|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
INDRUKKE VAN DIE 67E ALGEMENE KERKVERGADERING VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA
Gehou in Pretoria, vanaf 27 September 2004 - Anonieme kommentaar
Inleidend
Die posisie van die Afrikaanse kerke in die nuwe Suid-Afrika word, so wil dit voorkom, nog steeds bepaal deur die nawerking van die eerlose oorgawe van 1994. Een van die studiestukke vir die Algemene Kerkvergadering het gestel: "Die dominante denke (in Suid-Afrika) sal toenemend die Afrikadenke wees ..." Daarom word gesuggereer dat die Afrikaner-gelowige maar beskeie een-kant moet staan en hom probeer aanvaarbaar maak vir die dominante meerderheid (deur veral sy eiesoortigheid te laat vaar). Dit ook, omdat die Afrikaner en die gelowiges in die Hervormde Kerk, in 'n bankrotskap verkeer want, so word ewe stellig gesê: "Ons teologie word gekenmerk deur die feit dat ons eintlik niks te sê het wat ons positief wil en kan uitdra nie." Daarby word gestel dat die Afrikanervolk verdwyn het en dat daar nog net 'n klomp los enkelinge oorgebly het.
Dit lyk of die opvattings beskou word as die manier waarop tydens die vergadering deur die dominante meerderheid gedink is. Daar was verskillende ander sake wat bespreek is wat dit onderstreep het.
Die kwynende kerk
Daar is in die Evangelisasierapport gepraat oor die kwynende Kerk. In die dekade 1992/3 tot 2002/3 het daar volgens die kerklike statistiek 20 932 belydende lidmate die kerk verlaat. Dit is 'n gemiddelde verlies van 1 902 belydende lidmate per jaar ofwel in verhouding twee na drie gemeentes. Evangelisasie-aksies is bespreek en aanbeveel maar die groot klagte is dat die predikante nie opgelei is vir so 'n taak nie en ook niks te sê het nie!
Die opleiding
Dit het op sy beurt die fokus op die Opleiding geplaas . Dit was, op grond van 'n kontrak met die Universiteit van Pretoria, tot die jaar 2000 'n kerklike opleiding wat deur die leer van die Kerk bepaal was. Dit is nou beëindig en 'n verenigde Fakulteit Teologie het tot stand gekom wat deur die NG Kerk op 'n verhouding van 2:1 oorheers word. Die Fakulteit is soos dié van UNISA, nie meer leergebonde nie. Dit blyk uit die feit dat die Nobel-pryswinner, die afgetrede Aartsbiskop van die Anglican Church, biskop Desmond Tutu die skutspatroon van die fakulteit is en jaarliks daar gehuldig word.
Met die totstandkoming van die sekulêre Fakulteit is die band met die verlede doelbewus afgesny toe die Hervormde Departement Kerkgeskiedenis afgeskaf is.
Dit het die moontlikheid oopgelaat om nuut te begin sonder die "bagasie van die verlede". Dit wil voorkom asof die Kerk nou besig is om sy teologie (wat vroeër niks beteken het nie) te herstruktureer na die eise van die teologie van die Wêreldraad van Kerke. Daarvoor het het 'n vroeëre WRK- teoloog Prof H Berkhoff van Nederland geargumenteer dat die leer van die Marxisme in die kerklike teologie ingeskakel moet word omdat die Bybelse boodskap nie iets het wat gebruik kan word om change (= die versosialisering van die maatskappy en sy denke) te bevorder nie.
Die besluit van die Vergadering om weer by die Presbyterian Alliance aan te sluit, dui daarop dat dáár seker nou teologiese hulp en versterking gevind wil word. Netso kan die besluit om eenwording met die Hervormde Kerk van SA (die sendingskerk) te ondersoek, verstaan word. Terwyl die HKSA reeds lid van die SACC (Suid-Afrikaanse Raad van Kerke) is, kan eenwording met die HKSA 'n maklike pad na die SACC oopmaak.
Dit lyk asof die hele stryd wat die Kerk vanaf 1961 teen die Ekumeniese Beweging en sy "teologie" gevoer het, nou as 'n vergissing beskou word en daarom uitgewis moet word.
Samevattend
Indien na die geheel van die werksaamhede van die Vergadering gekyk word, laat dit die situsasie van die Kerk en sy vergadering nogal dink aan die toestand van die Nederlands Hervormde Kerk in die jare na die oorlog van 1939 tot 1945. Toe was die sosialisme in Nederland aan die bewind en het 'n groep rooi dominees, met hulle eie agenda, die Nederlandse Kerk ingespan vir verandering en die skep van 'n mensgemaakte paradys op aarde. Nou, byna sestig jaar later het die oorblyfsels van die voormalige, groot volkskerk, saam met die Gereformeerde Kerken (sinodaal) van Nederland en die Lutherse Kerk saamgesmelt om 'n nuwe Protestantse Kerk te vorm.
Akkomodasie aan die wêreld, die filosofieë en denkstrome van die wêreld, die vereenselwiging met die politieke opvattings van Karl Marx en die poging om die Kerk te "Afrikaniseer" lyk sake baie opwindend vir diegene wat verantwoordelik was vir 1994. Dit betaal seker ook goed. Die Kerk is egter veronderstel om die pad van die geloof in die Drieënige God te loop. Vir die geleerde Bybelwetenskaplikes bestaan daar egter nie meer 'n Drieënige God nie, ook nie 'n ewigheid nie.
Nou is dit 'n oop vraag wie die koers in die Her-vormde Kerk gaan bepaal. VDM