Die kerklike verdelingslyne kan in enkele katagorië ingedeel
word:
Die wat die sinodebesluite geheel of gedeeltelike aanvaar en
uitvoer,
Die wat die sinodebesluite verbygaan en rustig volgende
sinodes afwag en intussen toetsing daarvan doen. Hulle handhaaf dus steeds
die ou bekende praktyke sonder om oor die nuwe besluite pertinent te handel.
Dan is daar die wat dié verskeurende besluite met
motivering verwerp het en die redes daarvoor per skrywes aan kerke in die
kerkverband bekend gemaak het. Enkele van laasgenoemde kerke het met
voorligting en gespreksvoering begin. Etlike predikante, ampsdraers en
lidmate het as indiwidue hulle reeds daarby gevoeg en/of intense meelewing
in die gesprekvoering getoon.
Die besluite wat die spanning veroorsaak het, is:
die aanbeveling van die 2001-omdigting wat nie aan die
vereistes van getroue Skrifliedere voldoen soos die vorige sinodes bepaal
het nie,
asook die besluit dat vroue tot die diakenamp verkies mag
word, wat in stryd met die Skrif is (soos wat Sinode 1988 na omvattende
studie besluit het).
Uit die motiverings vir die besluite (soos tydens die sinode
asook later in openbare kerklike literatuur verwoord) word ‘n
relativerende post-modernistiese Skrifbeskouing en Skrifhantering bemerk,
tesame met ‘n soortgelyke Godvoorstelling, mensbeskouing en kerkleer.
Voortspruitend ondergaan baie kerke van die GKSA ernstige
transformasies in die inkleding van hulle eredienste. Die wyse van
nagmaalsviering asook die invoer van jeugdienste en so meer veroorsaak groot
spanning. Sodoende het daar ‘n behoefte ontstaan om ‘n konferensie te
belę waarop hierdie sake bespreek sal word. Uiteraard sal daar primęr
indringend gekyk word na die sinodebesluite wat die onrus veroorsaak het.
Dit is die opregte strewe van die samewerkende kerkrade om die eenheid en
die reformasie van die Kerk te soek en die eer van die Here Jesus Christus
te handhaaf.
Die volgende kerkrade aanvaar verantwoordelikheid vir die
oproep tot die bywoning van hierdie konferensie en die organisering daarvan:
Die Gereformeerde Kerke Waterberg (Dolerend), Pretoria,
Pretoria-Die Kandelaar, Ficksburg, en Hennenman / Senekal / Ventersburg (kombinasie).
Indien u kerkraad van oordeel is dat met bogenoemde in
gedagte oor die sinodebesluite besin moet word, dan word u versoek om twee
broeders af te vaardig om hierdie konferensie by te woon. Indiwiduele
ampsdraers en belangstellende lidmate is ook welkom om in persoonlike
hoedanigheid die konferensie by te woon.
Die konferensie sal DV op Saterdag 5 Maart 2005 in die
kerkgebou van
Die Gereformeerde Kerk Pretoria
(Paul Krugerkerk) gehou word.
Registrasie vanaf 08:00. Aanvang van die verrigtinge 09:00.
Verdaging omstreeks 15:30.
Konferensiedeelname R 50,00 per persoon. Dit sluit die
gebruik van ligte verversings in.
Nadere besonderhede sal deur middel van die kerklike pers en
ander media bekendgestel word.
Inligting oor die inhoud van die konferensie is beskikbaar
by die skribaat van die samewerkende kerke: prof. Hendrik van der Wateren
(tel. 014 717 3264)
of br Rien van der Meer (tel. 082
397 2254 of e-pos rienvandermeer@absamail.co.za).
Inligting oor en vermelding van bywoning: die kerkkantoor,
Tel. 012 326 2290 (07:00 -12:00)
sr.
Henriëtte Prinsloo. Faks. 012 326 5287 of E.pos: gkpretoria@absamail.co.za
Namens bogenoemde kerkrade,
die kerkraad van die Gereformeerde Kerk Pretoria
Ds HT de Villiers (Voorsitter) Oudl. AS
du Plessis (Skriba)