Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Gebed vir die owerheid (2)

AKTUEEL: 11 September 2001      

SKRIFOORDENKING:
Die Here se saak is nie hopeloos - Openbaring 13:1-10

Die Berymde Psalms : Hersiening van die oorspronklike Totiusteks Ps 92

Aanbidding in Gees en Waarheid

Skrifgeloof en Wetenskap

Verdraaiing van feite en halwe waarhede (Kritiek)

Die Kerkorde van De Mist

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nog 'n interpreterende Bybel

Dr Isak Burger (AGS): 'n "Nuwe seisoen vir die kerk"

Ng kerk en AGS lede van die SARK

The Passion of the Christ - "Moenie gaan kyk nie!"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Ononderbroke aanslag op Christelik-nasionale onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaner en die Kerk

Globalisering:

PERSRUBRIEK: Die Bybel slegs goed vir 'n verskraalde stel beginsels?

"Versoening" - Dr Beyers Naudé

SARK se betrekkinge met regering en politiek

Nederlandse kerklike verwikkelinge

GESPREK MET LESERS: 

KOMMENTAAR: 
Kompas: "Kruger en Mandela"

MEDIESE ETIEK: 
Gehoorsaamheid uit eie hart?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 5 September 2004

DIE KERKORDE VAN DE MIST

"Dit is die sterfjaar van die Gereformeerde Kerk as sodanig in Suid-Afrika"

- DR JD DU TOIT (TOTIUS) -

VERSAMELDE WERKE, DEEL VII - JOHANNESBURG: DAGBREEK 1961 (Bl 327 ev) -

Die Kaap het in 1795 Engelse eiendom geword. 'n Kort tydjie, 1803 - 1806, was die Hollanders nog baas; maar in 1806 het die Kaap vir goed vir hulle verlore gegaan.

Die kort tussenregering van die Hollanders was egter vir die Kaapse kerke van die grootste betekenis. Kerklik is die ou orde van sake omvergewerp.

Die landsbestuur is nie meer deur die Oos-Indiese Kompanjie uitgeoefen nie maar deur die Bataafse Republiek. In naam van die Republiek het advokaat De Mist as Kommissaris-Generaal hier gekom. Hy het in 1804 aan die gemeentes alhier 'n kerkorde opgelê wat ongelukkig deur die gemeentes eenvoudig stilswyend aangeneem is.

De Mist was nie 'n Calvinis nie maar 'n man wat deurtrek was van die gees van die Franse Rewolusie. Dit blyk ook duidelik uit sy kerkorde. Ten eerste het hy uitgegaan van die beginsel van "algemene verdraagsaamheid", waarvan ek u later meer sal vertel.

Ten tweede moet u weet dat die Rewolusie die kerk beskou het as "iets wat deur die staat gebruik moet word as 'n werktuig wat baie nuttig is en ook baie skadelik kan wees". Daarom lui artikel 5 in die kerkorde van De Mist soos volg: "Die goewerment behou hom die onvervreembare mag voor om die uitwerking van die kerklike leerstellinge op die burgerlike staat en op die gees en die gedrag van die inwoners te beoordeel. Die goewerment is verplig om hierdie uitwerkinge, as hulle skadelik geag mag word, teen te gaan, te belet of in te kort ... Alle teenkanting is ongehoorsaamheid aan die wet en weerstrewing van die goeie orde". Verder kon geen predikant, beroep of kerkwet verander word sonder die goedkeuring van die regering nie.

Ten derde word die gees van hierdie tyd openbaar in artikel 1. Die hoofsaak is die sogenaamde bevordering van deug en goeie sedes en die eerbiediging van 'n Hoogste Wese. Die Naam van God word in die kerkorde nie eens genoem nie.

Ten vierde het De Mist ook die skool tot 'n instrument van die staat gemaak. Daarmee is die verderflike stelsel van staatskole aan die Kaap ingevoer. Artikel 18 lui: "Die openbare skole is kweekplekke om goeie burgers vir die staat te vorm. As sodanig staan hulle onder die onmiddellike toesig en bestuur van die regering".

U voel dus watter groot verandering hierdeur in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika plaasgevind het. Vir die Kerk was dit 'n ware Rewolusie. Die Dordtse Kerkorde, deur die Kerk self opgestel, word deur een man verwerp. In die plek daarvan kom 'n kerkorde deur die staat ontwerp, en dit gaan nie uit van die gereformeerde beginsel nie maar van die beginsel van die Franse Rewolusie!

Dit is die sterfjaar van die Gereformeerde Kerk as sodanig in Suid-Afrika.

Maar sal die eerste sinode van 1824 dan nie die ou Dordtse Kerkorde in sy eer herstel en die kerkorde van Die Mist weer opsy sit nie? - so vra u.

