|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Gesprek met die Lesers:
Dis altyd weer 'n verademing en rede vir dankbaarheid as 'n nuwe uitgawe van ons blad gereed gekom het. Maar dis nog heerliker om telkemale dankbare reaksies te verneem van lesers wat ons redaksie waardeer. Uit talle oorde verneem ons dat mense uitsien na die volgende uitgawe en dat wanneer dit sy bestemming bereik het, daar 'n stryd is oor wie dit die eerste mag lees. Daarteenoor verneem ons van negatiewe kommentare oor die redaksie van Die Kerkblad, wat gedurende lange tyd die koers van die Gereformeerde lewe getrou weerspieël het maar nou al hoe meer afgewater raak en 'n ander pad begin loop. Die nuwe teologiese insigte en vir talle behoudendes onaanvaarbare sinodebeluite oorheers nou die koers van die blad wat in Totius se dae lyfblad van die Dopper-Gereformeerdes was.
Dit is ook van lesers buite die verband van die GKSA dat waarderende terugvoer ontvang word. Van hulle skryf of laat op ander wyse weet dat alhoewel hulle hul nie met alles vereenselwig nie, ewenwel graag kennis neem van die interessante inhoud en behoudende koers wat ons handhaaf.
Hierdie uitgawe is sterk antiteties ten opsigte van ideologieë wat gepropageer en in die staat en samelewing , helaas ook in die kerke, groot invloed uitoefen. Dit lyk partykeer dat jy in 'n stryd gewikkel is wat nie kan gewen word nie. Tog is ons oortuig dat ons op die regte pad loop as ons die antitese handhaaf tussen die liberale teorieë en opvattings teenoor dit wat in die verlede en die hede, met God se Woord as gids, aangevoer is en word. Dit geld besonder ook vir hierdie uitgawe wat as sodanig en op onderskeie vlakke sterk gemotiveer is.
Die verbetering van drukwerk mag 'n verhoogde status aan ons blad verskaf. Dit kan op dié wyse beter meeding op die mark van kerklike blaaie wat saam met ons s'n verskyn. Daar is moontlikhede vir verlugting van kopie met foto's asook met kleurdruk wat in die toekoms oorweeg en planmatig toegepas kan word. Dalk dra dit ook by tot die groei van intekenare wat 'n hoër kwaliteitsproduk sal waardeer.
Ons wil by hierdie geleentheid ons intekenaar-lesers aanmoedig om nuwe intekenare te werf onder die beswaardes en bekommerdes wat in u omgewing laat weet van ongelukkigheid oor die gang van sake in die kerk, staat en maatskappy.
Laat weet ons redaksie asseblief van omstandighede in u omgewing. Laat weet van die besluite van kerkrade en die houding van lidmate aangaande die kerklike moeites. Laat weet van dolerings wat in u omgewing plaasvind. Ons wil graag ingelig wees en inligting oordra aan die lesers van ons blad.
Graag doen ons ook 'n dringende versoek op die lesers om ons te voorsien van inligting oor sake waar bekendstelling in ons blad aan verleen kan word. Dit betref nie slegs kort berigte nie, maar ook ten opsigte van dié wat kan, om ons van interessante artikels te voorsien. Ons sal graag die aktualiteit van ons blad daarmee bevorder en verbeter.
Daar kom soms 'n versoek om artikels met 'n party-politieke strekking te plaas. Hoewel ons self 'n persoonlike opinie in verband daarmee handhaaf, probeer ons om buite die party-politiek te bly en slegs koersaanduidend die agtergronde daarvan te beskryf.
Intekenaar-lesers sal graag wil weet hoe dit staan met die finansiering van ons blad. Met dank aan die Here, kan ons vermeld dat ons tot op hede steeds oor die middele beskik het om die koste te kan finansier. Dit het partykeer eina-eina gegaan, maar dan is daar ook altyd weer uitkoms in die vorm van onverwagte bystand en in enkele gevalle ondersteuning wat ons versoek het.
Die digitale drukwerk gaan 'n groter las op ons finansiële vermoëns stel. Soos ons dit nou voorsien en by die volgende uitgawe DV oor sal besluit, mag dit wees dat ons die intekenbe-drag sal moet verhoog na R 135-00 vir die ses uitgawes van 28 bladsye elk per jaar, wat ons graag wil handhaaf. Mag dit so wees dat die getal intekenare aansienlik vermeerder, dan kan dalk met dié bedrag vir die nabye toekoms volstaan word.
Ons vestig maar weer die aandag daarop, ter wille van intekenaar-lesers wat onlangs bygekom het, dat alle uitgawes van ons blad vanaf die eerste, in Maart 1997, by ons administrasie beskikbaar is vir diegene wat belangstel daarin. Skakel ons kantoor en ons sal die nodige inligting, asook algemene beantwoording, verskaf.
Ten slotte, nogmaals 'n dringende versoek aan intekaar-lesers wat nog nie voldoen het aan ons herhaalde versoeke om agterstallige finansiële bydraes te voldoen nie. Die arbeider is sy loon werd, is 'n skriftuurlike gegewe en die koste gaan voor die baat uit, lui 'n bekende spreekwoord. Dit is besonder hierop van toepassing. Help asseblief om ons finansiële administrasie op datum te hou. Indien daar probleme is, waarom u nie daaraan kan voldoen nie, bespreek dit met ons en ons sal graag vir u behulpsaam wees.