Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

Kommentaar

Prof Amie van Wyk se huldiging van Beyers Naudé

- P VAN DER KOOI - REDAKSIE -

Prof Beyers Naudé se afsterwe is soos vrywel niemand tevore te beurt geval het nie,  veral deur die swartes, in ons land herdenk. Sedert sy heengaan is daar dienste dwarsdeur die land gehou waar nie die Skepper en Formeerder nie, maar die mens Naudé vereer is. Hy is vereer omdat hy die voormalige bewind van apartheid aktief weerstaan het. Hulde is aan hom bewys omdat hy hom aan die kant van die swart agitators geskaar het en hulle terroristiese bedrywighede deur middel van die WVK ondersteun het.

Prof Amie van Wyk skaar hom in BEELD, 20 September, by diegene wat sy nagedagtenis huldig.

"Op Saterdag 18 September is die laaste roudiens in die NGK Aasvoëlkop vir Beyers Naudé gehou en daarmee het 'n einde gekom aan 'n week van euforie oor iemand wat bestempel is as 'die invloedrykste NG kerkman van die 20ste eeu'". Met verbygaan aan kommentaar en inligting wat prof Van Wyk ná hierdie inleiding stel, beweeg ons na die punt van bespreking waaroor ons met hom wil polemiseer.

"Naudé was 'n uitsondering op die reël. Wat kan ons doen dat die uitsondering die reël word?" Dit is kortweg gestel die lof wat prof Van Wyk aan Beyers Naudé toeken.

Dit gaan oor Naudé se verset teen twee sake "'n volksideologie en 'n volksteologie", aldus prof van Wyk. Hy motiveer dit soos volg:

'n Volksideologie veronderstel dat jy jou eie volk as geroepe en uitverkore beskou om iets besonders te wees en te doen, selfs tot op die punt van onderdrukking en ontmensliking van ander volke - soos die apartheidspolitiek van 1948 - 1994 duidelik illustreer. Dit getuig van 'n (meestal onbewuste) meerderwaardigheidsgevoel en veroorsaak dat volksnasionalisme geruisloos oorgly na volksimperialisme.

Hiermee word geïmpliseer dat ons noukeurig tussen 'n volksideologie en 'n volksideaal moet onderskei. Eersgenoemde vernietig 'n samelewing, laasgenoemde verryk dit.

Verskillende bevolkingsgroepe mag volksideale hê, en saam mag hulle een nasionale ideaal ontwikkel tot die opbouing van 'n vrye, verantwoordelike, regverdige en ordelike samelewing.

'n Volksteologie is 'n teologie wat gedienstig is aan 'n volk, sy ideale en selfs sy ideologie. so 'n teologie is nie meer vry nie en verloor sy profetiese stem in die samelewing. só 'n teologie ontbreek aan innerlike krag om duidelik uit te spreek dat apartheid 'n sonde en die teologiese regverdiging daarvan 'n dwaling is. En ek voeg by: ook uit te spreek dat 'n (bloedige) revolusie 'n sonde en die teologiese regverdiging daarvan 'n dwaling is. ...

Die gevare van 'n volksideologie en volksteologie van 'n te noue band tussen kerk en volk bestaan altyd. Natuurlik is dit so dat die evangelie in 'n bepaalde volkskultuur ingaan, maar dit mag nooit daarin opgaan nie, want dan hou die kerk op om die lig van die wêreld te wees en verloën hy sy profetiese getuienis teenoor die magte in die wêreld. Tot sover prof Van Wyk.

Ons sal moet stilstaan by die terme van volksideologie en volksteologie en die betekenis wat prof Van Wyk daaraan heg, of dit in alle opsigte waar en seker en as sodanig sonder uitsondering, gehuldig en toegepas is.

Kyk ons terug na die tyd van die vorige bewind, die tyd van Malan, Strydom en Verwoerd, toe was daar beslis nie sprake van een enkele geldige volksideologie nie. Wel was daar sprake van ideologieë wat deur onderskeie leiers voorgestaan en gepropageer is. Daar was ook verskillende partye en groeperings wat dit bevorder het. Een daarvan was die Ossewa Brandwag (OB) wat verwantskap met die Duitse Nasionaal Sosialisme nie onder stoele en banke weggesteek het nie. Dan was daar ook die simpatie met die holistiese strewe van die Imperialiste wat Suid-Afrika as deel van die groter geheel in die Britse Dominium wou behou. Voorts was daar die ideologie van die Kommunisme (1914) wat weerklank gevind het in die Vryheidsmanifes van die ANC (1955).

