|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
GLOBALISERING
SH Salomons lewer in KERK EN WOORD, Maandblad van die Gereformeerde Kerk "Die Kandelaar" te Pretoria, in die uitgawes van Mei en Junie 2004, 'n aktuele en insiggewende beskrywing en kritiese kommentaar op bogenoemde saak wat ons graag onder die aandag van ons lesers bring
In die woordeboek HAT (uitgawe 1972) en in die groot Nederlandse woordeboek Van Dale (uitgawe 1982) kom die woord "globalisering" nog nie voor nie. Dit gee 'n aanduiding daarvan dat dié woord eers gedurende die afgelope jare in swang gekom het. Inderdaad eers vanaf die laat jare tagtig van die vorige eeu.
Wat word met die woord bedoel? 'n Bondige omskrywing daarvan is die volgende: "Globalisering verwys na die baie maniere waarop mense saamgetrek word, uit eie beweging en deur die stroom van goedere/dienste, kapitaal en idees/inligting. Dit dui ook op die uitwerking wat die mens se wisselwerking met die natuurlike omgewing daarop het."
Hierdie definisie is afkomstig van die Globalization Research Centre in die VSA en is uiteraard enigsins akademies van aard. Duidelik is egter dat volgens hierdie definisie globalisering eerstens gesien word as 'n ekologiese saak. Mense word deur ekonomiese faktore saamgetrek en dit het, as wisselwerking, 'n impak op die natuur.
Die saak waarom dit gaan, hou węreldwyd die gemoedere nogal gaande. Sommiges is van mening dat globalisering die een of ander georganiseerde, geheime, sinistere sameswering is met die doel om 'n nuwe węreldorde op die hele aarde te vestig. Daarom word die huidige globaliseringsproses deur hulle met agterdog bejeën en as iets uit die bose bestempel.
Daar is ook Christene wat globalisering as 'n antichristelike beweging sien wat daarop gemik is om 'n totalitęre eenheidstaat op aarde te vestig en as sulks 'n wesentlike bedreiging vir die Christelike kerk inhou.
Dat die proses van globalisering 'n geweldige invloed op die bestaande węreldorde en die gevestigde samelewing het en verder sal uitkring, kan nie ontken word nie. Maar hoe moet ons as Christene hier teenoor staan? Is die proses van globalisering nog omkeerbaar? Indien nie, dan sal ons as Christene dit eenvoudig nugter as 'n realiteit waarbinne ons moet lewe, moet aanvaar.
Uiteraard moet ons wél ons Christelike posisie en roeping binne hierdie werklikheid probeer bepaal. Dit help nie om 'n reaksionęre houding in te neem en dit te verwerp nie, terwyl ons terselfdertyd almal van die stelsel gebruik maak en voordeel daaruit trek. Tensy dit uiteraard duidelik word dat die proses op skriftuurlike gronde verwerp sou moet word.
Die grootste enkele faktor wat die huidige globaliseringsproses dryf, is duidelik die tegnologie en dan met name die elektroniese inligtingstegnologie. Ons maak almal daagliks sonder enige wroeging gebruik daarvan. Dit is ondenk-baar dat ons tans na 'n meer eenvoudige samelewing sonder elektronika sou kon terugkeer. Dit is die realiteit waarmee ons met die beoordeling van die globaliseringsproses sal moet rekening hou.
Historiese agtergronde
Die globaliseringsproses is feitlik alle eeue aan die gang. Die aanvang daarvan lę in die tyd van die begin van internasionale handel. Reeds gedurende die tyd van die aartsvader Jakob word Josef as 'n slaaf verkoop aan 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gilead kom - hulle kamele gelaai met speserye, balsem en gom, op pad om dit na Egipte af te bring (Gen 37:25).
Gedurende die regeringstyd van koning Salomo het hy vir die bou van die tempel op groot skaal materiale ingevoer en van vakkundigheid en handvaardighede afkomstig uit die omliggende heidense lande gebruik gemaak (1 Konings 5).
Die internasionale handel het deur die eeue steeds toegeneem. Dit het met 'n uitruil van kennis gepaard gegaan. Al is Europa tans waarskynlik die mees geletterde kontinent in die węreld, die skryfkennis is reeds eeue voordat daar van enige beskawing of geletterdheid in Europa sprake was, in Egipte, die Arabiese lande en China ontwikkel. Die uitruil van kennis het ná die uitvind van die boekdrukkuns (± 1450) geweldig toegeneem. Dit is wel as 'n stap na die hemel én 'n stap na die hel bestempel. Dit kan ook van die huidige inligtingstegnologie gesę word.
In 1492 en 1498 vind die ontdekkingsreise van Columbus en da Gama na die Wes- en Oos-Indies en Amerika plaas. Daarmee het die era van die groot Europese seevarende moonthede en gevolglik die koloniale uitbreiding begin.
