|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
VERDRAAING VAN FEITE EN HALWE WAARHEDE
"Daar is in die verlede dikwels 'n noue verband tussen kerk en volk gelê,en so ook tussen die Afrikanervolk en die volk Israel. President Paul Kruger het byvoorbeeld in sy toesprake graag die Afrikanervolk met Israel vergelyk", aldus die redakteur van DIE KERKBLAD, in die uitgawe van Julie 2004, bl 35,36.
Dr Bob Wielenga is gevra om sy gedagtes hieroor met Die Kerkblad se Redaksie te deel. Dit verskyn in die genoemde uitgawe onder die opskrif: "Jood en Afrikaner - iets in gemeen?" Dr Wielenga stel en beskryf in sy artikel soveel verdraaiing van feite en halwe waarhede, dat dit noodsaaklik is om dit te kritiseer en in 'n ander perspektief te stel.
- P VAN DER KOOI - REDAKSIONEEL -
"Wat het Jode en Afrikaners met mekaar in gemeen? ... Waarin stem Afrikaner-nasionalisme en die Joodse Sionisme met mekaar ooreen?" is die inleidende vraag waarop dr Wielenga soos volg antwoord: "Staan Afrikaner-nasionalisme dan nie bekend vir sy anti-semitisme, in die jare 1930 - 1940, maar ook gedurende die sestiger en sewentigerjare nie? ... Die Jode het onder rassisme gely, wat juis in Afrikanerkringe aanhang gehad het. ... Dit lyk dus of 'n vergelyking nie getref kan word nie. Tog is daar wel teologies iets voor te sê, hoe fel die Jode dit ook al sal ontken."Die motivering vir die bestaan van volkere en nasies en die reg om te pleit vir 'n eie grondgebied met staatkundige vryheid, verklaar dr Wielenga as 'n vrug uit die tydperk van die Romantiek. Dit is 'n filosofiese gedagterigting wat in die sewentiende en agttiende eeu, onder andere deur die geskrifte van Johann Gottfried Herder (1744 - 1803) en later ook dié van Friedrich Wilhelm Joseph Schelling (1775 -1854), die liberale staatsfilosofie, veral in Duitsland, beredeneer en beïnvloed het.
"Die Joodse Sionisme het aan die einde van negentiende eeu in Europa ontstaan. Dit was die bloeityd van die Romantiek, toe daar baie nagedink is oor die vraag wat 'n volk is. Elke volk sou 'n spesifieke identiteit hê, 'n eie volksiel. Elkeen is deel van die eie volk, waarvan jy jou nie kon losmaak nie. ... Dit was die tyd van die opkomende nasionalisme. Elke volk moes hom kon ontplooi in sy eie land. ... Dit was trouens ook die tyd van die Darwinisme se opkoms, waardeur 'n voedingsbodem ontstaan het vir 'n biologies-bepaalde rassisme: die sterkste ras sou oorleef ten koste van swakker rasse", aldus dr Wielenga. Die Darwinisme is nou verwant aan die filosofie van Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1770 - 1831), wat die geestelike vader van die Duitse Nasionaal-sosialisme is.
"In hierdie selfde tyd is ook die eerste spore van die Afrikaner-nasionalisme terug te vind. Ook die Afrikaners het grond gesoek om hulle as vrye volk te kon ontwikkel. Die Groot Trek van 1838, maar veral die twee wêreldoorloê teen Britse imperialisme staan in hierdie teken. Wat 'n volk gekenmerk het, was veral sy taal. Die Jode het Hebreeus gehad, en 'n sterk Ou-Testa-menties gekleurde kultuur", sê dr Wielenga.
Die Afrikaner se hunkering na 'n onafhanklike staatkundige bestaan word sommerso toegeskryf aan beïnvloeding deur filosofieë van revolusionêre staatkunde en politiek. Dit staan teenoorgesteld aan die skriftuurlike motivering van Afrikaners onder leiding van gelowige kerklike en maatskaplike leiers.