In 1948 het die Nasionale Party onder leiding van dr DF Malan die regering oorgeneem van die Verenigde Party wat hom ideologies by Jan Smuts se Engelse verbintenis geskaar het. Van toe af het die strewe na afsonderlike ontwikkeling momentum gekry. Dit was nie onderdrukkend nie. Dit was daarop gerig dat elke bevolkingsgroep in Suid-Afrika regte op selfregering sou ontvang. Die Algemene Grondslag is soos volg verwoord:

Die Party aanvaar as hoogste taak en roeping van die staat die bevordering van die welvaart van Suid-Afrika en die geluk en heil van sy bevolking, blank en nie-blank, en beskou dat hierdie doel die beste verseker kan word deur die handhawing en beskerming van die blanke ras en aanvaar dit as fondamentele grondslag van sy beleid. Die Party onderneem derhalwe om die blanke ras behoorlik en doeltreffend te beskerm teen enige beleid, leerstelling of aanslag wat sy voortbestaan ondermyn of in gevaar stel. Tegelyk verwerp die Party enige beleid van onderdrukking en uitbuiting van die nie-blankes deur die blankes as strydig met die Christelike grondslag van ons volkslewe en onversoenbaar met sy beleid. . . .

In hulle eie gebiede sal die nie-blanke rassegroepe volle geleentheid van ontwikkeling kry op elke gebied en sal hulle eie inrigtings en maatskaplike dienste ontwikkel waardeur die kragte van die progressiewe nie-blankes tot eie volksopbou ingespan kan word. Die landsbeleid moet só opgestel word dat dit die ideaal van uiteindelike algehele apartheid op 'n natuurlike wyse sal bevorder. .

Die Party wil dat alle nie-blankes op 'n kragtige wyse gelei sal word om die Christelike godsdiens te maak die grondslag van hul lewe en sal die kerke in hierdie taak met alle moontlike hulp bystaan. Kerke en genootskappe wat die beleid van apartheid ondermyn en volksvreemde beskouinge propageer, sal hierin teengegaan word.

Daarbenewens het die Christelike geloof op die politieke terrein die Calvinistiese lewensbeskouing op gesag van die Woord van God aanvaar, dat Hy dit beskik en bewerkstellig het (Gen 11:1-9; Hand 17:26) dat daar 'n verskeidenheid van volkere, tale en nasies sou wees om op die aarde die kultuuropdrag, wat Hy in die Paradys aan die eerste mensepaar opgedra het, te onderneem tot eer en verheerliking van sy Naam. Daardie beskouing staan teenoor die polities geforseerde integrasie- en die een-wêreld-strewe van filosofiese ideologieë soos van dié wat hierbo genoem is.

Suiwer vertolk is die Afrikanervolk nie as die enigste geroepe en uitverkore volk te beskou om iets besonders te doen of te wees nie. Dié roeping en verkiesing gaan uit na elke volk wat die Here in opregtheid wil dien. Die besondersheid van die Afrikanervolk word deur prof Van Wyk selfs sover gevoer tot "op die onderdrukking en ontmensliking van ander volke - soos die apartheids-politiek van 1948 - 1994 duidelik illustreer".

Die Algemene Grondslag van die Nasionale Party, soos hierbo genoem, getuig van beter. Prof Van Wyk bring nie in rekening dat elke politieke beleidstoepassing of -verandering deur opponente teengestaan word nie. Is dit nie juis die rede van die "onderdrukking en ontmensliking" waarna hy verwys nie? Wie het die oorlog in Suid-Afrika begin? Is dit nie die kommuniste met hul pogings van verowering van die staatsmag deur die arbeiders en die totstandkoming van die klaslose maatskappy nie? (vgl Dr W Banning. 1960 :108).

Prof Van Wyk voer sy argument verder en impliseer "dat ons noukeurig tussen 'n volksideologie en 'n volksideaal moet onderskei. Eersgenoemde vernietig 'n samelewing, laasgenoemde verryk dit". Dit is die ideologieë van die Britse imperialisme en die marxistiese kommunisme waaraan ons Afrikaner samelewing blootgestel was en as gevolg waarvan uiteindelik, in 1994, die vorige politieke bedeling sonder noemenswaardige weerstand beëindig is, sonder om werklike "verryking" aan die huidige "demokratiese bedeling" te verskaf.

