|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
SKRIFGELOOF EN WETENSKAP
- PROF S DU TOIT - IN: BYBEL - SKEPPING - EVOLUSIE - 1968. VOORTREKKERPERS (bl 92 ev) -
Deur die eeue heen was daar altyd Bybelgelowiges wat skepties teenoor die wetenskap gestaan het. Dit mag egter nie so wees nie.
Ons mag nie van die wêreld afsluit en die kennis versmaad wat in ons tyd onder die voorsienige bestuur van God na ons gebring word nie. Alan Richardson sien die saak in 'n juiste perspektief as hy sê: "Die wêreldbeeld wat die nuwe wetenskaplike beweging moes uitwis, voordat dit tot rypheid kon kom, was dié wat op die werk van Aristoteles en Ptolemaeus gebaseer was - dit was nie uit die Bybel afgelei nie ... Die worsteling van die nuwe wetenskaplikes teen die ou orde was nie 'n worsteling van "wetenskap" teen "godsdiens" nie, maar die opstand van die nuwe wetenskaplike filosofie teen die ou Aristoteliese pseudo - (valse) filosofie ... So ver as die oorspronge van die moderne wetenskap geraak word, is die denkbeeld van 'n botsing tussen wetenskap en godsdiens een van die mites van die geskiedenis.
Die Skrif spreek nie die taal van die wetenskap nie maar van die daaglikse ervaring. Dit wil ook geen les in geologie of enige ander wetenskap gee nie. Ook by die verhaal van die oorsprong en wording van alle dinge bly dit die boek van die religie, van die openbaring, van die kennis van God.
Dit neem nie weg dat die Skrif totalitêr is, dit wil sê dat elke gebied van menslike lewe en kennis daardeur geraak word, want die verlossing waarvan dit spreek is totalitêr, hoewel op sy eie manier. Dit wil sê: die Skrif belig mens en wêreld, staat en maatskappy, wetenskap en kuns, vanuit een punt, naamlik vanuit die koms, die dood, die opstanding en die wederkoms van Christus.
Die Skrif self bedoel dus nie om wetenskap in die tegniese sin te gee nie. Dit is die taak van die wetenskap wat die skepping van God in sy geopenbaarde lig (Ps 36:10) wil sien om die verskillende afdelinge uit te bou volgens die grondlyne van die openbaring. As die Skrif byvoorbeeld verklaar dat die mens na die beeld van God geskape is het geen wetenskaplike, wat homself 'n Skrifgelowige noem, die reg om te verklaar dat daar geen wesensverskil tussen mens en dier is nie, of dat die mens kragtens 'n proses van immanente evolusie uit 'n dier of 'n mensagtige wese ontstaan het nie. Verder - die Bybel gee lig op sake wat die wetenskap nooit kan ontdek nie.
As daar maar goed gelet word op artikels 2 en 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, sal baie probleme verdwyn. Artikel 2 verklaar dat die Skrif ons gee: "soveel naamlik as wat ons nodig het in hierdie lewe, tot sy eer en die saligheid van wie aan Hom behoort" (met ander woorde, nie inligting oor alle moontlike en onmoontlike dinge nie). Artikel 7 sê: die wyse waarop God deur ons gedien moet word, is in die Skrif geheel en al uitvoerig beskryf en dit leer ook genoegsaam wat die mens moet glo tot saligheid.
Tereg sê NH Ridderbos: Die teologie het herhaaldelik die Bybel meer laat sê as wat dit inderdaad sê en so sy grens oorskry, met die gevolg dat die ander wetenskappe op 'n nie-verantwoordelike wyse beperk is in hulle vryheid en beweging.
Verder: die teologie het nie die monopolie van die beroep op die Skrif nie, maar dit is tog goed dat die ander wetenskappe gebruik maak van die hulpdienste van die teologie.
Onbevoegde instansies mag egter ook nie in die terrein van die teologie indring nie. Soms is die metodes van die natuurwetenskap op die teologie toegepas, en - die pasient het beswyk!
As die teologie sy grense oorskry, vergryp dit hom aan die besondere openbaring van God. Dit word spekulasie, omdat dit homself nie hou binne die grense van wat God geopenbaar het nie.
Moet die Bybel wyk?
'n Ander dwaling lê opgesluit in die gedagte dat die Bybel altyd aan die kortste end is as daar 'n skynbare botsing tussen Skrif en wetenskap is. Dit kan immers ook wees dat die wetenskap op 'n dwaalspoor is, waar die verstand van die mens maar uiters beperk in sy vermoëns is en bowendien deur die sonde benewel. Dit kan ook wees dat die Bybel verkeerd verklaar word.