'n Ander mylpaal was die industriële revolusie, wat veral na die uitvind van die stoommasjien (1781) deur Watt, momentum gekry het. As gevolg daarvan ontstaan daar deur die jare 'n nuwe Westerse samelewing wat deur 'n massale aantal nuwe produkte, produsente en konsumente op die markte gekenmerk word. Alle aspekte van die sosiale en ekonomiese lewe is hierdeur geraak. Die landbougebaseerde ekonomie het gaandeweg verdwyn en in 'n ekonomie gegrond op industriële bedrywighede verander wat deur meganisasie en grootskaalse produksie gekenmerk is.
Vir die groot massa was dit 'n tyd van geweldige ontwrigting, veral vanweë die migrasie van die plattelandse bevolking na stede waar baie mense onder haglike omstandighede geleef en gewerk het. Grootskaalse verstedeliking was 'n direkte gevolg van die industriële ontwikkeling. Die ontwikkeling en gebruik van elektrisiteit, die uitvind van die binnebrandenjin, radio, televisie, ensovoorts, gedurende die eerste vyftig jaar van die twintigste eeu het hierdie proses enorm versnel en groot stukrag gegee, ondanks twee verwoestende węreldoorloë en 'n diep ekonomiese depressie.
Gedurende die tweede helfte van dié eeu het veral die ontwikkeling op die gebied van die elektronika die hele węreld geweldig beďnvloed. Deur die uitvind van die mikroskyfie, die 'chip', kon rekenaars se vermoëns steeds toeneem, terwyl die apparatuur steeds kleiner geword het. Tans beskik ons oor persoonlike tafelrekenaars met meer vermoëns as die grootste rekenaars van vyftig jaar gelede en ontwikkeling op dié gebied duur steeds voort. Die tempo waarteen verandering as gevolg daarvan plaasvind, vereis amper bo-menslike aanpassings.
Dit het alles met 'n inligtingsontploffing gepaard gegaan. Ons kan deesdae sonder moeite inligting oor feitlik enige onderwerp onder die son bekom, deur eenvoudig voor 'n rekenaar te gaan sit en 'n paar knoppies te druk. Die inligtingstroom is oorweldigend en in baie opsigte ook gevaarlik. 'n Mens kan maklik aan die opspoor van steeds meer inligting verslaaf raak, sonder om in die Bybelse sin in wysheid toe te neem. 'n Mens kan oor baie feitekennis beskik, sonder om die nodige beoordelingsvermoë te besit. Dan word die inligtingstroom gevaarlik en kan ons dikwels deur die bome die bos nie meer sien nie. Dan aanvaar ons te maklik dat iets soos neutrale inligting bestaan.
Ware wysheid bestaan egter nie uit die ken van feite en inligting nie. Want ware wysheid spruit voort uit die verwerwing van 'n vaste uitgangspunt van waaruit die feite beoordeel moet word. Die norme van waaruit ons die feite en alle inligting moet beoordeel, saam met die lewenswaardes wat ons moet handhaaf, is vir ons in die Woord van God gegee. "Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het 'n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid" (Ps 111:10).
Die anti-globaliseringsbeweging
Dit het reeds 'n bekende verskynsel geword dat vergaderings van die Internasionale Monetęre Fonds (IMF), die Węreld-handelorganisasie (WHO), die Węreldbank en die G8 lande (die węreld se ekonomies sterkste lande), deur protesbetogings vergesel word. Dié betogings is veral teen die globaliseringsproses gerig. Volgens die betogers is dit die hoofoorsaak van die toenemende rykdom van die ryk ontwikkelde lande en die verdere verarming van die arm ontwikkelende lande.
Dit is inderwaarheid waar dat, byvoorbeeld op ons vasteland, dit met die sub-Saharastreek nie goed gaan nie. Ook was daar 'n aansienlike toename , veral in die reeds arm lande, in die aantal mense wat moet bestaan van 'n inkomste van minder as $1 (agt Rand) per dag.
Behalwe hierdie faktore, word ook teen omgewingsvervuiling geprotesteer, met Amerika as een van die grootste sondaars. Ook die uitbuiting op velerlei maniere van die arm ontwikkelende lande, wat as gevolg daarvan ekonomies agteruitgaan, deur die oorontwikkelende ryk lande ten bate van hulle eie onmisbare ekonomiese groei en rykdom, is deel van die protesteerders se agenda.