Daar is geen hoop voor nie. Die gemeentes het hulle, onder goedkeuring van die Engelse Goewerneur, volgens artikel 46 van hierdie Kerkorde, laat saamroep en dit as die wettige Kerkorde erken! ...

Die voorsitter van hierdie Sinode is ds JC Berrangé. In Kaapstad gebore, in Holland opgelei, in 1817 hierheen as predikant verplaas, het hy nou tot hierdie rang geklim. Hy is "'n man van grondige kennis, buitengewone deursig en groot bedrewenheid in kerklike sake". Reeds in Holland het hy as sodanig bekend gestaan. Onder andere was hy lid van 'n kommissie van vier persone wat benoem is om in Parys die moeilikhede van die Hervormde Kerk voor te lê. Hy word ook geprys as "'n verstandige aanhanger van die leer van die Hervormde Kerk". Moet u nie verwonder oor hierdie byvoeging "verstandig" nie - dit is die tyd van die verstandelike godsdiens (die rasionele supranaturalisme). Ds Berrangé is dan ook 'n leerling van prof B Broes, 'n voorstander van die rasionele (redelike), Bybelse, gematigde godsdiensopvatting. ...

Die voorsitter begin sy openingsrede.

Hy wys op die noodsaaklikheid van hierdie Sinode. Met die wegval van vroeëre steunpilare is die kerk enigermate aan homself oorgelaat, sê hy. Die kerkrade moet nou 'n "hoër gerig" hê, veral nou dat hierdie "kerklike Genootskap" (die Hervormde) uitbrei. En dan het daar ook ander "godsdienstige gesindhede" in die kolonie verskyn wat vantevore onbekend was. Hulle sou aanleiding kan wees dat die "vasgestelde orde van sake" omvergewerp word.

Die doel van die kerkvergadering omskryf hy soos volg: "Hy sal hom geheel en al bepaal tot die kerklike sake van die Hervormdes. Hy sal hom besighou met die nodige wysiginge, veranderinge, verbeteringe en vermeerderinge van die heersende kerkorde (dié van De Mist) ooreenkomstig die teenswoordige behoeftes van tyd en plek. Dit sal geskied met inagneming van die fundamentele grondstellinge van die Nederlandse Kerk, waarvan hulle afstam. Maar dan ook met sorgvuldige onthouding van alles wat buite die grense van die Hervormde Kerk lê".

Nou rig hy nog "op hierdie aandoenlike en plegstatige oomblik" 'n woord tot diegene wat in aansien is; ook tot die Kommissarisse Politiek. Hulle is "onder ons en oor ons soos vleuels wat ons beskerm en dek, uitgebrei oor hierdie vergadering deur die geëerbiedigde owerheid".

Nou spreek die eerste Kommissaris Politiek - die man met die kaalgeskeerde, skerp gesig, waarin twee groot oë vonkel. Hy verbly hom saam met die lede van die "Hervormde Gemeentes" dat in hierdie vergadering die grond van eenstemmigheid in leer en bestuur gelê sal word. Hulle taak as kommissarisse is "om te waak dat wat tot so 'n heilryke doel bestem is, nie tot onrus, skeuring en onenigheid mag strek nie."

... Daar is besluit dat die vergadering agter geslote deure gehou sal word, en die lede is tot die "strengste geheimhouding" verbind. Dít stel die praeses nou aan die lede bekend.

Die ommekeer van sake

Hierdie toesprake gee heelwat om oor na te dink, nie waar nie?

In die eerste plek bemerk u dat die ou naam Gere-ormeerd meer en meer vervang word deur die nuwe naam Hervormd.

Ten tweede is dit duidelik dat hierdie vergadering nie volgens Dordt 'n meerdere vergadering sal wees nie maar, by wyse van priesterheerskappy, 'n hoëre.

Ten derde sal die gemeentes nou hulle selfstandigheid verloor en een groot "Genootskap" word.

Is 1804 die sterfjaar van die Gereformeerde gemeentes onder die hande van De Mist - 1824 is die jaar van die plegtige begrafnis deur die seuns van die kerk.

Maar ek sou u ... iets vertel aangaande die supra-naturalisme (die algemene verdraagsaamheid). Dit is 'n stelsel wat sedert die einde van die agttiende eeu in Holland oorheersende was. Hierdie stelsel lyk ook nou, aan die begin van die negentiende eeu, asof dit in Suid-Afrika die toon aangee. Dit is geen wonder nie. Die Kaapse predikante is meestal deur professore van dié rigting in Holland gevorm, of hierdie predikante het onder die invloed daarvan geraak. Holland was nog maar die geestelike moeder van Suid-Afrika.

