Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid (2)

AKTUEEL: 11 September 2001      

SKRIFOORDENKING:
Die Here se saak is nie hopeloos - Openbaring 13:1-10

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 92

Aanbidding in Gees en Waarheid

Skrifgeloof en Wetenskap

Verdraaiing van feite en halwe waarhede (Kritiek)

Die Kerkorde van De Mist

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog 'n interpreterende Bybel

Dr Isak Burger (AGS): 'n "Nuwe seisoen vir die kerk"

Ng kerk en AGS lede van die SARK

The Passion of the Christ - "Moenie gaan kyk nie!"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ononderbroke aanslag op Christelik-nasionale onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk

Globalisering:

PERSRUBRIEK: Die Bybel slegs goed vir 'n verskraalde stel beginsels?

"Versoening" - Dr Beyers Naudé

SARK se betrekkinge met regering en politiek

Nederlandse kerklike verwikkelinge

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Kompas: "Kruger en Mandela"

MEDIESE ETIEK: 
Gehoorsaamheid uit eie hart?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 5 September 2004

AANBIDDING IN GEES EN WAARHEID

- S LE CORNU. IN: ESRA VERSLAG, JAARGANG 12, NR 55, JANUARIE-JULIE 2004 (BL 39 - 90) -

Met verwysing na die Skrifgedeelte Johannes 4:1-26, en spesifieke aanhaling van vs 24: "God is Gees; en vir die wat Hom aanbid, is dit noodsaaklik om in gees en waarheid te aanbid." Die kursief gedrukte is die skrywer se eie (gemotiveerde) vertaling vanuit die Griekse teks. Die inleiding van hierdie nogal lang artikel is sterk aktueel, wat ons graag aan ons lesers bekendstel.

Mengelmoes aanbidding

"Solank ons nog almal glo in Jesus se Godheid, moet ons ons nie te veel bekommer oor aanbiddingsverskille nie", is baie kerkmense se versugting vandag.

In 'n onlangse dagkoerant (Beeld, 21 Junie 2004, rubriek Godsdiens-aktueel) word dit soos volg uitgedruk:

Die gemeente waarin ek leef, is 'n mengelmoes. Daar is mense van Nederlands-Hervormde oorsprong en daar is Gereformeerdes. Daar is Anabaptiste en Rooms-Katolieke, selfs een wat van geboorte Joods is. Almal aanbid en sing saam.

Die mengelmoesteologie agter so 'n uitspraak is gewoonlik: die verlossingsvraagstuk - hoe ek gered word? - is noodsaaklik en daaroor mag geen onenigheid wees nie, maar wat die erediens en aanbidding betref - hoe moet ek die Here aanbid? - daaroor kan ons maar wyd verskil, en moet ons verdraagsaam wees. Daar is - so word beweer belangriker sake wat nou ons aandag nodig het. Konkreet kom dit daarop neer, om maar 'n paar hedendaagse voorbeelde te noem: die een gemeente kan maar die kelkies gebruik, en die ander die beker; die een kan net psalms sing, die ander gesange ook; die een kan die feesdae vier, die ander hoef dit nie te doen nie; die een kan die vrou in die amp hę, die ander een hoef nie, ensovoorts ... solank - en dit is die enigste voorwaarde - ons almal maar net saam "glo" ... .

Behalwe bogenoemde stelling en gesindheid, word daar ook verder gesę (wat al beter klink en dalk nader aan ons as gereformeerdes is): ja, aanbidding is opsigself belangrik, niemand mag dit ontken nie. Maar dit is die "dat" ons aanbid wat belangrik is, nie die "hoe", "wyse" of "manier" van aanbidding wat belangrik is nie ... laas-genoemde hang af van die mens se behoeftes, kultuur en tradisies, waar "ek" tuisvoel. Sommiges sal sę elkeen se "aanbiddingsbehoeftes" bepaal daarom hul "hoe" van aanbidding. So byvoorbeeld sal dit goed wees as "westerse kerke" die Psalms sing, maar vir die "afrika kerke" is gesange goed en kan hulle dit mos "lekker" sing. So aanbid elkeen die Here op sy eie manier, solank ons net almal die regte Here aanbid ... word geredeneer.

Kortom: beteken al die voorafgaande sienings dat die eerste gebod 'n beginselsaak is, die tweede gebod 'n middelmatige saak.

Die gevolg hiervan is dat ons soveel verskillende "teologieë van aanbidding" kry as wat daar kerke is. Sodoende lei, myns insiens, nie net die waarheid nie, maar ook die eenheid van die "heilige, algemene Christelike kerk" daaronder, węreldwyd.

