|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
KERKLIKE JOERNAALPAUL KRUGER: GROOT IN BALLINGSKAP
- DR JD DU TOIT (TOTIUS) IN: DIE KERKBLAD, 8 OKTOBER 1943
Daar is nog 'n bedevaartstog wat ons moet maak. Die stasies is Nelspruit - Komatipoort - Lourenco Marques - Dar-es-Salaam - Djibouti - Marseilles - Amsterdam - Keulen - Utrecht - Hilversum - Clarens. By almal kan ons nie stilstaan nie.
Komatipoort - vandaar het hy vir laas teruggekyk na Transvaal, die bodem waaraan hy vasgekleef het met die hartstog van sy Afrikaanse siel. Nou kom ook Transvaal in ballingskap. Dar-es-Salaam - hier word hom deur die Duitsers 'n maaltyd aangebied, maar hy het beleefd geweier: sy hart was te vol droefheid. Marseilles - hier moet hy kla dat die oorlog "die grense van barbaarsheid oorskry het". Keulen - hier ontvang hy die telegram dat die Duitse Keiser hom nie kan ontvang nie. 'n Bittere teleurstelling. Hilversum - hier tref hom wat hy self genoem het "die swaarste slag van sy lewe" - kabelberig meld dat sy liewe vrou in Pretoria gesterf het. Utrecht - hier kom soos 'n donderslag die berig: Transvaal is verlore. Op 'n telegram van simpatie het die President net kon antwoord: "My smart is onbeskryflik. Meer kan ek nie sê nie". Clarens - hier val die gordyn ... en dit word nag vir die Afrikanerdom. Wat 'n lang lys van ballingsoorde! En dit vir 'n ou man, neergedruk deur krankheid en kommer.
So het Kruger dan ondergegaan in die vloedgolf van ellende (uitlandigheid). Maar sy beeltenis het weer verrys in die bewondering van sy volk. Geen naam wat so 'n trilling van ontroering laat gaan deur 'n volksmenigte soos die naam van Kruger nie. Hy leef met die manne van die eeu, en hy leef in die hart van sy volk.
Waarom? Omdat hy, te midde van die griewende teleurstelling en wrange persoonlike smart, nooit gewanhoop het aan die toekoms van sy volk nie, wat hy vertolk en versinnebeeld het, soos geen ander voor hom nie, die diepste roersele van die Afrikanergemoed.
Uit die tyd van teëslae en teleurstellings dateer ook hierdie woorde van die president: "Dink u dat God sy saak, wat Hy eenmaal begin het, sal laat vaar?" Hy verwys na Psalm 83 en konstateer dan: Daar kom dieselfde woorde van Salisbury voor, want hy sê ook: "Hierdie volk moet nie bestaan nie", en God sê: "Hierdie volk sal bestaan". Wie sal wen? Sekerlik die Here!