Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Antichris

AKTUEEL: Wet op Swartbemagtiging (WET 53 VAN 2003) Teenoor 'n Volkseie Ekonomiese beleid.    

SKRIFOORDENKING:
Koershou te midde van verdrukking en verleiding

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 130

Kerklike Skismatiek

Persverslag: Geref Konferensie

Een en ander oor Kerkmusiek en Kerklied

Die Negentiende-Eeuse Kerklied

"Die Redakteur gesels met... Prof Bouke Spoelstra"

Indrukke van die 67e Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk van Afrika

KERKLIKE JOERNAAL: 
Manifes van verontruste predikante

Ekumeniese eenheid vir Gereformeerdes bepleit

NHK verwerp kindernagmaal

Sinode AP Kerk: Enkele besluite

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Is die paradigma reg?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk (2)

ARSO en Christelike Onderwys

PERSRUBRIEK: Kerke - Konferensie (GKSA)

NH Kerk: Kerkvergadering gee groen lig vir erediens-vernuwing

Paul Kruger: Groot in ballingskap

Kultuuropdrag en wêreldeinde

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Huldiging van Beyers Naudé

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 6 November 2004

OPVOEDING EN ONDERWYS

ARSO EN CHRISTELIKE ONDERWYS

- DR PIETER VAN DER DUSSEN - BESTURENDE DIREKTEUR VAN PRETORIASE AKADEMIE VIR CVHO -

Artikel in KOMPAS (VGKSA) van Februarie 2004

In KOMPAS van Februarie 2004 verskyn ‘n artikel wat geskryf is deur Rob van der Kooy waarin sake soos Christelik-nasionaal, Christelik-volkseie skole en Tuisonderrig aangeval word. Hy is direkteur van die ARSO-skool Dirk Postma en beklee tewens ‘n verantwoordelike posisie in ARSO se bestuursopset. Sy uitsprake dra derhalwe die gewig van ARSO-standpunte. Ook betrek hy die Vrye Gereformeerde Kerke in SA (VGKSA) deur sy artikel in hulle tydskrif te plaas.

Beknopte oorsig van Christelike onderwys

Ten spyte van kritiek teen Christelik-nasionale onderwys staan vas dat die stelsel in hoë mate tot die handhawing van ‘n Christelike lewenspatroon in Suid-Afrika bygedra het. Dit is sterk getuienis ten gunste van CNO dat die onderwysbeleid van die ANC-SAKP juis op die uitroeiing daarvan gerig is.

Enkele immigrantegroepe het in kerkgebonde ouerskole met gereformeerde onderwys begin. Die werklike beweging na Christelike ouerskole het in 1989 begin met die oprigting van die Raad vir Christelik-volkseie Onderwys wat tot die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) uitgegroei het. In Januarie 1992 kom die eerste twee CVO-skole tot stand. Die grondslag was en is die gereformeerde leer volgens die Drie Formuliere van Eenheid. Talle lidmate en predikante van die GKSA is by CVO-skole betrokke en verskeie van hulle het op die Direksie van die BCVO gedien, soms vyf uit elf verkose direkteure. Daar is hard gewerk om die grondslag in die onderwys tot uitdrukking te laat kom. Standpunt is duidelik teen die Israelvisie en ander afwykings ingeneem. In Junie 1996 het die BCVO die sogenaamde smalstandigheidsbesluit geneem wat kinders en onderwysers wat nie die grondslag onderskryf nie, se toelating tot CVO-skole drasties ingekort het. Dit het ‘n suiwerende uitwerking op die BCVO en CVO-skole gehad.

Aksie Reformatoriese Skoolonderrig (ARSO) het in 1981 die lig gesien en in die jare-negentig tot optrede gekom. Enkele van die immigrante-ouerskole het hulle onder die vleuels van ARSO geskaar. Die eerste egte ARSO-skool is nogtans eers gestig nadat CVO-skole die pad oopgemaak het. Dit is jammer dat vanuit GKSA-kringe hierdie werklikheid dikwels misken word en dat aanvalle vanuit GKSA- en ARSO-geledere op die CVO-skole gemaak word soos in die artikel van Van der Kooy. Van sy blatantste stellinge word hieronder hanteer.