Prof Barry Gritters verdeel moderne afvallige aanbiddingsbenaderings in drie groepe:

- charismatiese aanbidding, wat emosioneel en "signs and wonders" gedrewe is;

- "seeker-service" aanbidding, waarin die "behoeftes" van die verskillende groepe mense sentraal staan (dit lei gewoonlik tot "kinder" en "jeug" kerke), wat gewoonlik in "evangeliese kerke" te vinde is; en

- "High Church" aanbidding, waar daar groot klem geplaas word op allerlei seremoniële en simboliese aspekte in die erediens. Dit is die lyn van die Rooms-Katolieke en Anglikaanse Kerke, wat ook baie vinnig veld wen onder kerke van gereformeerde agtergrond.

Ter agtergrond hiervan moet verstaan word dat veral in die twintigste eeu, miljoene mense se siening en ervaring van aanbidding radikaal begin verander het, deur die geskiedenis en invloed van die sogenaamde Liturgiese Beweging (LB). Die LB word beskryf as "part of the reawakening of the Church" in die twintigste eeu, aangesien die kerk en Christelike waardes 'n groot terugslag gekry het deur verskillende moderne filosofieë vanaf die sewentiende eeu, die gevolg van twee węreldoorloë en allerlei verskillende konflikte węreldwyd. Die LB het ander tekste, style, konsepte en selfs geboue na vore gebring, as alternatief vir tradisionele vorme van aanbidding. Sodoende is ook die manier waaroor gedink is oor aanbidding verander. Die LB is veral ook bevorder deur die Ekumeniese en die Charismatiese bewegings, wat daarin geslaag het om kerkgrense af te breek of vloeibaar te maak. Dit is daarom die afgelope twee dekades in ons land nie 'n vreemde verskynsel om te sien hoe mense van verskillende geloofstradisies oor en weer nie 'n probleem het met mekaar se maniere van aanbidding nie. "Church hopping and swopping" is 'n algemene stokperdjie en tydverdryf, ook onder Afrikaners vandag.

In die Christian Renewal, tydskrif van Kanada (vol 22, bl 9) van 26 Januarie 2004 berig Tangelder onder die opskrif "The Changing face of worship in changing times", hoe die gesig van aanbidding in die twintigste eeu radikaal verander het. Hy verwys na twee "mega" kerke in die VSA, naamlik "Willow Creek Community Church" en die "independent, postmodern, evangelical 'Mars Hill Bible Church'" wat se dienste bestaan uit "services as programmed with cutting-edge music, drama ... 50 vocalists, a 75-peace choir, seven rhytms bands, a 65-peace orchestra, 41 actors, a video production department, and an arts center with 200 students that serves as a farm club for future talent ..." Verder word die prediking beskryf as "funny, imaginative, informative" waar lede sę: "they like being able to walk in the church with a cup of coffee, spiked hair and jeans." In die VSA is daar ook 'n "In-Car Worship Center" oopgemaak, waar jy sommer in jou kar kan bly sit en "aanbid" (Christian Renewal, 26 April 2004).

Hierdie vorme van aanbidding, volgens Tangelder, het nie net 'n invloed op charismatiese en evangeliese kerke nie, maar ook op die Christian Reformed Church in die VSA, en ander gereformeerde kerke.

Kerke van 'n protestants gereformeerde agtergrond gaan gelukkig (nog nie?) sover as die charismatiese kerke węreldwyd nie, maar daar is is 'n duidelike wegbeweeg van 'n die Woord-alleen gesentreerde eenvoudige gereformeerde erediens, na 'n progressiewe van 'n Woord-plus, 'n mens-gesentreerde vorm van erediens. 'n Makro gemeente in Lynnwoodrif, Pretoria het byvoorbeeld onlangs 'n nuwe ouditorium ingewy waar "beelde op die groot skerm" agter die "leier-predikant" gewys word (die leraar se klere bevat ook sekere liturgiese simboliek). Bo die "liturgiese ruimte" word die "geloofsgeskiedenis" uitgebeeld deur reuse groot visuele prente en simbole.

Die motief van die ouditorium is "gerig op die bediening van gesinne in 'n węreld van televisie, selfone en veranderende kommunikasiemetodes". Volgens een van die leraars wil hulle die "gereformeerde teologie onbeskaamd terugbring in 'n moderne idioom", waarin die "Woord sentraal in die bediening staan" (Beeld, 14 Julie 2004, bl 6). Maar as 'n mens die foto bekyk wat saam met die artikel gaan, lyk dit bepaald nie asof die Woord sentraal staan nie, maar wel die beeld!