Sommige van die betogers verwerp die huidige kapitalistiese stelsel en wil 'n fundamenteel ander węreldorde daarstel. Ander aanvaar die demokratiese kapitalistiese stelsel, maar eis binne dié raamwerk fundamentele veranderings. Verder is daar uiteraard ook anargiste, neo-fasiste, menseregte-aktiviste, ensovoorts, by hierdie protesbetogings betrokke. Soms is die doelstellinge van die deelnemers onderling selfs vierkantig teenoor mekaar gesteld.
Binne die anti-globalisme kom inderdaad 'n groot verskeidenheid van selfs teenoorgestelde uitgangspunte voor. Die mees gemeenskaplike faktor is die steeds sterker wordende węreldoorheersing op ekonomiese, sosiale en kulturele gebied deur die sterk en ryk ontwikkelde lande en dan met name die rol wat Amerika as die węreld se magtigste land hierin speel.
Ander gemeenskaplike faktore is 'n protes teen die groot inkomsteverskille wat węreldwyd voorkom, die globaliseringsproses wat as vernietigend vir sowel die mens as die omgewing beskou word en die kapitalistiese vryemarkstelsel wat geen eerlike kanse aan ontwikkelende lande bied nie. Verder speel ook die skrikbeeld van die mag van die 'multi-nationals', soos Microsoft, Shell, GE, ensovoorts, 'n rol. Deur hul mag oor kapitaal en die węreldwye skaal waarop hierdie maatskappye opereer, oortref hulle selfs die mag van nasionale regerings en is hulle dikwels die mag agter die skerms. Hulle het gewoonlik geen oog vir die nasionale gevoelens en vooruitgang van die lande waarin hulle opereer nie, maar is slegs bekommerd oor hulle eie winsgewendheid.
Anti-Amerikanisme speel ook 'n rol. Die VSA is tans op militęre, ekonomiese en kulturele gebied beslis die mees dominante land in die węreld. Meeste van die węreld se grootste maatskappye is Amerikaans en die vyftig top-korporarsies se hoofkantore is almal in een van die ryk industrieel-ontwikkelde lande gevestig.
Die meerderheid van die internet-gebruikers woon in ryk samelewings. Die IMF, WHO en selfs die Verenigde Nasies word deur ryk lande gedomineer.
'n Paar ryk lande besit reeds die veto-reg oor besluite wat die vergadering van die VN neem en bevind hulle daardeur in 'n onaanvaarbare magsposisie. Die węreldgemeenskap as geheel is volkome ongebalanseerd verteenwoordig op al hierdie węreldliggame. Die invloed van die Westerse en spesifiek die Amerikaanse kultuur is orals in die węreld sigbaar. Deur die massa-media bereik hierdie kultuur feitlik alle uithoeke van die węreld en baie mense ervaar dit as 'n bedreiging. Die mees sigbare tekens hiervan is seker Coca Cola en McDonald 's wat in feitlik alle węreldlande gevestig is. Ook word die CNN TV-kanaal węreldwyd uitgesend.
Nog 'n ontwikkeling is militęre slaankrag. Die VSA se slaankrag is na skatting groter as dié van alle ander węreldlande saam. Die Amerikaners beskik oor 'n enorme hoeveelheid wapentuig. Dit bevestig en onderbou hul magsposisie. Of dit hulle veel in die stryd teen die internasionale terrorisme gaan help, wat na alle waarskynlikheid in omvang gaan toeneem, is intussen 'n oop vraag.
Nog 'n ontwikkeling wat deur die globaliseringsproses in die hand gewerk word, is die valutahandel wat 'n voorheen ongekende omvang aangeneem het. Groot somme geld word daagliks met die klik van 'n muis dwarsoor die węreld verplaas. Die enigste doel daaragter is om uit die wisselkoersskommelinge munt te slaan.
Dit kan 'n geweldige destabiliserende invloed hę. Dink hierby maar aan die aan die grotendeels onverklaarbare onlangse beweginge in die Rand-wisselkoers. Grootskaalse manipulasie agter die skerms kan die wisselkoerse maklik beďnvloed. As 'n mens in aanmerking neem dat in die jongste tyd daagliks (!) meer as 'n triljoen (miljoen x miljoen x miljoen) Amerikaanse dollars op die globale finansiële markte rondgeskuif word, dan kan 'n mens enigsins 'n voorstelling maak van die gevare hieraan verbonde. Nooit voorheen in die węreldgeskiedenis het geldhandel naastenby op so 'n skaal plaasgevind nie.
Ons kan hierby in terme van 'n revolusie dink wat 'n radikale invloed op die ekonomiese denke en doen in die toekoms gaan hę. So kan ons voortgaan met die lys van węreldsondes. Ons moet hierby onthou dat die sonde nie in die eerste plek in die bestaande of nuwe strukture lę nie, maar voortkom uit die sondige harte van mense. Sondige mense skep sondige strukture vir hulle eie sondige geldsug, magsug en egoďsme.
