|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
SKRIFOORDENKING
KOERSHOU TE MIDDE VAN VERDRUKKING EN VERLEIDING
Hebreërs 11 : 1 - 28
- DS CJJ PUTTER - FICKSBURG -
... terwyl ons so'n groot wolk van ge-tuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. (Hebr 12:1,2) Hebreërs is gerig aan mense wat weens verdrukking, vervolging en verleiding uit koers geslaan was. Nou het die Here hulle in Hebreërs 11 geleer dat die gelowiges in die outyd alleen koers gehou het deur geloof wat gerig is op die Onsienlike.
Die voorbeeld in hoofstuk 11:24-28 is Moses. Watter druk en verleiding was daar nie op sy pad nie? Hy was 'n gebore Israeliet, lid van die veragte slawevolk wat in Egipte swaar verdruk was. Maar hy was deur Farao se dogter in die gemak van die paleis, met mag, rykdom, eer en voorspoed grootgemaak. Hoe maklik was dit nie om maar net daar te bly nie? Maar verse 24 & 25 sê: "Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om eerder sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê ...". Waarom? Vers 26 leer dat hy "die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning."
Die volk van God, Israel, die Ou Testamentiese kerk was die draer van die beloofde Messias, Jesus Christus. En Moses het sy oog op Hom, op Jesus Christus as Leidsman en Voleinder van die geloof gehou en die verlossing verwag wat Hy sou bewerk en op die beloning van die ewige heerlikheid. Van hom kon dieselfde gesê word as van Abraham - vers 10: "Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God self die boumeester en oprigter is." Hy het na iets beters as die skatte van Egipte verlang, hy het na die hemelse verlang. Daarom ag hy die smaad van Christus wat Israel op daardie stadium gedra het, groter rykdom as al Egipte se skatte.
En daarom: "deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien."
Hy het vreesloos na Farao gegaan in God se diens, volgens sy opdrag met die eis dat hulle God se volk moes laat trek. Ná elke plaag het hy vreesloos teruggegaan totdat Farao die volk laat trek het. Moses het hom nie blindgestaar teen die woedende koning van Egipte wat hy met sy oë voor hom gesien het nie, hy het in die geloof die Onsienlike, die Here, voor hom gesien.
En die geloof het ook die vrees vir die verderfengel weggeneem, wat met die tiende plaag deur Egipte getrek en die eersgeborenes getref het. Moses laat in opdrag van God die volk Paasfees vier en laat hulle skuil agter die bloed van die Paaslam, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie. In die geloof wat God aan Moses en die volk gegee het, is hulle uit dit wat vir hulle hopeloos in Egipte gelyk het bevry in Christus, die ware Paaslam se bloed.
En Moses het wel gesterwe sonder dat hy die beloofde land kon ingaan. Hy het, soos vers 39 dit stel van die geloofshelde, die belofte van die ingang in die aardse Kanaän nie verkry nie. Maar dit, aldus vers 40, omdat God ook vir hom iets beters beskik het, naamlik die hemelse Kanaän, die stad met fondamente.
Die Hebreërs wat koersloos was en ons wat leef in 'n koerslose wêreld en land waar mense koersloos raak, waar mense gerig is op genot en die voordele van die hier en nou en waar selfs kerke koersloos raak, word opgeroep om uit die getuienis van die geloofsheld Moses te leer hoe ons kan koershou te midde van geweld, swaarkry, vyand-skap, verleiding en dergelike meer. Moses het sy oog op Christus gehou wat nog sou kom en ons moet ook die oog vestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van die geloof.
In ons moet ook die geloofsgesindheid wees soos die gesindheid van Jesus Christus. Want wat het Hy gedoen? 2 Korintiërs 8 : 9 sê dat Hy om ons ontwil arm geword het. Hy het dit gedoen met die oog op die vreugde wat aan Hom voorgehou is. Hy het uiteindelik aan die regterhand van God gaan sit (hoofstuk 12 : 2).
En hierdie gesindheid kan in ons wees, want Christus is as Paaslam vir ons geslag. Hy het ons verlos, Hy het sy Gees aan ons gegee. Ons kan te midde van alles wat ons in hierdie wêreld van koers af wil slaan, koers hou deur die geloof wat 'n vaste vertroue is op die dinge wat ons hoop, 'n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie. Ons kan deur die Gees, soos Moses volhou soos een wat die Onsienlike sien. Ons kan, omdat ons skuil in die bloed van die Paaslam en omdat ons weet dat God vir ons iets beter beskik het as wat ons nou beleef. In Christus moet ons die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
As jy net die oog op hierdie wêreld hou, dan verloor jy koers. Dan gaan jy maar mee met die onchristelike gebruike, idees, onderwys en dergelike meer in ons land, uit gemak of uit vrees vir die heidendom en owerheid of uit liefde vir geld. Dan vier dinge soos egbreek, dobbelary ensovoorts ook hoogty, soos ons dit tans in ons land ervaar. Dan verloor ook kerke koers en aanvaar maar alles beginselloos. As jy leef net met die oog op hierdie wêreld raak jy ook bang, uitsigloos en toekomsloos. Dit is dan dat mense reken dat die risiko's om kinders te hê in so 'n wêreld vol geweld, werkloosheid, armoede, siektes, ensovoorts, te groot en te onregverdig teenoor dié kinders is.
Maar so mag ons egter nie lewe en koers verloor nie.Ons moet die oog vestig op Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. Ons moet deur die Gees se werking in ons, die smaad vanweë Christus groter rykdom ag as die skatte van Egipte, al bring dit nou ongemak, want ons kan uitsien na die beloning wat vir ons weggelê is. Ons verwag vir ons en ons verbondskinders die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Daarom kan en moet ons vreesloos leef volgens die Woord van die Here en by die waarheid daarvan bly. En al bring dit ons in konflik met die wêreld, al bring dit dalk lyding en verdrukking, hoef ons dit nie te vrees nie. Ons hoef ook nie die toekoms en selfs ook nie die toorn van die koning, die owerheid in ons land, te vrees as ons getrouheid aan Christus ons in konflik met hom sou bring nie. Met die oog op Jesus Christus kan ons vreesloos volhou op die pad van die geloof soos een wat die Onsienlike sien.