"God de Here heeft de ene mensheid in volken en talen uiteengeslagen. En hierdoor wordt voorkomen, dat de mensheid weer de maat van haar boosheid vol zal maken, dat Gods raad voor de menselijke historie en het verbond met Noach verbroken zou worden. Eerst aan het eind der historie zal de maat der boosheid weer vol zijn, als de eenheid van de antichrist tegen Gods kerk zal hebben gewoed, zo erg, dat de Here die dagen zegt te verkorten" (Markus 13:20). [J Zijlstra. In: TENZIJ: Schriftuurlijke beginselen voor het staatsleven. 1950. Amsterdam. bl 121]
"Die Calvinistiese inslag van ons beginsels het ons weerhou van 'n lafhartige verloëning van 'n eie reg vir ons volk én van 'n verafgoding van baasskap waardeur ons in elk geval op die lange duur ons eie selfbeskikking in gevaar sou stel", skryf dr AP Treurnicht (Credo van 'n Afrikaner. 1982. Kaapstad. bl 50). Verder beskryf hy soos volg:
Dit sou goed wees om in 'n paar breë trekke die geskiedenis van die verhouding staat en stategemeenskap aan te dui.
Met die vestiging van die Christendom in Europa moes rekenskap gegee word van intervolkige verhoudinge. Onder invloed van van die Christelike eenheidsgedagte is in beginsel aanvaar dat die verskillende state 'n volstrek geslote eenheid moet vorm. Van Karel die Grote af (800 nC) tot ongeveer die jaar 1300 het Christene algemeen aanvaar dat die hele wêreld (Europa, Wes-Asië en Noord-Afrika) één Christelike wêreldryk vorm. God sou dan, ondanks verdeeldheid, aan die Christendom die heerskappy oor die hele wêreld toegeken het.
Soos die Godsryk één was onder die heerskappy van één, naamlik God, kon die aardse ryk ook slegs deur één vors geregeer word. Tussen 1300 en 1600 word die idee van die Christendom as één kerk en één staat gedeeltelik ondermyn, en die Vrede van Westfalen in 1648 het vir goed aan dié ou opvatting 'n einde gemaak. Dié feit van 'n gemeenskap van selfstandige state is aanvaar.
Calvyn self het die gedagte van 'n Christelike wêreldryk as 'n dwaasheid bestempel. Sy volgelinge was in alle lande voorvegters vir staatkundige onafhanklikheid in die verskilllende state.
Baie insiggewend is Calvyn se kommentaar op twee Skrifgedeeltes. Deuterónomium 32:8 lui: "Toe die Allerhoogste aan die nasies 'n erfdeel gegee het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel." Hieroor sê hy: "God distributed the nations as an inheritance is divided ... He set bounds to the nations in such sort that the habitation of the sons of Abraham was secured to them." Dis duidelik dat hier geen sprake van 'n wêreldryk onder een sentrale beheer is nie.
Die ander gedeelte is Handelinge 17:26 ... waaromtrent Calvyn gesê het dat elke volk tevrede mag wees binne sy eie grense.
Die Middeleeuse idee van 'n ongedeelde gemeenskap het plek gemaak vir die idee van ongebonde, selfgenoegsame state, sonder gesamentlike belange of wedersydse pligte.
J Zijlstra is op dieselfde golflengte (De Wereldpolitiek in het licht van de Schrift, 1950. Goes. bl 140). Volgens hom was die internasionale stryd van die reformasie allereers 'n stryd vir die vryheid van die kerk om sy boodskap aan die volkere te bring. Maar, "als vrucht daarvan werd zij ook een strijd voor de nationale en burgervrijheden. De Calvinistische reformatie kweekte in den strijd voor de kerk ook een kragtig nationaal staatsleven.".
Daar is dus tweërlei opvattings oor die motiewe vir staatkundige vryheid en die reg vir selfbeskikking: die een begrond in die Bybelse geloof in die beskikking en voorsienigheid van God, die ander in die liberale filosofie van natuurlike ontwikkeling wat saamhang met dié van die revolusie: "vryheid, gelykheid en broederskap". "De historie kan doen zien, hoe uit de aanvaarding van de schriftuurlijke waarheid een bloeiend en vrij staatsleven kan voorkomen, terwijl alle theorie, die deze verwerpt, leidt tot de ellendigste slavernij", aldus J Zijlstra in TENZIJ, bl 117.