Daar kan dus na twee kante gesondig word. 'n Mens kan in dodelike erns spreek en ten volle oortuig wees dat jy stry vir die waarheid van die Woord van God. Maar sonder dat dit besef word, kan 'n mens die Skrif dinge laat sê wat glad nie so bedoel is nie. Daar moet rekening gehou word met wat onder die voorsienige leiding van God gebeur, ook in die wetenskap.
Aan die ander kant moet wetenskaplikes, ook natuurwetenskaplikes, beskeie wees wanneer hulle hul resultate vergelyk met die Heilige Skrif. Daar moet ook onderlinge raadpleging wees tussen teoloë, wysgeriges en die beoefenaars van die vakwetenskappe.
Bring die wetenskap "meerdere lig"?
Berkouwer bespreek hierdie vraagstuk in sy werk oor die Skrif. Hy stel die vraag: as die wetenskap dan meerdere lig bring, wat is die verhouding tussen hierdie lig en die Woord van God, wat 'n lig op ons pad en 'n lamp vir ons voet is? Kan ons van 'n tweevoudige lig spreek? Word die wetenskap nou 'n medeverklaarder? En wat dan van die reformatoriese beginsel dat die Skrif sy eie verklaarder is?
Ons wil hier met Schippers volmondig saamstem as hy verklaar dat die Bybel 'n selfstandige openbaring naas en bo hom afwys en dat teologie wat hiervoor geen oog het nie, geen teologie meer is nie, maar godsdienswetenskap. Die spanninge wat deur hierdie houding te voorskyn geroep word is ten slotte nie spanninge tussen Bybel en wetenskap nie, maar tussen Bybel en mens. Die eintlike krisis van die Christelike geloof word nie deur die wetenskaplike ondersoek veroorsaak nie, al word dit daardeur aan die lig gebring.
Die wetenskap kan wel 'n spoorslag en aanleiding wees tot besinning ten opsigte van 'n geykte Skrifverklaring. Die toetssteen van elke nuwe eksegese sal egter wees of die aandag nie van die Skrif afgewend word nie, maar meer en meer daarop gerig word. Die Skrif bevat die geheim van die evangelie en sal blywend sy verklaarder wees. Die wetenskap kan en sal die liefde en waardering vir die Skrif laat styg as dit reg beoefen word.
Ons kan saamstem met Kalsbeek as hy verklaar: "Wanneer ek die wonderlike bou van die heelal aanskou in makrokosmos en mikrokosmos (groot en klein dinge), die lewe van plant en dier en veral die wonderlikste van alles: die mens met sy bewussyn en denke - dan is dit vir my onmoontlik, ja radikaal onmoontlik, om in te stem met allerlei meer of minder vernuftige verklaringswyses, wat die ontstaan van alles wil toeskrywe aan die blinde toeval of aan 'n samespel hiervan met nog iets anders, of aan 'n onpersoonlike 'goddelike' krag, of hoe 'n mens dit ook wil noem. Dan kan ek alleen met sekerheid bely: Ek glo in God, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Ons besef wel dat ons dit te danke het aan ons Christelike opvoeding. Maar iemand wat hierdie opvoeding nie gehad het nie, moet nie meen dat hy 'n meer objektiewe kyk op die dinge het nie. Ook sy opvoeding is, bewus of onbewus, gedra deur 'n lewensoortuiging wat op geloof berus. Wat die deurslag gee is dit: uiteindelik kan die onbegryplike wonder van die skepping deur die wetenskap nie aangetoon word nie, ook nie verklaar of ontken word nie. Wel kan die man van wetenskap in diepe ootmoed probeer om na te vors hoe dit by die ontstaan van die dinge toegegaan het - in sover dit moontlik is. Per slot van rekening gaan dit egter nie om 'bewyse' nie maar om 'n eksistensiële beslissing, 'n beslissing wat ons hele bestaan raak. Geloof is die fondament waarop die wetenskaplike gebou opgetrek word. Ondermyn hierdie fondament - en die gebou wankel."
Is die wetenskap gelyk aan algemene openbaring?
Soms word die "natuur" en "Skriftuur" naas mekaar geplaas en wel op so 'n wyse dat die indruk gewek word asof ons die kennis van God in die natuur hoofsaaklik te danke het aan die natuurwetenskap. Daar word selfs gepraat van Gods "natuuropenbaring". Maar ten diepste is daar geen ware kennis van God in die werke van sy Hand moontlik buiten die geloof in Christus om nie.
'n Verdere konsekwensie van hierdie foutiewe standpunt is dat algemene en besondere openbaring as twee van mekaar onafhanklike bronne met volstrekte outoriteit beskou word. Dit kan nie wees nie, want in die openbaring gaan dit om God self. Hy kan nie in die werke van sy Hande deur natuurwetenskaplike ondersoek gevind word nie, maar alleen deur die geloof (vgl Psalm 8). In hierdie psalm word die God van die heil besing in sy grootheid en heerlikheid. In die NGB, artikel 2, word duidelik gesê dat die skepping 'n middel is waardeur ons God ken.