Nader aan die Dopperhuis, is die Christian Reformed Church of North America (CRCNA), waarmee die GKSA in korrespondensie staan, besig om ernstig te besin om die woorde van die Heidelbergse Kategismus vr/antw 80 te verander, wat die Roomse Mis as 'n "vervloekte afgodery" beskryf. Daardie kerkverband is tans in gesprek met die Rooms-Katolieke Kerk in die VSA oor moontlike samewerking op verskillende terreine. Een van die professore skryf in hul tydskrif "Focus" die volgende oor die CRCNA se gesprekke met Rome:

Where might this next round of discussion lead? To certificates of baptism that officially recognize a common baptism in both traditions? To some movement toward participation in each others celebration of the Eucharist? Whatever happens, the CRC will have considerable broadened its ecumenical consciousness and taken a significant step forward in her efforts to contribute to the visible unity of Christ's church.

Ja, nie net is Lutherane, Anglikane en baie "evangelicals" oor die węreld besig om nader te skuif aan die verlossingsleer van Rome nie, maar ook wat aanbidding betref, is hierdie groepe - saam met sommige gereformeerde kringe - besig om nader aan mekaar te skuif. En ek wil die stelling maak, dat dit juis die liturgie / die inrigting van die erediens en hoe ons aanbid, die brug is of gaan word waarmee die protestante teruggeneem word na "moeder Rome". 'n Film soos "The Passion of the Christ", probeer ook op 'n subtiele wyse die Roomse Mis oordra deur die Roomse vertolking van die lyding en sterwe van Christus. So 'n film is ook niks anders as 'n vorm van aanbidding wat vir ons voorgehou word as legitiem nie ("ons dien God deur beelde ..."), en selfs gereformeerdes is besig om dit te probeer goedpraat, en nie as 'n oortreding van die tweede gebod (HK, Sondag 35) te sien nie. Verder kan daar ook gewys word op die pleidooie in sekere gereformeerde kringe in Nederland, om onder die dekmantel van "al wat waardig en welluidend is". kore in die eredienste terug te bring (De Reformatie, nr 29, 1 Mei 2004).

Al hierdie ontwikkelinge en deformasie in die erediens en aanbidding, is slegs 'n klein blik op die "mengelmoes" chaos en veranderinge wat plaasvind in die kerke węreldwyd, veral op die terreine van erediens en aanbidding. In 1 Timoteus 3:15 lees ons dat Paulus vir Timoteus sę dat hy - op grond van God se Openbaring, gelei deur die Gees van God - "weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid". Dus daar waar God spesifiek en veral aanbid moet word, moet ons ook vandag "weet" hoe ons God moet aanbid.

Ons sal dus opnuut moet vra wat is en hoe lyk die gereformeerde erediens? Hoe en wat bepaal ons aanbidding? Ons is natuurlik (en gelukkig nie!) die eerstes wat hierdie vrae gevra het nie, want vir die Kerk deur die eeue, veral die vroeë kerk en die sestiende eeuse Reformasie, het die saak van aanbidding sentraal gestaan.

Gereformeerde aanbidding

Die sestiende eeuse reformasie was nie net 'n herontdekking van die "verlossing uit genade, deur die geloof alleen" (Rom 1:16, 17; Ef 2:8-10) sola gratia / sola fide / sola Christi waarheid nie, maar ook 'n herontdekking en terugkeer na 'n "sola Scriptura" vorm van aanbidding en erediens. Johannes Calvyn skryf op 'n plek:

As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die Christelike geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee dele nie alleen die belangrikste plek beklee nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens is, naamlik eerstens, 'n kennis van die manier waarop God reg aanbid moet word, en tweedens, die bron waarvandaan verlossing verkry word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons in die naam Christene mag roem, is ons aanspraak leeg en waardeloos.

Die doel van al die sola's was, dat God alleen in alles sentraal sal staan en al die eer ontvang (Rom 11:33-36; soli Deo gloria), dit wil sę: in die mens se verlossing én sy aanbidding van God. Calvyn se woorde is ook die belydenis van elke gereformeerde gelowige en gemeente, soos verwoord in die volgende woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 7:

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo (die tweede punt van Calvyn - SLC), daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word (die eerste punt van Calvyn), daarin uitvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sę (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemaal volmaak en in alle opsigte volkome is ... .

Ons leef in tye waar die fondamente opnuut omgegooi word (Ps 11:3). wat beide ons verlossing deur God en aanbidding van God wesentlik aantas. Daarom moet ons opnuut, in afhanklikheid van God, deur Gees en Woord, die hele Skrifte, belydenisskrifte en ons kerkgeskiedenis ondersoek, sodat ons die HERE ook vandag sal dien en eer soos dit Hom behaag, want daarvoor is ons geskape (Gen 2:15) en daarvoor is ons bestem.

Daarom die ewige opdrag aan ons, deur die verlossing van Christus, vir vandag maar ook in die ewige toekoms:

Aanbid God! ... Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester. ... Want Ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. ... (Openb 20:18, 19).