|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
Hoofartikel
DIE ANTICHRIS
Die Christelike godsdiens staan onder die bedreiging van die Antichris. Dit is slegs die apostel Johannes wat in sy Sendbriewe direk daarna verwys. Wat en wie is die Antichris en hoe is sy verskyning? In sy eerste Sendbrief, hoofstuk 1, vers 18, skryf Johannes aan die kerk van alle eeue: "Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is." Die teks verwys na Jesus Christus se profetiese rede (Matt 24 : 23 en 24): "As iemand dan vir julle sê: Kyk hier is die Christus! of: Daar! - moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei." Die beslissende eindstryd tussen die almagtige Skepper van hemel en aarde, die Drieënige God: Vader Seun en Heilige Gees, staan meer uitvoerig beskrywe in die laaste Bybelboek, die Openbaring aan Johannes. Maar dié stryd het reeds begin in die Paradys, waartydens die Here God die antitese, die vyandskap tussen die saad van die slang en die saad van die vrou gestel het (Gen 3 : 15).
Die Here het die mens geskape met die opdrag om dit wat Hy gemaak het, die aarde met alles wat daarop en daarin was te bewerk en te bewaak. Die mens was die kroon van die skepping met die vermoëns wat God aan hom toebedeel het. Die verhouding tussen God en sy skepsel was skoon en mooi. God het gesien alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed (Gen 1:31).
Daar was egter 'n teëstander wat die werk wat God gemaak het wil vernietig.Hy wil soos God wees en oor die aarde heers. Om die mens te beproef in die waaragtigheid van sy geloof, laat God toe dat die Satan op die aarde rondgaan soos 'n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind (1 Pet 5 : 8). In Johannes 8 : 44 verwyt Christus die Jode wat nie in Hom glo nie dat hulle kinders van die duiwel is: "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan." Openbaring 12 : 9 en 20 : 2 verleen aan die teëstander van God en die verleider van die mense die volgende name om hom te tipeer: "groot draak", "slang wat genoem word duiwel" en "Satan wat die hele wêreld verlei".
Die verleiding het reeds begin in die Paradys. Die slang wat listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het was, het met die verbygaan aan Adam, met sy vrou Eva gaan praat en haar laat twyfel aan wat God uitdruklik beveel het. Sy het geval vir die verleiding van Satan. Daarna het sy Adam oorgehaal om saam met haar te sondig teen die gebod van die HERE. Van toe af is daar tweërlei saad. Die kinders van die HERE en die navolgelinge van die Satan.
Nadat so die sonde in die wêreld gekom het, kom die Goddelike Skepper met sy openbaring van die toekoms van die menslike geslag. Dis die openbaring van stryd en moeite, maar ook van verlossing en heil (Gen 3 :15): Hy spreek die slang (Satan) aan: "En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt." Die saad (nageslag) van die vrou is die kinders van die Here en die "Hy" is hulle hoof, Jesus Christus, wat sal kom om die Satan te oorwin. Hy is die vredemaker tussen God en sy kinders, die saad van die vrou. "Vrede op aarde, in die mense 'n welbehae" (Lukas 2: 14b). Maar hierdie vrede gaan gepaard met stryd en verdeeldheid. Simeon sien, onder inspirasie van die Heilige Gees, dié verband raak en profeteer daarvan: "Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word - ja 'n swaard sal deur jou eie siel gaan - sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word" (Lukas 2 : 34,35). Later praat Jesus Christus met sy dissipels daaroor: "Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! ... Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid ..." (Lukas 12 : 49 vv). Dit is 'n vervulling van die openbaring in Genesis 3 : 15: Vyandskap tussen die kinders van die Here en die saad van die slang, die Satanskinders.
Op die eiland Patmos ontvang die apostel Johannes die openbaring van die volkome oorwinning van Jesus Christus oor die Satan en sy trawante. ("Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier"). "Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin - en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou" (Openb 17 : 13, 14). Dit verwys duidelik terug na die Goddelike proklamasie van die antitese, geopenbaar in Gen 3 : 15. "Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee, totdat die woord van God volbring is" (Openb 17 : 17).
As ons terugkyk op die geskiedenis van die mensheid, kan gewys word op die begin van die aanroeping van die Naam van die HERE, wat die vrouesaad onderskei het van die slangesaad: "En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE aangeroep" (Gen 4 : 26). Daarmee is 'n grens getrek, die antitese gehandhaaf tussen die eer aan die Here teenoor die Sataniese ongehoorsaamheid aan God se gebooie en beloftes. Die kultuuropdrag om die aarde te bevolk en te ontwikkel het op tweërlei wyse plaasgevind, soos dit in hoofstukke 4 en 5 van Genesis beskrywe is. Tragies genoeg het daar al hoe meer ondertrouery en sosiale verkeer tussen God se kinders en die "kinders van die mense" ontstaan wat uitgeloop het op 'n algemene afwending van die diens aan die HERE. "Die boosheid van die mens op die aarde was groot en al die versinsels wat hy in sy hart bedink het was net sleg" (Gen 6 : 5) As gevolg daarvan het dit Hom berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het en het Hy besluit om hulle van die aarde te verdelg, wat Hy deur middel van die Sondvloed gedoen het. "So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was" (Gen 7 : 23).
