Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

OPVOEDING EN ONDERWYS

Is die paradigma nog reg?

- HERMAN WAAGMEESTER (JOHANNESBURG). IN: KERK EN WOORD, SEPTEMBER 2004 (BL 16 - 21 -

Die woord "paradigma" verwys na 'n model, 'n bepaalde metode wat gereeld weer as uitgangspunt gebruik word om op voort te bou. Ons kan dit 'n raamwerk of in Engels "a frame of reference" noem.  Paradigmas is noodsaaklik omdat ons dit baie vinnig kan herken en gebruik om besluite te neem of te gebruik as grondplan en bloudruk vir verdere ontwikkelinge. In die wêreld van die rekenaar en tegnologie vind ons legio voorbeelde hiervan.

Maar wat gebeur as die paradigma nie meer korrek is nie, as onderliggende faktore sodanig verander het dat die paradigma nie meer heeltemal van toepassing is nie? U sal sê dan verander jy die bloudruk, die paradigma, sodat dit weer toepaslik word. Beginsels is onveranderlik, maar die uitvoering wat ons op grond van die beginsels ontwerp is altyd weer toetsbaar en veranderbaar om beter aan die grondbeginsels te beantwoord.

Eintlik behoort ons ons paradigma so te beskryf dat dit so goed as moontlik alle omstandighede sinvol kan aanspreek. Ongelukkig kom daar die probleem in. So 'n paradigmaskuif is nie so maklik nie omdat mense dikwels gekondisioneer is om te dink dat hulle uitvoering die outo-matiese en enigste geldige uitvoering van die beginsels is.  Dan sien jy nie meer alternatiewe raak, wat heeltemal uitvoerbaar en ewe geldig as gevolg van die veranderde omstandighede en selfs meer effektief kan wees nie. Die kans is groot dat ons bly glo dat die bekende ou model die enigste regte een is. Ons meen dan dat al die mense wat iets anders sê, verkeerd is. Ons is oortuig daarvan dat, soos ons dit nou al baie jare doen, dit die beste is. Ons is sensitief vir die aantasting van òns "heilige koeie".

Dit is duidelik dat 'n paradigma dus baie belangrik is, maar terselfdertyd moet ons daarvoor waak dat ons nie die slagoffer daarvan word nie. Om te beweeg van een dorp na 'n ander moet sekerlik aan verskeie vervoerbeginsels beantwoord, maar dit hoef nie meer net te voet, te perd, per trein of ossewa te gebeur nie. Ook al bly die beginsels van die saak dieselfde, is daar by veranderde omstandighede altyd geleentheid om te soek na beter uitvoering van die saak.

Om verstarring te voorkom, moet ons ontvanklik bly vir ander moontlikhede gegrond op dieselfde beginsels. Die inherente neiging van die ondersteuners van 'n paradigma om ander paradigmas meteens af te wys, selfs sonder om die meriete van die alternatiewe te ondersoek en kennis op te doen, kan dus skadelik wees.

Daarby moet ons ook in gedagte hou dat 'n model wat vir die een persoon of gesin dalk (?) werk, nie per definisie ook vir ander werk nie. In so 'n geval hoef ons ook nie die algemeen aanvaarde model slaafs na te volg nie, maar kan ons rustig in vertroue die pad/model volg wat ons onder gebed op grond van die onveranderlike beginsels uitgewerk het as die beste.

Toepassing

Kom ons pas die bostaande gedagtes toe op die model/paradigma wat ons nou al so baie jare gebruik het om ons kinders voor te berei om die Godgegewe kultuurmandaat en opdrag in hierdie wêreld te gaan uitleef.

H Bouwman in sy kommentaar (Gereformeerd Kerkrecht), deel 1, bl 517 beskrywe die historiese agtergrond van die opvoedkunde soos volg (vertaal): "Dit het in die natuur/instink van die ouers gelê om die dinge wat hulle besit het, hulle kennis en hulle vermoëns aan hulle kinders oor te dra. Reeds in die oudste tye het die vader sy seun geleer hoe om die land te verbou, om die vee te versorg, die moeder het haar dogter geleer om kos voor te berei en klere te maak en die huis in orde te hou. En namate die mensheid verbrei het en die behoefte aan verstandelike ontwikkeling opgekom het, het dié ouers gevoel dat hulle die taak van die opvoeding en onderwys nie alleen kon behartig nie, en het hulle vir hulp gesorg. Hulle het gou verenig om gesamentlik 'n opvoeder en onderwyser aan te stel, en so is die skoolgedagte gebore."

Is dit moontlik dat hierdie 'skool' model miskien, gesien die ontwikkelde stadium wat ons leefwêreld vandag bereik het, nie noodwendig meer die mees optmale is of nie goed meer by die omstandighede pas nie? Kan ons dit miskien aanpas? Laat die ontwikkelinge in kommunikasie-tegnologie ons toe om weer die 'eerste dinge' met goeie sukses te kan doen?

