Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

DIE AFRIKANER EN DIE KERK

- DR AP TREURNICHT. IN: "CREDO VAN 'N AFRIKANER". 1975. KAAPSTAD: TAFELBERG (BL 76 - 84) -

(Vervolg)

Feit is: die Afrikaner moet teologies, "Christelik" geïntimideer word! Hy moet skuldig voel oor sy nasionalisme. Hy moet dink dat hy uit pas is met die Christelike kerk. Hy moet glo dat daar geen Bybelse grondslag vir ons volkere-beleid is nie. . . . (Sien vorige uitgawe, bl 19)

Nog ander praat die kommuniste klakkeloos na in hul aantyging dat die boodskap van ons kerke sou wees "a pie in the sky when you die". As ons nie meedoen aan kerklike politiekery (veral die liberalistiese soort) nie, nie saam met die Wêreldraad van Kerke werk "to be immersed in the struggle for social, economic and political justice in our time" nie, moet ons veroordeeld staan oor ons ontrou teenoor die mens van ons tyd en sy ekonomiese en politieke nood.

Die Federal Council of Churches van Amerika het verklaar: "Die kerk moet 'n voorstander wees van sosiale beplanning en kontrole van die krediet- en monotêre sisteme en ekonomiese prosesse"!

Niemand sal kan beweer dat ons Afrikaanse kerke afsydig gestaan het teenoor die stoflike node en die kultuurbelange van ons volk nie, maar ons het ook besef wat prof Zuidema so treffend gesê het: "Die akkomodasie van die evangelie aan "die node van ons tyd" is die graf van die evangelieprediking". En dit is wat 'n liberale en pienk godsdiens gedoen het: dit het die ergernis of struikelblok van die kruis weggeneem.

In die sogenaamde "nuwe teologie" het manne soos Bultmann probeer om die teologie van beweerde "mites" te suiwer, dit wil sê om alle bonatuurlike elemente in die Nieu-Testamentiese verhale oor Christus, byvoorbeeld Sy opstanding, uit te skakel. Dit het die weg berei vir die God-is-dood-teologie en die "Christelike ateïsme" van Altizer, Hamilton, Cox, Sölle en andere wat die Christelike godsdiens op 'n humanistiese wyse gereduseer het tot 'n godsdiens van diens aan die medemens ("Mitmenschlichkeit").

In dié teologie is Christus wel nog sentraal, maar dan net in sy mensheid en nie as God deur wie alle dinge geskape is nie. Vromer klink dit wanneer vir die Afrikaner -gelowige beduie word dat die begrip "Christelik-nasionaal" 'n teenstrydigheid sou behels; of dat naasteliefde die selfliefde uitsluit en die liefde vir die eie volk veroordeel. Naasteliefde en nasieliefde sou dan onversoenlik wees. Of anders is die versoening in Christus ("atonement", of liewer "at-one-ment") die einde van volksonderskeidings en aparte volksbestaan. 'n Afrikanervolk wat as afsonderlike volk wil bly voortbestaan, sou dan die versoening deur Christus verwerp.

Volgens die Nuwe Belydenis van die Presbiteriaanse Kerk in die VSA (1967) moet die kerk as die gemeenskap van die versoening alle mense daartoe bring om mekaar as persone te aanvaar en die lewe met mekaar te deel "in work and play, in courtship, marriage and family, in church and state". Die bedoeling is dus om die mensdom polities, sosiaal en godsdienstig te verenig en biologies te vermeng! Die liberalisme, met sy oordrewe verheerliking van die enkeling, word hier tot evangelie verhef.

Dit word ons Afrikaanse kerke verwyt dat hulle 'n bepaalde politieke beleid sou propageer, maar dit is veel eerder waar dat dit hierdie ander kerke, en 'n organisasie soos die Wêreldraad is wat die (ón)liberalistiese (!) gelykheids-dwang en die humanistiese eenheidskultus tot nuwe evangelie gemaak het in die plek van die kruisevangelie.

Die aanslag op ons volk en ons kerke kom nie net in die vorm van pogings tot sedelike oorreding nie, maar ook deur dreigemente van geweld. In hierdie opsig het ons inderdaad vreemde dinge belewe. Die Pous van Rome verleen oudiënsie aan terroristeleiers en verleen daarmee kerklike erkenning aan 'n organisasie wat sabotasie, moord en bloedvergieting as middele gebruik teen die sogenaamde "rassisme" en blanke "minderheidsregerings" in Suider-Afrika. Die Wêreldraad van Kerke verseker terroriste nie net van morele steun nie, maar verleen ook finansiële steun aan hulle. 'n Paar jaar gelede bepleit die Britse Raad van Kerke 'n blokkade van Suid-Afrika, 'n inval in ons land en die vernietiging van apartheid. Die Presbiteriaanse Kerk van die VSA reik 'n verklaring uit waarin bekende Suid-Afrikaanse kommuniste verdedig word. 'n Voormalige aartsbiskop van Kaapstad oorhandig namens "opponents of apartheid" 'n petisie aan die VVO, en dit is onderteken deur kommunistiese organisasies in Kuba, Rusland en Oos-Duitsland, asook deur "staatsmanne" van Rooi China, Algerië en Uganda, en ... deur mnr Bresjneff van die Sowjet-Unie!