Ons posisie as Christene
As Christene sal ons sommige sake met van die punte saamstem wat deur anti-globaliste aangevoer word. Dit is egter baie moeilik om oorsaak en gevolg hier te onderskei. Uiteraard sal ons sake moet beoordeel vanuit ons Christelike lewensbeskouing wat op God se Woord gebaseer is.
Van daaruit sal ons globalisme moet afwys. Want globalisme is 'n ideologie wat daarvan uitgaan dat alle probleme wat deur die globaliseringsproses geskep word, oorwin kan en sal word deur verdere uitbou van dié proses. Hierdie benadering lę in die lyn van die tegnisisme, wat ook steeds beweer dat alle węreldprobleme wat deur die tegniek en daarmee gepaardgaande industrialisasie geskep is, deur die verdere ontwikkeling van die tegniek te bowe gekom kan word.
Intussen word rustig voortgegaan met die plundering van die węreld se natuurlike hulpbronne, die onherstelbare beskadiging van die natuur en die uitbuiting van arm mense in arm lande, nieteenstaande alle mooi woorde en plegtige ondernemings wat die teendeel beweer. Dat ons volgens ons Bybelse opdrag geroep word om God se węreld as rentmeester te bewerk en te bewaak, word ook deur Christene te weinig besef en in die praktyk uitgeleef.
Agter die globaliseringsproses sit 'n ideologie van 'n węreld wat baie duidelik deur die mag van die kapitaal gedomineer word. Dit is 'n mag wat van alle moontlike middele gebruik maak om sy magsposisie te versterk en uit te brei. Dit is ook duidelik dat die bestaande węreldorde, meer as gevolg van die globaliseringsproses, drasties sal verander. Die węreld verander steeds meer in die rigting van 'n "global village". Dit gaan onvermydelik tot 'n groter sentralisasie van mag lei, met die daarmee gepaardgaande gesagstrukture.
Die groot vraag is: wie en wat gaan die waardes en norme vir 'n onvermydelike nuwe węreldorde bepaal? Gaan daar hoegenaamd nog rekening met God se Woord gehou word?
As daar geen besef meer van Bybelse norme en etiese prinsipes is nie, dan hou dit die gevaar in en gaan dit 'n negatiewe uitwerking op die hele węreldbevolking hę. Tegnologiese ontwikkeling wat sonder Bybelse humaniteit mense as skepsele van God sien en behandel, na sy beeld geskape, kan moontlik wel 'n groter verskeidenheid van goedere en dienste skep (wat in die meeste gevalle onnodige luukshede is). Maar so 'n ontwikkeling los nie probleme van armoede en siekte waaronder miljarde mense lei, op nie.
Daar is 'n dringende behoefte aan grondige Bybelse kritiek op die internasionale, maatskaplike en sosiale ontwikkelinge. Ons kan en mag as Christene nie klakkeloos alles wat die tegnologie moontlik maak. aanvaar en gebruik nie. Terselfdertyd kan en mag ons gesonde ontwikkelinge nie teenstaan nie.
Inteendeel, ons mag en moet God se skeppingsgawes tot eer van Hom en tot heil van die mens gebruik. Ons sal egter steeds moet onderskei en die geeste beproef waaruit en waartoe een en ander voortkom.
Dit is moeilik omdat onsself midde in die proses lewe en werk. Daardeur is die beoordeling van een en ander baie moeisaam, veral ook vanweë die kompleksiteit daarvan. Toenemende spesialisasie op alle vakgebiede (die geleerdes weet steeds meer oor steeds minder), belemmer ook die verkryging van 'n geheelbeeld en die samehang van die ontwikkeling op verskillende lewensterreine.
Dit mag ons intussen nie daarvan weerhou om op alle terreine van die lewe ons roeping te vervul nie. Om met die gawes wat God ons gegee het in alle eenvoud werklik Christene te wees. Christene wat duidelik en onbeskaamd profeties die Naam bo alle name bely, wat hul lewe as 'n dankoffer aan Hom toewy en met 'n vry gewete teen die sonde en die duiwel stry.
Die ideologie van vandag, soos 'n vryemarkstelsel wat gebaseer is op breidelose kapitalisme, die globalisme, die tegnisisme, die humanisme, ensovoorts, beďnvloed en manipuleer ons denke. Die oproep van Paulus in Romeine 12: 2 is hier van toepassing: "En word nie aan hierdie węreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."
Ons mag ons nie aan die wette van 'n moordende kompetisie onderwerp ("the survivel of the fittest") wat ons dwing tot 'n onchristelike lewenstyl nie. Die deurslaggewende vraag is en bly altyd of die saak waaroor dit gaan die koninkryk van God bevorder of belemmer.