Dit is duidelik dat die sameflansing van Jood en Afrikaner in die artikel van dr Wielenga gemotiveer is deur die liberale gedagtegang oor die Jode se strewe na staatkundige vryheid en, in die geval van die Afrikaner, na afsonderlike ontwikkeling. Dit is 'n veralgemening wat nie rekening hou met die omstandighede van die vestiging van ons (die Afrikaners) se voorouers in ons land nie. Hulle was oor die algemeen meer vertroud met die geloofsoortuigings van die Calvinistiese reformasie as dié van die humanistiese liberale staatsfilosofieë van Hobbes, Locke en Rousseau.
"Paul Kruger het ... in sy toesprake graag die Afrikanervolk met Israel vergelyk", sê die redakteur van Die Kerkblad in die inleiding van hierdie artikel. Waar vind dit sy ontstaan? Ongetwyfeld in Nederland van die sestiende eeuse reformasie en voortspruitend, die Tagtigjarige Oorlog. Die Calviniste van dié tyd is as die "gereformeerde Israël" getipeer. In die stryd teen Spanje het hulle met groot aandag die Bybel gelees en is daardeur geïnspireer. Het Woord in Beeld: Vijf eeuwen Bybel in het dagelikse leven. 1977. Baarn. beskryf dit op bl 55 ev:
In de Schrift vernamen zij de geschiedenis van hun eigen zaak. De lotgevallen van Israël lieten zien, hoe eenmaal hun God aan de zijnen de overwinning had gegeven dwars door alle beproevingen heen. Zij mochten daarom hopen, dat de triomf eenmaal ook hun deel zou zijn.
In die Nederlandse volkslied, Wilhelmus van Nassou, en in die bundel Valerius Gedencklank, word hierdie toevertroue aan God besing. Byvoorbeeld: "Oorlof my arme schapen / Die zijt in grooten noot, / U herder sal nie slapen / Al sijt ghij nu verstroyt."
Ook in die Plakkaat van Verlating, anders gestel: die Akte van Afskeiding van die Spaanse bewind, kom dit tot uitdrukking in die kragtige anti-tirannieke omskrywing: "om de selve (de onderdanen) te bewaren ende beschermen van alle onghelijck, overlast ende gewelt, ghelijck een Herder tot bewaernisse van sijne Schapen ..."
In die goeie sin van die gebruik van die Bybel was dit vergelykend, maar dit het ook voorgekom dat dit gelykstellend aangevoer is. Op die derde van die "Bossu-huisies" aan die Slapershawe in Hoorn (Provinsie Noord-Holland) staan nog geskrywe:
Het land dat schudt en beeft; de vijand die komt aan;
Hy wil met Amelek gans Israël verslaan.
Hij komt met grote macht; maar God heeft ons gegeven
ook Arons ende Hurs ...
Wat in die agtste strofe van die Wilhelmus 'n vergelyking was - Als David moeste vluchten / voor Saul de tiran, / zo heb ik moeten zuchten / met menig edelman. / Maar God heeft hem verheven, / verlost uit alle nood, / een koninkrijk gegeven / in Israël zeer groot. - is in bogenoemde muurplakkaat in Hoorn as 'n "is gelyk aan" toegepas.
Op dié manier was die Skrif vir die sewentiende-eeuse gereformeerdes in Nederland die boek , waarin ten diepste die vaderlandse geskiedenis uit verstaan is. Dis 'n oortuiging wat in die kerke van die Hervorming in Holland lang deurgewerk het en nog eggo's wek. Die Bybel was nie slegs 'n boek vir bemoediging nie, in die sin van soos God David gered het, so sal Hy ook Willem van Oranje groot maak. Nie dit alleen nie, maar dit hét ook so gebeur. (Het Woord in Beeld, bl 66).
"Die Afrikaner-nasionalisme in die teologie" lig dr Wielenga verder toe in die perspektief van "uitverkiesing, verbond en etnisiteit". Is hierdie dinge nie teologies ook bepalend vir Afrikaner-identiteit nie? "Of altans, was dit nie tot onlangs nog algemeen die geval nie? Het die Afrikaners hulleself nie op die lang duur as die uitverkore volk gesien nie? 'n Neo-Calvinistiese uitverkiesingsleer kon later daarin 'n rol gespeel het", aldus Wielenga.
