voortsit of wil voortsit nie. Gelykmaking en relativering deur staatskole, evolusiegeloof, ondertrouery, immigrasie, verdwyning van huisgodsdiens en ouderlike kategese, afkeer van geskiedenis, invloed van media, afhanklikheid van geleerdheid, "kundiges" soos professore en predikante en sinodes en meer faktore, het die vermoë om te onderskei, 'n roeping te ken en te kan oordeel verlam. "Dopper" dui vandag nominaal 'n "lidmaat" van 'n bepaalde sinodale kerkgemeenskap en nie meer innerlike identiteit en geloof aan nie.
Vraag: In jou bydrae tot die Eeufeesalbum van die Gereformeerde Kerk Venterstad (1975:81) noem jy dat die Doppers soms ook vasgehou het aan dingetjies wat gerus kon verander het. Kon (klein) dingetjies nie dalk in die tradisie uitgroei tot "groot dinge" wat ons uitsig op die vyf solismes van die Reformasie kon verduister nie?
Antwoord: Ek is bang vir vergelyking, veroordeling en veralgemening. Wie maak uit wat is "klein" en wat is "groot"? Vir my is die beker as simbool van die verbondsgemeenskap "groot", vir 'n ander is dit "klein" en "middelmatig" en hy is gelukkig met 'n kelkie as simbool van individualisme. Meet ek 'n ander aan myself soos artikels in van die jongste Kerkblaaie doen? Wie en wat bepaal "groot" en "klein", Skrifgesag of Skrifgebruik?
Met "dingetjies wat gerus kon verander het", het ek gedink aan dinge wat bloot aan smaak (soos mode) toegeskryf kan word. Ek ken spanninge en emosies rondom vaste sitplekke in 'n kerkgebou, oor 'n manélpak as "uniform" vir kerkdiens, sit of staan onder die geloofsbelydenis, kollekte onder die diens of by die deure, voorsang of orrel in die kerkdiens, ensovoorts. Ek weet van mense in een van die oudste gemeentes wat oorgegaan het na die NG Kerk toe die manél afgeskaf is - twiste hieroor het kerkgemeenskap vertroebel. Dit raak egter myns insiens nie die vyf "solismes" nie.
Vraag: Wat beskou jy, as kerkregkundige, as die hartklop van gereformeerde kerkregering?
Antwoord: Gereformeerde kerkregering is bediening van die Woord waarmee God die gelowige en kerk regeer (vgl NGB, art 29). Wanneer "kerkreg" deur "kerk", "kerkorde" en "sinodebesluite" bepaal word is dit 'n onderdeel van verenigingsreg. Dit is soos die howe dit sal hanteer. Kerkreg ontaard dan in jurisprudensie van aparte kerkorde-artikels en sinodebesluite asof dit hofuitsprake of wetgewing is. Die Kerkorde wou egter in die sestiende eeu orde reël sodat sake volgens Skrif, belydenis en praktyk besluit (of liewer geadviseer) kon word.
Die Kerkorde reël daarom eintlik hoe kerke saam in kerkverband optree. Sodra Kerkorde en sinodebesluite ver-enigingsreg soos 'n konstitusie of kerkwet word, verplaas die "sinode" sig in die "pous" teenoor wie Luther hom op die Woord van God beroep het.
Gereformeerdes het onderskei tussen dwingende en bedienende gesag. God regeer met Christus as Koning van die kerk in 'n absolute monargie en daarom kan mense wat Hy roep en stuur slegs sy Woord met gesag bedien. Wanneer kerkregeerders egter op grond van hulle eie insig of agenda van die Woord en openbaring van die Koning van die Kerk afwyk (NGB, art 2 ev) of daarmee in botsing kom en dit afdwing asof dit van die Here kom, neem Satan, die vader van die leuen, beheer in die kerk oor en kan duidelik die kenmerke van die valse kerk gesien word (NGB, art 29).
Die Kerkhervorming het daarom die aanspraak van die pous dat hy die goewerneur van Christus op aarde is, verwerp (vgl Institusie van Calvyn IV, Konfessie van Guido de Bres, NGB, artt 1, 29 en veral 32). Kerkregering (die apostolaat) dra slegs gesag wanneer dit op die woord, wet en wil van die Hoof van die Kerk, die Sender, kan beroep.
Vir my is dit duidelik dat besluite van kerkvergaderings (kerkrade ingesluit) eers kan praat van Christus as Hoof van sy kerk en "bedienende gesag" wanneer die oorwegings of gronde (uit Skrif, Belydenis, Kerkorde of waaruit ook al) neergeskryf word in die notule voordat die besluit geneem word. So alleen kan 'n besluit minstens voorgee om te strook met wat Belydenis genoem word, naamlik dat niemand iets mag leer as wat in die Skrif geleer word nie, dat geen geskrif van mense daarmee gelyk gestel mag word nie, omdat alle mense uit hulleself leuenaars is (NGB, art 7).
