|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 6 November 2004
Redaksioneel
|
By die verskyning van hierdie laaste uitgawe vanjaar, wil ons graag terugkyk na wat dit in terme van ons blad se belangstelling opgelewer het. Betreffende ons eie insette het ons onverpoosd voortgegaan om behoudende geloofsienings te motiveer en te beskryf en dit wat belangrik en daarmee in stryd is te kritiseer en so nou en dan te polemiseer. Inligting oor feitlike gebeure in die kerke van gereformeerde herkoms is al of nie tesame met kommentaar onder aandag van ons lesers gebring. Enkele uitstaande punte van belang wat in hierdie uitgawe aan die orde gestel word, is inligting oor die sinode van die AP Kerk en die Algemene Kerkvergadering van die NH Kerk. Ook word 'n kort verslag gelewer oor die derde landswye Konferensie van gereformeerde kerke wat op 23 en 24 September by die NG Kerk Suiderstrand in die Kaap gehou is. Dan nog 'n belangrike bekendstelling van en oproep tot bywoning van 'n kerke-konferensie oor die verdeeldheid in die Gereformeerde Kerke as gevolg van 'n nuwe Skrifbeskouing in stryd met die NGB, artikel 7. Dié vergadering is beplan vir DV 5 Maart 2005 in die Paul Krugerkerk te Pretoria, deur 'n samewerkingsverband van kerke, te wete: Waterberg (Dolerend), Pretoria, Pretoria-Die Kandelaar, Ficksburg en Hennenman / Senekal / Ventersburg (kombinasie). Uit verskeie oorde is lank reeds aangedring op die hou van so 'n byeenkoms. So kom ons dan weer aan die einde van 'n jaargang, dis reeds die agtste. Ons dank gaan allereers uit na die Here wat die periodieke verskyning al die tyd moontlik gemaak het. Dan ook ons dank aan die intekenare wat ons gedurig met finansiële bydraes ondersteun het. Daarsonder kan 'n blad nie bestaan nie. Maar nie in die minste nie bedank ons die lesers vir opbouende kritiek, medewerking en morele ondersteuning wat ons ontvang. |