|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
KERKLIKE JOERNAALELFDE SINODE AFRIKAANSE PROTESTANTSE KERK, PRETORIA,
6 TOT 10 SEPTEMBER 2004
ENKELE BELANGRIKE BESLUITE
- Beriggewing op versoek van ons redaksie versorg en aangebied deur Prof FAH van Staden -
Die elfde sinode van die Afrikaanse Protestantse kerke het vanaf 6 September tot 10 September 2004 in Pretoria vergader onder voorsitterskap van prof. FAH van Staden, bygestaan as ondervoorsitter deur prof. HCG Robbertze. Die vergadering was gereël tot 11 September, dog kon ten spyte van die lywigste agenda nog reeds op 10 September die werksaamhede afhandel. Dit was te danke aan onder andere die wonderlikste gees van begrip, goeie gesindheid, eenstemmigheid en samewerking van die kant van die afgevaardigdes en die feit dat die kommissieverslae sodanig beredeneerd en volledig was dat dit onnodige debat uitgeskakel het.
Enkele van die belangrikste besluite geneem is:
Die Liedboek
Die veelbesproke "Liedboek", wat deur die Ned. Geref. Kerk en die Ned. Hervormde Kerk as hul kerklike sangbundel aanvaar is, was nie deur die tiende sinode 2001 aanvaar as sangbundel nie, dog na ‘n Ad Hoc-Kommissie vir Sangbundel verwys om die hele aangeleentheid deeglik te ondersoek en die sinode 2004 met ‘n verslag en aanbeveling te bedien vir ‘n eie sangbundel. Dit was ook besluit dat plaaslike kerke buite die erediens die "Liedboek" kon toets ten einde op die hoogte van sake te kom wat die inhoud betref. Verder was, gebonde aan ‘n keerdatum, geleentheid gebied aan lidmate en kerkrade om die Ad Hoc-Kommissie te bedien met gemotiveerde besware, wenke, aanbevelings ensovoorts. Sonder om verder op die werkswyse in te gaan, word die besluite gestel:
Kennis is geneem dat die Psalms- en Gesangeboek, soos tans in gebruik nie meer in die toekoms beskikbaar sal wees nie.
Kennis is met die hoogste waardering daarvan geneem dat die NG Kerk-Uitgewers by monde van ds. Hans Linde bevestig het dat die AP kerke ‘n eie sangbunde kan saamstel uit Psalms, Gesange en die Liedboek en deur hulle vir die AP kerke gedruk sal word.
Nadat die voorsitter die vergadering ingelig het oor die werkswyse van die Ad Hoc-Kommissie en wat aanbeveel word as sangbundel, is eenparig en met groot akklamasie besluit dat net die Psalms in die huidige Psalmbundel, dit wil sê die Totiusberymings (prof. dr. JD du Toit) behou word met sekere noodsaaklike wysigings ten opsigte van enkele sogenaamde "argaïsmes" en "Hollandismes" en hier en daar skaafwerk aan ‘n reël. Een van die reëls deur die Ad Hoc-Kommissie neergelê was dat niks gewysig word sonder dat die Bybel geraadpleeg is nie.
‘n Gesangebundel saamgestel word bestaande uit Gesange uit die huidige bundel en ‘n aantal strenggekeurde liedere uit die "Liedboek".
Die besluit van die sinode behels dus dat die "Liedboek van die Kerk" nie in sy huidige vorm vir die AP kerkverband aanvaar is as sangbundel nie en dat ‘n eie Psalm- en Gesangbundel, genaamd "Psalms- en Gesange vir die AP Kerk" saamgestel en uitgegee word vir gebruik in die eredienste van die AP Kerke.
Vir hierdie aangeleentheid het die sinode twee uur en twintig minute vir debat afgesonder, dog vanweë die absolute eenstemmigheid is die aangeleentheid in minder as een uur afgehandel. Kan ons anders dan om aan die Here die eer te gee, wat kennelik deur sy Gees gelei het!
Teologiese Opleiding
Die teologiese opleiding van predikante vir die kerkverband deur die Afrikaanse Protestantse Akademie het vanuit die verslae van die Kuratorium en die Akademie besondere belangstelling geniet. Daar is met groot waardering kennis geneem van díe werksaamheid en dat na ‘n rekordgetal van sewe kandidate wat einde 2003 beroepbaar gestel is, daar DV einde 2004 ‘n nuwe rekordgetal van nege kandidate hoop om gelegitimeer te word.
Die Akademie het dusdanig gegroei en uitgebrei dat ruimte veral ten opsigte van die biblioteek, wat ‘n reuse groei beleef het en lesinglokale noodsaaklik uitgebrei moet word. Daar die sinode nog die Akademie met geboue subsidieer, het die sinode feitlik eenparig gestem dat ‘n groot bedrag geld beskikbaar gestel word vir die bouwerk en dat ‘n perseel aanliggend, wanneer dit in die mark kom, ook aangekoop moet word vir uitbreiding.
Die Akademie beleef tans ‘n groot aandrang vir die opleiding van onderwysers, maatskaplike werkers en daar is selfs navraag gedoen oor ‘n regsfakulteit.
Hier pas, gelet op die stryd gevoer om te bereik wat bereik is, die erkenning: Die Here het voorsien! Die Here het laat groei!
Lidmate in die buiteland
Daar is reeds sewe gemeentes in Namibië, een in Cauquazu in Paraguay, terwyl lidmate in Zambië gedurende November 2002 van die AP kerk Carolina afgestig het tot ‘n selfstandige gemeente. Laasgenoemde twee word deur predikante uit die RSA besoek. Die jongste verwikkeling is dat lidmate in die Verenigde Koninkryk gegroepeer het as ‘n wyk van die AP Kerk Namakwaland (Springbok). Reëlings vir hul bediening word deur die laasgenoemde kerkraad hanteer.
Onderwys
Die sinode het met waardering kennis geneem van die stryd wat op onderwysgebied gevoer word deur die BCVO, ARSO en VCHO om nie net die standaard van onderwys te bevorder nie, maar veral om Christelike onderwys sy regmatige plek in skole te laat inneem. Onder andere is deur die Kommissie vir Onderwys en Opleiding onderworpe geïdentifiseer ten opsigte van die leerarea "Lewensoriëntering", wat gebruik kan word vir onderwysopleiding en oriëntering.
Die Kerkorde
Ten einde te voldoen aan die vereistes van die Inkomstebelastingwet, sodat vrystelling verkry kan word van inkomstebelasting, is ‘n paar bepalinge in die Kerkorde vasgestel, wat belangrik is vir elke gemeente en die kerkverband. Dit gaan uiteraard hoofsaaklik oor finansies en eiendom.
Uit ‘n lywige sakelys is hierdie paar aangeleenthede uitgelig om die leser te laat deel in die besluite van die elfde sinode.