Geen wonder nie dat Philbrick oor die kommunistiese strategie kon sê: "As dekmantel bied die kerk besliste voordele aan kommuniste. Dit is die vesting van idealisme. Dis die plek waar jy verwag om 'n sosiale gewete te vind. Dis bo verdenking - die volmaakte skuilplek vir kommunistiese agente".

'n Volle relaas van kerklike dwalinge kan hier nie gegee word nie, maar ek wil 'n paar uitlig wat betrekking het op die welsyn van ons volk.

Sekularisme. Daaronder verstaan ons die ontkerstening van die lewe op alle terreine. Selfs die kerk moet aards word, volledig aards, in die sin dat elke verwysing na die hemel, na die hiernamaals, die "jenseits", afgemaak word as ydele dromerye. Ook God word uit die hoogte neergehaal en tot "buurman" gemaak. Natuurlik het Hy deur die vleeswording onder ons kom woon, maar Hy het die transendente, die verhewene gebly. Versoening in die Christelike sin is vir vele nie die sondaar se versoening met God en die bedekking van sy skuld deur die offerbloed van Christus nie, maar die verwydering van die skeidslyne, en dan veral dié tussen blank en nie-blank.

Maar verder knaag die sekularisme ook deur in die wetenskap, politiek, ekonomie, opvoeding en letterkunde deurdat alle verwysing na Christelike beginsels afgemaak word as "onprakties" of "nie ter sake".

Vier van ons Volksraadslede het 'n ruk gelede 'n kerkdiens in Edinburg, Skotland, bygewoon. Daar was geen ware gebed nie; die "Skrif"-lesing is geneem uit die toespraak van 'n Nobel-pryswenner en die "preek" was 'n toespraak deur 'n parlementslid oor "The Dialogue between Culture and Violence". Klippe vir brood!

Permissiwiteit. Die voorstanders hiervan wil vryheid op elke terrein só geesdriftig beoefen dat alle orde, dissipline en gesag oorboord gaan. Wette is lastige beperkinge en hoogstens "noodsaaklike euwels". Sedes is die dwang van die gemeenskap waardeur die enkeling gestrem word. Etiese riglyne is ongeldig as dit plesier of genot aan bande lê.

Eintlik is die permissiewe gees deel van 'n wydvertakte aanslag op die bestaande orde, op kultuur en volksverband, op grense en skeiding, op eerbaarheid, op die beskawing en die Christelike lewe in die algemeen.

Dis deel van die dogma van verandering. En in die diens van die verandering staan die "change agents". Verskeie kerke in Suid-Afrika, met hul jeugaksies, skakel met die "change agents". Om 'n voorbeeld te noem: 'n Geestelike wat onlangs beveel is om ons land te verlaat, het studente laat verstaan dat as hulle mekaar liefhet daar niks verkeerd is met voorhuwelikse geslagsomgang nie.

Dialoog sonder bekering. Ons beswaar is natuurlik nie teen dialoog nie, maar teen dié soort dialoog wat deuir Paul Tillich voorgestaan word in sy werk Christianity and the Encounter of the World Religions. Hy sê dat ons met betrekking tot Hindoeïsme, Boeddhisme en Taoïsme moet voortgaan met die dialoog wat reeds begin het . . . "nie bekering nie, maar dialoog. Dit sou 'n geweldige voorwaartse stap wees as die Christendom dit sou aanvaar. As die Christendom homself as 'n godsdiens verloën, kan die sekulêre beweging op 'n nuwe manier verstaan word, naamlik as die onregstreekse weg wat die geskiedenis neem om die mensdom godsdienstig te verenig, en dit sou beteken . . . ook polities".

As ons dit reg verstaan, kom dit hierop neer: soos moeder Eva haarself, en ons almal, uit die paradys gepraat het in haar ope gesprek met die duiwel, moet ons, volgens hierdie siening, uit die waarheid, uit ons godsdiens-eie, belydenis-eie en volks-eie gepraat word in 'n godsdiens bó geloofsverdeeldheid en in 'n neo-Babilonisme waarvolgens die wêreld ook polities één moet word.

