|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
KERKLIKE JOERNAALALGEMENE KERKVERGADERING NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VERWERP KINDERNAGMAAL
Kinders in die Hervormde Kerk gaan nie toegelaat word om die nagmaal te gebruik nie.
Die kerk se algemene kerkvergadering het op Donderdag, 30 September 2004, besluit om 'n aanbeveling van die raad vir die erediens hieroor te verwerp. Die raad het gemeen daar is geen beginselgronde waarop die nagmaal aan kinders geweier kan word nie.
Afgevaardigdes het egter hulle bedenkinge daaroor uitgespreek.
Party het praktiese probleme gesien, maar verskeie het dieper liggende besware gehad wat veral gegaan het daaroor dat mense moet verstaan waaroor die nagmaal gaan voordat hulle dit gebruik.
Dit beteken die NG Kerk is die enigste susterkerk waar kinders die nagmaal kan gebruik, aldus Neels Jackson, BEELD, Vrydag 1 Oktober 2004.
Ons verwys die lesers graag na die uitgawe van ons blad, Julie 2004, bl 15, waar dié saak pro en kontra beskryf is.
Lees ook die "Indrukke" van 'n intekenaar-leser (lidmaat van die NH Kerk) aangaande die 67e Algemene Kerkvergadering van sy kerkverband in hierdie uitgawe van Die Kerkpad geskryf het.