Hoe sal ons dit agterkom? Dit kan ook anders gevra word: Wanneer ons as Gereformeerdes tot die besef kom dat die openbare staatskool in sowel die sosialisering daarvan en die onderrig van ons kinders goddelose kinders maak, is dit dan die enigste alternatief wat wettig gevolg kan word om 'n gereformeerde onafhanklike skool op te rig?

In elk geval reël ons Kerkorde, artikel 21, dat die verantwoordelikheid op die ouers rus om te sorg dat hulle kinders in die skoolonderrig ook gelowig onderrig word. Daaroor moet die kerkraad toesig hou. Moet die ouers hierdie verantwoordelikheid as indiwidue nakom? Moet hulle dit net saam met mekaar nakom? Is daar net een beste manier? Sal ons ook dalk soos Johannes redeneer in Markus 9:38 en sê: "... Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie"?

Daar is 'n byna oneindige aantal fasette aan hierdie onderwerp verbonde. Dit is onmoontlik om al die aspekte te bespreek. Dit is wel moontlik om 'n paar gedagtes, feite en sake in oorweging te gee.

Ouderdomsintegrasie teenoor segregasie

Volgens die algemene opinie (paradigma) moet ouers meer kwaliteittyd aan hulle kinders bestee. Kwaliteittyd, omdat kwantiteittyd dikwels nie beskikbaar is nie. Maar dalk sou dit goed wees dat kinders meer tyd met hulle ouers spandeer deurdat ouers die kinders in hulle lewe van dag tot dag intrek.

Kinders kan dan sien en leer hoe volwassenes hulle tyd benut aan werk, studies, oorweeg van moontlikhede, gasvryheid, politieke aktiwiteit, evangelisasie, rus, konstruktiewe rekreasie, en nog baie ander dinge wat in 'n goeie gesinsroetine pas. By wie moet hulle dit anders leer? Kinders het almal iemand teen wie hulle opkyk. Wie is dit?

Die Spreukedigter sê: "Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg" (Spr 13:20).

Wie is die wyse in die lewe van ons kinders? Is dit die "maat" wat die "peergroup" lei? Is die geselskap van die kinders se "vriende" positief vir karakterontwikkeling? Wat doen hulle en bespreek hulle saam? Gebruik hulle baie kosbare ure vir rekenaarspeletjies, luister na twyfelagtige musiek, praat oor musiekidole wie se plakkate hul kamers "versier", televisie kyk? Wat kan hulle van dié maats leer?

Mens kan sekerlik ook vra of alle ouers noodwendig wys is om hierdie goeie lewensvaardighede aan hulle kinders oor te dra? Swak leermeesters kweek swak dissipels. Jy hoef maar om jou te kyk om die verskynsel waar te neem. "Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!" (Ps 90:12).

Daar kan natuurlik ook met vertroue aanvaar word dat die vriende met wie ons kinders assosieer, ook goeie en opbouende invloed kan hê, maar in die onderwyssituasie lê daar natuurlik 'n swaar verantwoordelikheid op ouers/onderwysers om hierin nie maar net die funksie van fasiliteerders in die onderwys te verrig nie, maar soos die Skrif ons leer, opvoeders te wees. Die ouer/onderwyser mag nooit hulle rol as primêre beïnvloeders prysgee nie.

Die huidige onderwysparadigma en -praktyk waar kinders volgens ouderdomsgroepe ingedeel en onderrig word, is nie vir al die kinders optimaal vir die ontwikkeling van 'n godvrugtige en stabiele karakter nie. Daarom word in hierdie artikel die gedagte van ouderdomsintegrasie wat mens in die gesin en samelewing kry, aanbeveel in teenstelling tot ouderdomsegregasie, wat inherent is aan ons huidige opleidingsparadigma.

Byvoorbeeld: In die ou dae was daar baie mense wat in sogenaamde plaasskooltjies onderwys ontvang het. Dan het al die kinders, ongeag hulle ouderdom, in dieselfde onderrigruimte klas gekry, en kon hulle volgens wat paslik was, baie bymekaar leer en mekaar met hulle werk help.

Daar word deesdae weer gemeen dat hierdie geïntegreerde situsie die (naaste aan die) normale lewe is. Ouderdomsegregasie kan byvoorbeeld 'n jeug (sub-)kul-tuur, idole, twyfelagtige musiek, groepsvorming, ongesonde wedywering, generasiegaping, voortydige verhoudings of ernstiger ontsporings tot gevolg hê. Maar natuurlik is in alle gevalle die belangstelling, invloed en beheer van die ouers/onderwysers van kritiese en primêre belang.