Niks wat "regeerders van die kerk" onder mekaar sal instel om orde in die "liggaam van die kerk" te handhaaf sal afwyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. Gevolglik is die kenmerk van 'n gereformeerde belyder uit die Reformasie dat hy "alle menslike versinsels ... om God te dien" verwerp en slegs aanvaar "wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou ... toegepas ooreenkomstig die Woord van God" (NGB, art 32).
Na my mening is hierdie belydenis die hartklop van gereformeerde kerkregering.
Vraag: Bepaal die Kerkorde dan nie dat die gelowiges (of is dit "lidmate" van [kerklike] strukture"? 'n besluit wat met meerderheid van stemme in 'n kerkvergadering geneem is, moet aanvaar nie?
Antwoord: Dit is natuurlik die beginsel van die Franse Revolusie wat in die agttiende eeu die sogenaamde "demokrasie" tot stand gebring het waarvoor die Weste hoog opgee. Dit was egter nie die uitgangspunt tydens die Kerkhervorming (byvoorbeeld met die aanname van die Dordtse Leerreëls) nie. Buitelandse kolleges kon redes aanvoer waardeur enige saak in heroorweging geneem sou word. Stemme is dus geweeg en nie bloot getel nie. Die vraag was wat voer die teenstem aan.
Vandag kan mens vra of regeerders in kerke en afgevaardigdes in strukture toegerus en gekwalifiseer is om die mandaat in hulle geloofsbriewe, wat die vergadering saamstel, by voorstelle aan Skrif, Belydenis en Kerkorde te meet en daaroor te oordeel. Ek kan die vraag nie beantwoord nie, maar ek kan sê dat ek die indruk het dat dikwels bekwamer broeders tuis bly omdat hulle nie vir afvaardiging beskikbaar is nie.
Ek was uit onkunde aandadig aan die aanbeveling voor sinode van 1964 waardeur Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde verander en sogenaamd verbeter is deur die meerderheidstem sonder meer as koningstem in die neem van kerklike besluite te poneer. Van weeg aan Woord, Belydenis en Kerkorde is niks gesê nie, behalwe dat kerkrade kragtens die geloofsbriewe hulle vrywaar om besluite te onder-hou wat nie aan hierdie norme voldoen nie.
Die Dordtse Kerkorde het nie die demokratiese beginsel nie, maar die reg van appèl in Artikel 31 KO gereël. Dit het slegs in uitspraak op die prinsipiële gronde wat die appellant aanvoer om regskrenking te bewys die uitspraak van die meerderheid stemme beslissend gemaak. Die Dordtse Kerkorde formuleer dat die Skrif en Kerkorde die uitspraak in appèl bepaal. (Die Belydenis word hier nie genoem nie omdat 'n appèl teen formulering van die Belydenis kan gaan.) As meerderheid van stemme finaal was, was die Reformasie onwettig omdat Luther in Worms en elders tweede gekom het.
Vraag (1): Hoe sien jy die toekoms van die GKSA en (2): wat lei jy daaruit af?
Antwoord (1): Om die toekoms in verwysingsraamwerk met die verlede te sien gee nie baie moed nie. In die verlede was oortuiging, homogeniteit in Belydenis, Skrifgebondenheid en getuienis vanuit 'n kerklike identiteit en etos - op kerklike, politieke, taal- of kultuurgebied - 'n onmiskenbare bewys dat die GKSA sy omstrede bestaan as "kleinste Afrikaanse kerk" regverdig. ...
Die gereformeerde oortuiging het nie vir die antitese teruggeskrik nie, maar die roeping van God in die stryd tussen waar en vals, geloof en ongeloof, lig en duisternis, God en Satan aanvaar. ... Ons was nie gekant teen "tradisie" net omdat dit oud is nie. ...
Antwoord (2): Agendas van meerdere vergaderings en byvoorbeeld artikels in Die Kerkblad oortuig my nie van 'n "missie" en "visie" vir die GKSA met 'n eie roeping of identiteit nie. Die taal van die "Calvinisme" (as lewensbeskouing, hoe gebrekkig ook al het ná 1951 verdwyn.
Verder is ek van mening dat ons baie versigtig moet wees om mekaar te etiketteer (deur na mekaar te verwys as "fundamentalisties" of "tradisionalisties" ensovoorts. Is die Belydenisskrifte, geloof aan Skrifgesag en Skrifinspirasie, kerkordelike uitlewing van kerkverband nie basies, fundamenteel en die wortels van die geloof nie?
In die Reformasie is in die vyf solismes na God, en daarom na die geënspireerde Woord van God, wat Gees is, teruggegryp. - en nie na die gesag of eksemplarisme van Paulus as skrywer nie.
Daarom is dit vir my verbasend dat in artikels wat in Die Kerkblad verskyn meer na die "kerk" as na "God" verwys word.