"Verskillende bevolkingsgroepe mag volksideale hê, en saam mag hulle een nasionale ideaal ontwikkel tot die opbouing van 'n vrye, verantwoordelike, regverdige en ordelike samelewing", vervolg prof Van Wyk. Dit is die ideaal wat hy koester: 'n Eenheidstaat waarin vryheid, gelykheid en broederskap heers en almal toy-toy rondom die vryheidsboom of -paal met die slagspreuk van "één volk, één nasie, één (mensgerigte) strewe". In die huidige multi-religi-euse en multi-kulturele, heterogene (ongelyksoortige) nasie is dit nie slegs 'n droom nie maar ook 'n doelgerigte strewe van liberalistiese opportuniste.

"Die gevare van 'n volksideologie en volksteologie van 'n te noue band tussen kerk en volk bestaan altyd". ... Laasgenoemde is 'n "teologie wat gedienstig is aan 'n volk, sy ideale en selfs sy ideologie. ..." Prof Van Wyk oordryf die saak waaroor dit gaan. Daar bestaan nie so iets soos 'n volksteologie in die terminologie van teologiese opleiding nie. Volksteologie is maar 'n uitdrukking om iets wat leef in Van Wyk se gedagtes en vir hom onaanvaarbaar is. Van volksteologie kan slegs in sekere sin sprake wees as, soos in die geval van die volk Israel, die volk in sy geheel daarin deel. Dit was in elk geval nie van toepassing op die Afrikanervolk van die verlede, wat in 'n verskeidenheid denominasies, diverse geloofsopvattings en ideologieë naas en teenoor mekaar gestaan het nie.

Dis in prof Van Wyk se beskouings 'n verskriklike saak van die verlede dat die swartes nie dieselfde politieke regte as die blankes gehad het nie en dat daar vir hulle alternatiewe staatkundige vryhede voorgestaan is wat gedeeltelik aanvaar en andersins militant teengestaan is. "Die kwellende vraag ... is: hoe kon dit gebeur het dat selfs die gereformeerde teologie voor die suigkrag van 'n politieke ideologie kon swig as gevolg waarvan 'n hele samelewing byna vernietig is?"

Volgens prof Van Wyk is die beleid van die vorige regering, apartheid, 'n "sonde en die teologiese regverdiging daarvan 'n dwaling" en daarbenewens die uitspraak: "dat 'n (bloedige) revolusie 'n sonde en die teologiese regverdiging daarvan 'n dwaling is".

Dis opmerkenswaardig dat hy by dit alles uitsluitend die vinger wys na die voormalige beleid van afsonderlike ontwikkeling en nie na die kommunisme, wat die ideologiese en daadwerklike aggressors van die oorlog wat gevoer was en nog voortduur is nie. Dis soos hy dit tipeer as die ideologie en teologie van die behoudende Afrikaner, wat hy veroordeel as 'n dwaling en sondig, maar ten aansien van die antichristelike ideologie van die ANC en die kommunisme, daaroor swyg hy.

"Naudé was 'n uitsondering op die reël". Beyers Naudé het die ANC en die kommunistiese aggressors deur middel van sy Christelike Instituut (opgerig nadat hy uit die NG Kerk uitgetree het) en sy deelname aan die Wêreldraad van Kerke in die stryd teen apartheid met al die gewelddadighede wat daarmee gepaard gegaan het ondersteun. "Wat kan ons doen dat die uitsondering die reël word? Christene sal weet dat ons net in Christus die volmaakte model vir vrede en versoening vind. Maar Christus soek onverskrokke navolgers", aldus prof Van Wyk. Hiermee tipeer hy die oorledene blykbaar as 'n voorbeeld, 'n onverskrokke navolger van Christus.

Die stryd van vrouesaad teenoor dié van die slang (Gen 3:15) is vir prof Van Wyk blykbaar nie van toepassing insake die politieke stryd van die Christendom teen die antichristelike kommunisme nie. En die Afrikaanse Gereformeerde kerke was/is blykbaar uit pas met die waarskuwings om nie te swig vir die valse profesie van "vrede! terwyl daar geen vrede is nie" (Eseg 13:10,16).

LW. In Die Kerkblad, Oktober 2004, bl 5, is 'n soortgelyke artikel oor Beyers Naudé (1915-2004) gepubliseer wat onderteken is deur die redakteur, prof JH van Wyk. Die polemiek in hierdie kommentaar raak uiteraard dit ook.

Prof Beyers Naudé is nie op 'n skriftuurlike, Christelike wyse ter aarde bestel nie, maar veras in 'n kapel van die Hindoese religie.

Op sy uitdruklike versoek is sy as gedeeltelik uitgestrooi bo die gebied van Alexandra, waar hy die kommunistiese "comrades" tydens sy lewe bygestaan het.