Aanval op CVO-skole:

Van der Kooy stel tereg dat die skrif in die negentiger-jare teen die muur was wat Christelike onderwys en ook wat Afrikaner-nasionalistiese (!) onderwys betref. Al meer private Christelik-volkseie skole is gestig, gebaseer op ‘Christelik’ in sy algemeenheid, en op die ‘Afrikaner-kultuur’.

Hierbo is aangetoon dat die BCVO en CVO-skole aan die gereformeerde leer gebonde is. Dit is daarom onwaar dat hulle per definisie ‘Christelik’ in sy algemeenheid is. Wat Afrikaner-nasionalisme in die onderwys betref, word daar steeds op duidelike Bybelse bewys gewag gemaak dat dit sonde is dat mense hulle taal, kultuur, wese, roeping en wat ook al verabsoluteer en daarop gewys dat dit aan die Goddelike kultuuropdrag diens- baar gestel moet word.

Van der Kooy gaan voort: Vandag is daar ‘n stuk of 60 sulke skole, onderling verdeeld, en eintlik maar ‘n poging om met die eertydse Christelike-nasionale ideaal voort te gaan.

Elke CVO-skool is ‘n selfstandige entiteit. Hoofsaaklik praktiese verskille kom voor. Maar om te sê hulle is onderling verdeeld is onwaar. En wat voortgang met Christelik-nasionale onderwys betref: Wat is daarmee verkeerd?

Van der Kooy beweer verder: Christelik, ja, maar so algemeen dat ook allerlei charismatiese bewegings en sektes en selfs die Israel-visie geakkommodeer word.

Daar is reeds na die smalstandigheidsbesluit verwys. Om te beweer dat allerlei charismatiese bewegings en sektes geakkomodeer word, kom daarop neer dat beginsels verwater word, wat onwaar is. Die teendeel gebeur dat kinders en hulle ouers deur hulle verbintenis met ‘n CVO-skool tot die gereformeerde leer en lewe kom. Wat die Israelvisie betref word dit vrywel nêrens geduld nie, laat staan nog geakkomodeer.

Van der Kooy stel: Die "kultuureie" word belangriker geag as die "Christelike". In die praktyk word net blankes toegelaat.

Die eerste sinsnede is blatant onwaar. Wat die laaste stelling betref: Ouerskole word deur ouers opgerig en gefinansier om hulle kinders na eie siening en beginsels groot te maak en op te voed. Dan het daardie ouers tog seker die reg en plig om toe te laat wie hulle wil?

Christelike onderwysers

Volgens Van der Kooy is een probleem dat gereformeerde skole kundige en regsinnige onderwysers vereis. Dus nie "Christelik-nasionale" onderwysers nie, maar onderwysers wat weet wat dit is om onderwys met ‘n voluit bybelse inhoud te gee.

Hoe nou? Per definisie is geen Christelik-nasionale en dus Afrikaner-onderwyser regsinnig nie en weet ook nie wat dit is om onderwys met ‘n voluit bybelse inhoud te gee nie? Wat ‘n belediging aan opreg Christelike onderwysers wat in CVO-skole dien!

Wie in ‘n glashuis woon.....

Van der Kooy, en deur hom ARSO, kan ook tot orde geroep word. ARSO het vir die staatseksamen in matriek gekies en moet dus die staatsvoorgeskrewe vakke en leerplaninhoud volg. Sal Van der Kooy en ARSO ook ‘n Christelike sousie in die klas hieroor gooi? Daarteenoor staan die BCVO-Eksamenraad waar CVO-leerlinge Christelik-volkseie eksamens kan skryf ooreenkomstig CVO-leerstof in die BCVO se eie leerplanne met eie handboeke. Die BCVO-Eksamenraad het sy dienste aan ARSO aangebied. ARSO het geweier om daarmee saam te werk, aldus vir die sekulêre staatseksamen gekies.

Die toestand is te ernstig vir ‘n gekibbel en gekrakeel oor dan dié dan dáárdie saak. Christelik-volkseie word, onder die vaandel van die voormalige CNO-onderwys, openlik aangeval en teengewerk. Die dag kan selfs kom dat dit regstreeks verbied kan word. Om nou in die trant van Van der Kooy op te tree sal die strydvaardigheid in die stryd teen die rewolusionêre aanslag op die onderwys en daardeur op Kerk en volk aftakel.