'n Nuwe begin. "God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde ..." (Gen 9 : 1 vv). Die HERE hernu die verbond met van sy kinders wat Hy laat oorbly het en oproep om Hom te dien in die kultivering van die wêreld. Al gou sien ons die uitbreek van die sonde met as gevolg die profesie van vloek en seën (Gen 9 : 25 - 27). Alweer die onderskeiding van twee linies waaruit "die nasies op die aarde hulle verdeel het ná die vloed" (Gen 10 : 32).
In Genesis 11 vanaf vers 10 lees ons dat God dit op 'n besondere wyse beskik het dat die lyn van die vrouesaad kon vorder en uitloop op die koms van die beloofde saad wat die slang se kop sou vermorsel. Dit is die nageslag van Sem, seun van Noag: "Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees. Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees" (Gen 9 : 26, 27).
Hieraan gaan vooraf: die toringbou van Babel, die strewe om "vir ons 'n naam te maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie". Die HERE sien wat Hy gemaak het, Hy ken sy maaksel. Hy het in sy almag 'n verwarring teweeg gebring wat niemand tot vandag toe ongedaan kan maak nie. "Die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie".
Alweer die Sataniese samebinding, die antichristelike eenheidstrewe, die uitwissing van die antitese, die opheffing van die stryd tussen vrouesaad en slangesaad. Satan triomfeer! Nee. Tog nie! Let op wat die HERE gedoen het om die slang se kop uiteindelik te kan vermorsel: "Kom, laat Ons (die Heilige Drieëenheid) neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; ..." (Gen 11 : 5 - 9). Dis die wyse waarop die HERE self gesorg het dat daar ruimte vir sy kinders, vir sy kerk op aarde sal wees om Hom te dien. Dit begin met die splitsing van die - ná die sondvloed se - mensdom in geslagte, tale, volke en nasies.
In Openbaring 5 : 9 word die antitese besing wat sodoende gehandhaaf is. Die HERE het dit so beskik. Aanvanklik deur middel van die een volk van die Verbond, die geslagslyn Sem - Abraham - Isak en Jakob, die uitbreiding in twaalf stamme, hulle isolement in Egipte en later die bestaan as 'n afsonderlike volk van die Here in die land Kanaän. Daarin is die Messiaanse belofte, wat in die Goddelike proklamasie oor die stryd tussen vrouesaad en slangesaad (Gen 3 : 15) opgesluit is, op God se tyd vervul. Jesus Christus het gekom om die paradysboodskap van die oorwinning oor die Satan te volbring. Nou kon dié heilsboodskap na alle geslagte, tale, volke en nasies uitgedra en geëvangeliseer word. "Bekeer julle ... Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag ... Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep" (Hand 2 : 38 - 40).
Die nuwe bedeling het aangebreek. Nou funksioneer die vrouesaad en die antitese in en deur middel van die kerk van die Here binne 'n verskeidenheid van geslagte, tale, volke en nasies. "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie ..." (Openb 5 : 9) .
Die Antichris (opskrif hierbo). Wat en wie is hy en hoe is sy verskyning? Die apostel Johannes beskryf dit in sy algemene Sendbriewe. "...dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie ..." (1 Joh 2 : 18, 19). Dit vestig die aandag op twee aspekte: (1) dat die Antichris in verband staan met die eindtyd vóór Christus se wederkoms, en (2) dat hy religieus georiënteerd is. Laasgenoemde staan in die verhouding waar en vals soos die NGB, artikel 29 daaroor handel.`
By Johannes bereik die leer van die Antichris die saak van die antitese. Dié benaming kan sowel beteken: wat hom teenoor, as diegene wat hom in die plek van Christus stel. Johannes tipeer die gees van die Antichris as "die verleier" wat ontken dat Christus in die vlees gekom het (2 Joh :7).
Openbaring 13 verwys na twee diere wat uit die see opkom. Die een (verse 1 - 10) is, volgens betroubare teksuitleg, bekleed met wêreldse mag. "Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie" (vers 7). Die tweede dier (verse 11 - 18) verteenwoordig die valse profesie "deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het."
"Ons volk heeft den antichrist weer leren zien als opkomende uit de volkeren-zee" , aldus prof dr K Schilder. Hy beklemtoon die toenemende wêreld-omvattende eenheid van en sintese tussen kerk en wêreld. Vandag praat ons van die "Nuwe Wêreldorde". Dit is vandag se vergestalting van die antichris wat tot uitdrukking kom in die massale ondersteuning van die strewe na wêreldeenheid op die sekulêre en religieuse terreine van ons huidige bestaan.
Die stryd van vrouesaad teen die saad van die slang bereik sy hoogtepunt as die Satan se antichristelike gees die mag ontvang om die kinders van die Here tot die uiterste te vervolg sodanig dat daardie dae ter wille van die uitverkorenes verkort sal word (Matt 24 : 22).
Iets daarvan is tans besig om te ontwikkel. Let maar op die tekens! "De Marxistische revolutie, met haar vreeslijke machtsstaat, de machtsstaat van de wettelozen, tóónt al haar verschrikking. Het bewijst ons, hoe in al die menselijke wijsheid de antichrist zich de weg baant naar de macht" (A.Zijlstra. In: Tenzij: Schriftuurlijke Beginselen voor het Staatsleven. 1950. Amsterdam: Buijten en Schipperheijn (bl 113).