Dit kan nie ontken word dat daar dwepers met die verbondsgedagte is wat uitsluitend die blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder as God se uitverkorenes beskou (Brits Israel beweging en "Boere-Israeliete"). Dit is egter nie die toonaangewende motivering vir die Afrikaner se vryheidstrewe nie. Daarom is die volgende argumente van dr Wielenga eensydig en ten onregte deur hom getipeer en veralgemeniseer:
Die gedagte van 'n verbond tussen God en die Afrikanervolk in wording kan al vroeg teruggevind word in die geskiedenis van die Kaapkolonie. Alle gedooptes het tot die genadeverbond behoort. Lede van Christelike volke mog nie van die doop en die verbond uitgesluit word nie.
'n Eksklusiewe verbondsleer het ontwikkel, wat weinig of geen ruimte gelaat het vir die inlywing van inheemse volke in die verbond. Sending is vir 'n lang tyd soos 'n stiefkind in Afrikaanse kerke behandel. In hierdie deur verbondsdenke gestempelde klimaat kon die oorwinning by Bloedrivier in 1838 as 'n bevestiging beskou word van God se spesiale verhouding met die Afrikaners. Paul Kruger het in 1880 by Paardekraal 'n verbond met God gesluit wat 'n rol gespeel het in die begin van die eerste Boereoorlog. In Bybelse terminologie sou mens hier van 'n verbondsvernuwing kon praat.
Etnisiteit het ook 'n kernelement geword van Afrikaner-identiteit. Aanvanklik was dit seker nie 'n biologies-bepaalde rassisme, wat immers pas aan die einde van die negentiende eeu na vore getree het, nie.
Maar die Europese gevoel van superioriteit (of dit nou van Engelse, Duitse, Franse of Nederlandse oorsprong was), wat wêreldwyd aangetref is in koloniale gebiede, het ook onder Afrikaners vrugbare teelaarde gevind. ...
Onder invloed van die Neo-Calvinisme van Abraham Kuyper sou die verskillende elemente nader uitgewerk en ontwikkel word tot die teologie van apartheid, waarop intussen ook ander invloede 'n uitwerking gehad het. Onlangse geskiedskrywing (H Giliomee) plaas die skuld vir die ontstaan van die Afrikaner-nasionalisme, teologies gesproke, gedeeltelik op die skouers van die Doppers.
Daar is nog argumente in hierdie trant wat deur dr Wielenga beskryf word. Die ruimte wat vir hierdie kritiek beskikbaar is, laat nie toe om dit alles aan te haal en te bespreek nie.
Dis duidelik dat dr Wielenga geen hoë dunk en eervolle siening huldig ten opsigte van die (Afrikaner-) Boerevolk nie. Toegegee: daar is onderstromings wat ons liewers nie daar wou gehad het nie. Daarom moet suiwer onderskei word tussen dié en skriftuurlik gelowige Afrikaners, wat hulle bind aan die gereformeerde belydenisskrifte en tegelykertyd hunker na staatkundige vryheid en selfbeskikking wat hulle met die oorgawe onder leiding van mnr FW de Klerk in 1994, verloor het. Dis behoudendes in die kerklike en volkslewe wat alles wat in die Woord van die Here geopenbaar is, aanvaar. Dit betref ook die geskiedenis van die toringbou van Babel en die Goddelike ingrype (Gen 11) met onuitwisbare gevolge, vir die hede en die toekoms, tot in ewigheid.
Hierdie behoudendes laat hulle nie voorskryf en lei deur liberale politieke filosofieë en antichristelike ideologieë nie. Goed en wel dat President Paul Kruger onder invloed van sy tyd en, in 'n mate persoonlike peïtistiese gevoelens, 'n taal gepraat het wat vandag in Gereformeerde kringe nie meer gedoen en gehoor word nie, tog het dit voortgespruit uit 'n diepe geloofsverbintenis met die God van die Bybel, waardeur hy hom geroepe gevoel het tot die hoë posisie wat hy vervul het.
Dr Bob Wielenga se gedagtes behels 'n eensydige verdraai ing van feite en 'n beskrywing van betwisbare halwe waarhede.