Die rasionele of redelike supranaturalisme was 'n samevoegsel van algemene Christelike waarhede wat nie suiwer Skriftuurlik en ook nie Gereformeerd was nie. God is deur hierdie stelsel verander in 'n Opperwese. Van die mens het hulle 'n verstandswese gemaak. Die sonde was volgens hierdie stelsel meer 'n swakheid. Die bekering het daarom in verbetering bestaan en die heiligmaking in deugsaamheid.

Hierdie stelsel het hom aangedien as o so redelik. Die rede van die mens was volgens die Skrif verduister en van nature kan die mens dus God nie ken nie. Volgens die supranaturalisme egter is die menslike rede nog gaaf en goed en het net die "voorligting" van die Skrif nodig. Net in soverre is die Skrif noodsaaklik.

Dan was hierdie stelsel waarvan ons spreek, o so verdraagsaam. Die ou Gereformeerdes van Dordrecht was natuurlik in die oog van hierdie mense onverdraagsaam. ...

Dat hierdie ongereformeerde stelsel nou by die nakomelinge van die Gereformeerdes aan die Kaap geliefd is, sal blyk as ons die eerste jaargang van Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift naslaan.

Neem as voorbeeld hierdie een versie wat daarin voorkom:

O Godsdienst voor gezond verstand!

Waarachtig en vol troost;

Leidt gij ons naar het Vaderland

Aan Jezus reine broederhand

Als Gods gezegend kroost.

'n Versie dus op die manier van die "Evangeliese Gesange", wat vir 'n groot deel uit dieselfde stelsel gebore is. God is dan so min of meer die vader van alle mense, Jesus is hulle broer, en hulle het troos, want hulle is so vol gesonde verstand. ...

Op die vierde sitting is is die Staatskerkorde van De Mist as grondslag van kerkbestuur aangeneem. Van die Dordtse Kerkorde word selfs nie meer gespreek nie!

Maar daar het nog iets belangriks gebeur. Daar is 'n Algemene Reglement vir die bestuur van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Suid-Afrika opgestel. Daarin is Holland as voorbeeld geneem, maar ongelukkig nie die gereformeerde Holland van die sewentiende eeu nie. Hier in die Kaap het hulle gaan aansluit by die Holland van die negentiende eeu, wat deur die Franse Rewolusie geheel en al bedorwe was.

Die toestand in die nou nie meer Gereformeerde nie maar "Hervormde" Kerk in Holland was aan die begin van die negentiende eeu soos volg. Die gereformeerde waarheid is op die kansels omtrent nie meer gehoor nie. Die kerk was diep ingesonke. Die meeste predikante en lidmate was half-Remonstrants.

Koning Willem het in die land teruggekom nadat Napoleon verslaan was. Hy het hom ook met die sake van die kerk bemoei en het nou daaraan 'n ander kerkorde gegee, naamlik die Algemene Reglement van 1816. Dit was 'n heeltemal ongereformeerde kerkorde, 1816 staan teenoor 1618/19, die tyd waaruit die Dordtse Kerkorde dagteken. Die versklil is dit. Die Dordtse Kerkorde is uit die Woord van God geneem en ook deur die kerke self opgestel. Die Algemene Reglement van 1816 het egter in sy hoofbeginsels teen die Woord van God ingegaan en is deur die staat aan die kerk opgelê. Die Dordtse Kerkorde beskou die enkele gemeentes as selfstandige plaaslike openbaringe van die liggaam van Christus. Die Algemene Reglement smee hulle egter almal tot 'n Genootskap saam.

Volgens die Dordtse Kerkorde regeer Christus self die gemeente deur die kerkraad, wat slegs bedienende mag het. Die klassis en sinode is slegs meerdere vergaderings en nie hoëres nie. Een is julle meester, en julle is almal broeders.

Volgens die Algemene Reglement word die gemeentes egter deur menslike besture geregeer. Die sinode is selfs die hoogste bestuur, en alles is daaraan onderworpe.

Met een woord: die Dordtse Kerkorde is 'n deftige boerewoning waarin die gemeentes soos 'n familie saamwoon. Die Reglement is 'n regeringsgebou met baie verdiepings waarin die een klerk bokant die ander, die een kantoor bokant die ander staan.

Volgens hierdie Reglement is die Kaapse Reglement opgestel en die Dordtse Kerkorde deur die Sinode vergeet!

1816 versus 1618! Dat die mense hier aan die Kaap nie van plan was om die groot Sinode van Dordrecht (1618) na te volg nie maar wel die Hervormde Sinode van 1816, het dan ook reeds vóór die Sinode geblyk.

Die Z.A Tijdschrift het die openingsrede van die Hollandse Kommissaris gepubliseer as model vir hierdie Sinode. ... "Veel, baie veel", het hy gesê "kan 'n mens verwag van 'n verligte en bedaarde ywer vir Godsdiens en deug."

Nou ja, dat die ou Dordtse vaders nie in die geselskap van sulke verligte en bedaarde mense tuis gehoort het nie, is maklik te begrype.