Hiperaktief, regtig?

Gemiddelde presteerders kom in die huidige model met 'n gelykluidende sukses deur. Maar wat van die groot aantal slim of die anders-begaafde kinders? Hulle word deur die gemiddeldes en die openbare onderwysmodel teruggehou, of uitgeput, of op die rand geskuif. Hulle is verveeld, verloor belangstelling en raak ongeïnteresseerd en gefrustreerd. Daar kan nog meer oorsake wees waardeur hulle nie hulle talente goed kan ontplooi nie.

Namate die situasie voortduur, verloor hulle selfs die meeste van hulle hul natuurlike leergierigheid en hulle dryf die onderwysers teen die dak uit. Deskundiges diagnoseer 'n kind in so 'n situasie dikwels as hiperaktief en ons glo dit gedwee.

Is dit egter waar? Die stempel is gedruk. So word die kind gestigmatiseer. En uiteindelik glo almal dit, insluitende die kind self. Die probleem lê egter vir die grootste deel nie soseer by die kind nie, maar by die opleidingsmodel wat nie ruimte bied vir indiwidualisering nie. Om dit op te los, gee ons hulle Ritalin. Hoeveel van ons kinders is op Ritalin? Dit is die moeite werd om dit op Internet na te gaan, sowel in Nederlands as in Engels, om vas te stel hoe gevaarlik dit is en wat daar agter sit. Dié medisyne val in Nederland onder die opiumwet. Dit is nog steeds onbekend wat die gevolge van die gebruik hiervan op die langer termyn is. Is dit dan verantwoordelik dat van ons kinders dit gebruik?

Die gebruik van Ritalin by kinders het die laaste paar jaar in Westerse lande kwadraties gestyg. In die VSA sou in sommige klasse selfs 40% van die kinders Ritalin gebruik. Is daar dan soveel meer kinders met ADHD (Attention Deficit Hyperactivity Disorder), oftewel aandag- en konsentrasieversteuring met hiperaktiwiteit, as 'n paar jaar gelede?

'n Nederlandse hoogleraar sê dat hy in sy praktyk reëlmatig ouers sien met kinders vir 'n tweede opinie. In byna alle gevalle blyk daar geen gedragsteurnis te wees nie. In die VSA is kinders met 'n sterk vorm van ADHD met bekwame leiding opgevang in 'n somerkamp. Binne een week het die ADHD simptome verdwyn.

Kinders moet die dinge kan ondersoek wat hulle belangstelling trek. Dit wil voorkom dat daar inderdaad alternatiewe is en dat die beheersende omgewing met sy paradigmas dikwels die oorsaak van benadelende verskynsels is. In hierdie verband kan ons ook maar 'n bietjie kyk na die effek van al die lekkergoed wat ons kinders eet en drink.

Afgesien van die enkele kind met 'n werklike gedragsteurnis, word by die meeste van hulle die grondliggende probleem nie onderken nie. Die opleidingsparadigma wat kinders soos 'n botteltjiefabriek almal in dieselfde vormpie giet en geen ruimte bied vir indiwidualisering nie, sit in die pad. Dit wil ons tog nie? En vir die "moeilike" kinders se ouers sê ons dan: hier is nie plek vir jou steurende en ongemanierde kind in ons skool nie.

Die sogenaamd minder begaafde of stadiger kinders het 'n soortgelyke probleem. Hulle gaan uiteindelik self glo dat hulle 'n bietjie stadig en dom is, want hulle kan mos nie bybly nie? So gaan hulle, bewus of onderbewus, daarmee deur die lewe. Is dit goed so? Of was die huidige model net nie reg vir hulle nie?

Die regte tyd om te leer.

Die brein van ons jong kinders is soos 'n groot spons; hulle leer baie baie vinnig, veral as hulle besig is met dinge waarin hulle belangstel. Nietemin dikteer ons huidige model dat, byvoorbeeld, alle kinders as hulle 8 - 8½ jaar oud is deelsomme moet kan doen! Is hulle dan almal op dieselfde ouderdom reg daarvoor? En geniet hulle dit almal op dieselfde ouderdom? Dit lyk nie so nie. Hulle sal nie optimaal hulle talente kan ontplooi nie. Hulle sal miskien afgelei wees, verveeld raak of die orde versteur. Ook in hierdie geval is daar weer niks met die kind verkeerd nie. Die manier waarop ons ons kinders voorberei vir hulle lewenstaak benodig miskien aanpassing.