Ek dink teen hierdie agtergrond is ons taak reeds by implikasie aangedui. Ek dink 'n mondige volk wat deur jare na die verkondiging van die evangelie geluister het, daardeur gekersten is en in die lig daavan leer onderskei het, het ook die reg om by geleentheid, wanneer nodig van die kerk te vra:

Gee vir ons geestelike brood en nie politieke klippe nie.

Moenie die kerk voor die politieke wa van die liberalisme of revolusionêre bewegings span nie.

Héél die bres in die preekstoel wanneer die vyande van ons volk ons dáárlangs wil bykom en 'n wig tussen kerk en volk wil indryf.

Beskerm ons teen 'n soort prediking wat die volk na die mond praat en hom nie waarsku as hy paaie van onreg en verloëning van Christus bewandel nie.

Maar beskerm ons ook teen dié soort predikers wat die ywer vir ons volk sonder meer as afgodery veroordeel en wat volksaboteurs word in plaas van profete van God vir die volk.

Bewaar ons van 'n kerk wat 'n blote brood- en botter-evangelie verkondig en wat dit verskraal tot die behoeftes van die politieke mens of die materialistiese gewinsoeker.

Maar bewaar ons ook van 'n kerk wat nie die boodskap van die Skrif en sy eise aan die mens en sy samelewing eerlik en op die man af verkondig nie.

Maar bewaar ons ook van die kerk wie se prediking kant nòg wal raak; wat met uitgeslyte, afgesaagde cliché's werk; wat nie die suiwer, onveranderlike boodskap in 'n frisse, pakkende moderne idioom kan bring nie, en wat dié boodskap nie ook op die tydelike node van mense kan betrek tot hul troos, lering, teregwysing en toerusting nie.

Bewaar ons van 'n kerk wat "dialoog" wil hê ter wille van die dialoog, en wat eenheid op godsdienstige en politieke gebied bepleit sonder om die eis van geloof, bekering en die doen van geregtigheid te predik.

Beskerm ons teen die God-is-dood-teologie, die "Christelike ateïsme", die verwêreldliking van die kerk, en teen 'n kerk wat die Bybel verwerp en morele verval goedpraat.

Ons vra as Afrikanervolksmense nie dat ons kerke die sondes van ons volk moet bedek of goedpraat nie, want dan sou ons ons eie ondergang vra. Maar as dit volkome normaal is dat die kerk vir die volk intree in tye van rampe, droogtes, krisisse en gevare, is dit nie so vergesog om te verwag dat die kerk ook by geleentheid teenoor die wanvoorstellinge van beswadderaars van ons volk vir ons in die bres sal tree nie.

Die kerk is dit aan die volk verskuldig om duidelike sedelike riglyne te trek, om te sorg dat sy boodskap in die goeie sin van die woord aktueel is en dat daar reformasie en vernuwing kom wanneer verstarring en verval ingetree het.

Maar so kan ons kerke ook met reg hoë eise aan elke Christen-Afrikaner stel.

Van ons kan verwag word om kerklik aktief mee te lewe. Ons moet in ons volksgeledere die besef inskerp dat dit nie vir 'n Afrikaner om die ewe is of hy die eredienste gereeld by woon, sy bydraes gee, die Sondag heilig en die gebed getrou beoefen, al dan nie.

Die kerk het rede om te verwag dat die Afrikaner hom in sy sosiale en gesinslewe, in sy sportbeoefening, sakelewe, wetenskapsbeoefening, opvoeding en onderwys, politiek en letterkunde - op álle terreine - as gelowige Afrikaner sal laat geld.

Ons kultuur moet 'n Christelike kultuur wees. Ons volk moet 'n Christelike volk wees. En laat my met klem sê: Dis moontlik. Dis noodsaaklik.

Ek glo dat al is ons volk klein in getalle, ons nietemin geroepe is om groot te wees - groot in die offers wat ons bring; groot in die liefde vir ons eie én in die naasteliefde en naastediens; groot in die geloof wat ons beoefen, in die visie op die toekoms en skeppende daadkrag; groot as geestelike baanbrekers in 'n tyd van verwarring, uitsigloosheid en verval.

Ek glo die Afrikanervolk kan, deur 'n getuie vir die ewige waarhede van die Christelike geloof te wees en deur geregtigheid te beoefen, weer vir die nasies 'n wegwyser wees na sinvolle bestaan.

'n Volk met God leef nie tevergeefs nie en sterf nie ontydig nie. 'n Volk met God is 'n meerderheid.

"Welgeluksalig is die volk wie se God die Here is". Mag die Afrikanervolk só 'n volk wees.