Bowendien is die algemene openbaring ook veel ruimer as die natuur, want God openbaar Homself ook in die geskiedenis van die mensheid.
As hierdie beginsels in ag geneem word kan daar nooit stryd tussen algemene en besondere openbaring wees nie.
Die wetenskap oorbodig?
As in gedagte gehou word dat die Bybel ons Christus leer ken in wie alle dinge hulle bestaan het, dan is daar 'n duidelike verband tussen die Skrif en 'n wetenskap wat daarvoor buig. Die bedoeling van die Bybel is sekerlik nie om natuurwetenskaplike ondersoek oorbodig te maak nie.
Die gelowiges van vroeër, vir wie dit vas gestaan het dat die aarde sesduisend jaar oud is, dat dit plat is en stilstaan, is deur hulle geloof gered. Vir ons gaan dit egter daarom dat ons vandag nie meer kan sê dat die Bybel dit alles leer nie. Meuleman sê dat die Bybelskrywers deur die Heilige Gees in staat gestel is om van God en sy koninkryk te getuig, maar die bedoeling was sekerlik nie om hulle in staat te stel om feilloos allerlei beweringe op natuur-wetenskaplike gebied te maak nie.
Die woorde van die volgende Godgeleerdes is die moeite werd om te onthou:
Augustinus: "... as ons enigiets vind in die Goddelike Skriftuur wat op verskillende maniere verklaar kan word sonder skade vir die geloof, moet ons nie halsoorkop voorthardloop van een opinie na 'n ander nie; sodat, as dit mag blyk dat die mening wat ons aanvaar het, vals is, ons geloof nie daarmee saam val nie en dit gevind word dat ons nie soseer geveg het vir die leer van die Skrif nie as vir ons eie leer, terwyl ons probeer om ons eie leer dié van die Skrif te maak, inplaas dat ons die leer van die Skrif ons eie maak."
Thomas van Aquino: "... in vraagstukke van hierdie aard moet op twee dinge ag gegee word. Ten eerste, dat die waarheid van die Skrif onaantasbaar gehandhaaf word. Ten tweede, aangesien die Skrif verskillende verklaringe toelaat, moet niemand aan een be-sondere verklaring vasklem met so 'n hardnekkigheid dat, as wat hy beskou het as die leer van die Skrif te wees, agterna sou blyk klaarblyklik vals te wees, hy tog nog voortgaan om dit te verkondig en die Heilige Skrif blootstel aan die spot van ongelowiges en die weg van die saligheid vir hulle sluit."
En NH Ridderbos: "Wat aan die gang is, is 'n ernstige besinning of ons (en ons vaders voor ons) op bepaalde punte die Bybel wel goed begryp het. Een van die punte is Genesis 1 tot 3. Dit gaan om wettige vrae, dit wil sê vrae wat nie voortkom uit 'n sug na verandering of uit 'n minder ernstig neem van die belyde van die Kerk nie, maar veeleer uit die ernstige begeerte om by die Skrifte te lewe en die sin van die Skrif by die lig wat ons gegun is, beter en na sy ware aard te verstaan."
Bybel en geskiedskrywing
Die Bybel kom tot ons as verkondiging van die dae van God in die geskiedenis. Daarom hoort verkondiging en geskiedenis onlosmaaklik bymekaar. C Brouer merk ergens op: "Daar is maar een volk wat werklik geweet het wat geskiedenis is, omdat dit van God geleer het, naamlik Israel. En daarom is daar maar een geskiedenisboek - die Bybel. Die dinge wat in die mites van die heidense volke gesê word, geskied nie. Hulle is slegs 'n vergelyking, 'n simbool van die werklikheid, maar hulle raak die werklikheid nie." Sodra "wat geskied het" en "wat geskrywe" is uitmekaar getrek word, kry die Skrif 'n eie, deur die eksegete gevormde en gevulde bestaan en dan vang die "martelaarskap van die Bybel" aan.
Die verlossingsdade van God het in die menslike geskiedenis gebeur. Ons het in die Bybel nie te doen met 'n aantal Goddelike waarhede wat in die inkleding van 'n historiese verhaal tot ons kom nie. Die geskiedskrywing is sentraal georiënteer op die religieuse verhouding tussen God en sy volk.
Ons taak is om die historisiteit van die kerugma (verkondiging) en die kerugmatiese in die historie van die Skrif tot gelding te bring. Sowel 'n geskiedenislose kerugma as 'n kerugmalose geskiedenis gee nie die volle inhoud van die Skrif weer nie. Dit gaan in die Bybel om die dade van God in die geskiedenis, wat deurgetrek word tot die skepping, om aan te toon dat die God van die verbond met Israel, ook die Skepper van alle dinge is.