Sommige kinders sal op 9 of 10 jarige leeftyd geïnteresseerd raak om te kan reken, ander as hulle nog maar 7 is. As hulle dan die geleentheid kry, sal hulle dit vinnig en met plesier leer. Hulle sal nie hulle belangstelling om te leer verloor nie en dit beter verstaan as die wat dit op 8 tot 8½ jaar oud moes leer. Daar is ook nooit gevind dat formele wiskunde voor die tiende jaar bevordelik is. Wat maak dit saak? Die belangrikste is dat die kind sy talente optimaal kan ontwikkel en dat ons daarvoor die regte omgewing skep. Hy sal dan geniet wat hy doen. As die kinders jonk is, werk hulle brein baie vinnig. Dié tyd moet dus uitgebuit word. Nie deur hulle te verveel of te frustreer nie, maar deur hulle te begelei en te laat leer waarin hulle belangstel.

Daar is al gevind dat van die vindingrykheid van die helder jong verstandjies nog slegs 5% oor is nadat hulle die algemeen-aanvaarde opleidingsmodel met sy dwangbuis kurrikulum deurloop het. Nodeloos om te sê dat die vorige opleidingskurrikulum selfs nog meer aan hierdie doodsonde skuldig was. En dan moet ook daarby gevoeg word dat enige ander model nie noodwendig kan waarborg dat die kinders nie met 'n tonnelvisie sal groot word nie. "Wiens brood men eet, diens woord men spreekt" Altyd weer word 'n groot onus geplaas op die persoon/e wat die opleidingsmilieu skep en bestuur.

Wat gaan die beste wees?

Dit hang af. Goeie opleiding vir ons kinders kan op baie maniere verwesenlik word. 'n Paar gedagtes.

Die staat se huidige matriekeksamen gaan in 2008 uitgefaseer word. Die nadele hiervan waarby kinders vir toegespitste eksamens afgerig is sonder om hulle toepassingshorisonne te verbreed, is in baie gevalle so erg dat baie jong mense wat met sewe onderskeidings universiteit toe gaan, reeds in die eerste jaar faal en hul studies staak.

In die VSA is gevind dat 25% van die staatskoolverlaters 'n eie besigheid het. Vir mense wat 'n alternatiewe model gevolg het, is dit 75%. Baie meer derglike voorbeelde kan genoem word.

Geletterdheid in die vroeë Amerika by die Puriteine was sowat 98%. Daar was nie skole nie. Slegs die Harvard-universiteit is toe (1636) opgerig vir Puriteinse teologiese opleiding.Vandag is 45 - 50% van die volwasse Amerikaners funksioneel ongeletterd. Hoekom?

Die ouderdomsintegrasie in volwaardige huisgesinne wat ons so-ewe genoem het, reflekteer ook in wat hulle noem vakleerlingskap in een of ander vorm (Engels: apprenticeship). Dit kom ook in verskillende beroepe of ambagte waar 'n volwaardige indiensopleidingsprogram gevolg word. Ondersoek in die VSA het aangetoon dat tweederde van die wat voltyds vir spesifieke beroepe gestudeer het, in heel andere rigtings werk (moes) gevind het. Daarmee kan die studie nie as "weggegooi" beskou word nie. Tog bly dit jammer van die verlore belangrike jonge jare wat nie effektief gebruik is nie.

Ons praat nog nie eers van die R10 000 - R20 000 per studiejaar wat betaal moet word nie. Ook hoeveel meer motivering en inset en gevolglike effek daar sou gewees het as daar regstreekse indiensopleiding en die regte buitemuurse studie aangepak sou gewees het. Terwyl daar moontlik ook bedags in dieselfde rigting ervaring opgedoen word in 'n leerlingskap wat dalk in 'n eie besigheid of vaste aanstelling oorgaan. Benut ons vandag se talle moontlikhede optimaal?

'n Paar vrae om oor na te dink

Hoe kan ons die huidige paradigma aanpas of uitbrei met nuwe idees sodat baie negatiewe verskynsels verhelp of vermy kan word?

Kan ons miskien vir gereformeerde ouers deur die land, wat nie die moontlikheid het om gereformeerde onderwys te organiseer nie, 'n studie-ondersteunings en begeleidingsentrum daarstel?

Kan kostes van onderwys en vervolgopleiding baie verlaag word deur doeltreffende en effektiewer metodes?

Is dit verstandig om ten alle koste die staat se voorskrifte te eerbiedig (NGB art 36)? Waarom doen ons nie 100% "ons eie ding"; dus volgens die Skrif as die hoogste standaard van onderwys?

Sou daar nie dalk op georganiseerde basis deur ouers en simpatieke instansies geleenthede geskep kan word in ons ekonomie om kinders van jongs af in effektiewe entrepreneurskap en vakleerlingskap te begelei nie?

Is ons op die hoogte van die regsaspekte ten opsigte van opleiding van ons kinders sodat ons weet waar en hoe ons dinge anders kan reël en dit ook kan verdedig in die regsaal?

Is die Engelse geletterdheid van ons kinders voldoende?