|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
Gesprek met die Lesers:
Dis al weer 'n jaar van ons Here wat na die einde snel. Die tyd gaan vinnig. Die Here vra om dit uit te buit tot diens in sy koninkryk. Dit is wat gedoen is die afgelope tyd middels die periodieke ver-skyning van ons blad.
Die omstrede sinodebesluite GKSA 2003 sal tydens die sittings van die Partikuliere Sinodes later in hierdie maand opnuut die kalklig ontvang. Verskeie klassisvergaderinge het aandag daaraan verleen en vra vir behandeling van besware. Dit sal waardeer word om inligting daaroor te ontvang vir publisering in die Januarie 4005 uitgawe van ons blad.
'n Belangrike samewerkingsooreenkoms GKSA is bereik tussen 'n aantal kerkrade wat onderneem om 'n kerklike konferensie te belê om oor die saak van besware teen die omstrede sinodebesluite te besin en om gesamentlik 'n koers en hantering op die plaaslike vlakke te bepaal. Dit sal veral vir verstrooide lidmate wat moeite opgetel het met die toepassing van besluite waar hulle hul nie mee kan versoen nie, 'n riem onder die hart wees om in die gemeenskap van die heiliges daaroor te gesels en leiding te ontvang. Bring hierdie konferensie asseblief onder die aandag van belanghebbende persone in u omgewing wat nie hierdie inligting deur middel van hulle kerk-rade ontvang nie. Daar is talle lidmate van die GKSA wat die hou van hierdie konferensie bepleit het en graag sal verwelkom.
Dit was verrassend om te verneem dat die AP Kerk se sinode, waaroor in hierdie uitgawe gerapporteer is, die 2001 (Cloete-) omdigting nie aanvaar het vir gebruik in hulle eredienste nie.
Soos dit in die verslag op bl 14 hierin vermeld is, was die besluit nogal eenparig. Mag dit meewerk ten goede om in die GKSA 'n kritiese ingesteldheid te bevorder. Baie dankie aan prof FAH van Staden vir 'n netjiese verslag wat hy gelewer het.
Die Nederduitsch Hervormde Kerk se Algemene Kerkvergadering het, nieteenstaande die positiewe aanbeveling van sy kommissie van die raad vir erediens, die deelname van jong kinders aan die nagmaal verwerp. In ons blad is reeds vooraf die uiteenlopende standpunte bekendgestel, sodat ons lesers daaroor ingelig was. Nogtans baar die rigting waarheen dié kerkverband beweeg sorg, wat bewoord is in die indrukke wat ons van 'n gewaardeerde intekenaar-leser van ons blad vir publikasie ontvang het. Dit is in hierdie uitgawe elders gepubliseer.
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk raak al hoe meer die gereformeerde spoor byster. Dit kom tot uitdrukking in die berigte wat ontvang word oor die voortgaande verwerping van die Bybelse waarheid en die binding aan die gereformeerde belydenisse. Daar is pogings om vas te staan, soos byvoorbeeld tydens die konferensie wat in Suider-Strand gehou is.
Op bladsy 7 is dit gerapporteer. Wat daar aan die orde gestel is, druis in teen die stroom van Skrifkritiek en versaking van kerklike tug. Tog sal dit die NGK nie terugplaas op die gereformeerde spoor wat hy sienderoë al hoe meer verlaat. Met die oog daarop rys die vraag of die behoudendes in die Gereformeerde Kerke nog kan saamwerk in interkerklike of tussenkerklike verband met die NH en NG Kerke. Hoever strek die konsekwensie van ware kerk wees in die terminologie van artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis? Ons vra maar net.
Dit is helaas onvermydelik dat vir die hernuwing van intekening die prys aangepas moet word aan die omstandighede. Dit beteken 'n vermeerdering van R15-00 vir jaargang nommer 9. Die koste vir herintekening bedra dus van nou-af R135-00 vir die ses uitgawes wat DV gedurende die jaar 2005 sal verskyn. Ons vertrou dat hierdie noodsaaklike verhoging vir die intekenare/lesers aanvaarbaar is en dat hulle sal voortgaan met die verlening van hulle morele en finansiële ondersteuning.