|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
Hoofartikel
DIE GEBED VIR DIE OWERHEID (2)
In die vorige artikel onder hierdie hoof het ons aan die hand van die NGB, artikel 36, gewys op die mandaat en roeping van die owerheid om die Goddelike regsorde in die samelewing te handhaaf. Die regering waaraan ons tans onderwerp is, is vrywel sonder uitsondering aanhangers van afgode, valse religies en die antichristelike ideologie van die Kommunisme. Dáárom kan geen seën vir hulle, "dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur ..." toegebid word nie. In hierdie aflewering kyk ons na die verpligting tot gehoorsaamheid, soos artikel 36 dit beskryf, asook kortweg na die verwerplike saak van die destydse Wederdopers en ander oproerige mense.
Die vraag waarvoor ons te staan gekom het, is of Christen-gelowiges hulle allereers as gehoorsame staatsburgers moet onderwerp aan die owerheid wat vandag oor ons gestel is óf dat daar 'n hoër verpligting tot gehoorsaamheid bestaan wat onderwerping aan die eersgenoemde disputeerbaar stel.
Dit is nie so, soos sommige glo en beweer, dat slegs aan 'n teokratiese regering gehoorsaamheid verplig is nie. Maar dit is ook nie so dat aan 'n bestel wat antichristelik gefundeer is onvoorwaardelike gehoorsaamheid verskuldig is nie. Duidelik sal onderskei moet word waarheen die wêreld op pad is. Vir ware gelowiges bestaan daar geen twyfel oor nie. Dit is na die volkome oorwinning van Christus oor die Satan, by sy wederkoms op aarde. Wat het Jesus Christus gebid tot die Vader en geantwoord aan Pilatus? "... hulle is in die wêreld; ... Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. ... (Joh 17:11 en 16). My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie, as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. ..." (Joh 18:36).
Die ideologie van die Kommunisme, wat die grondslag van die sisteem waarvolgens ons geregeer word is, is op mars na die één wêreld van gewaande vrede, vryheid en voorspoed vir almal, 'n hemel op aarde. Daarvoor dien die demokratiese stelsel waaraan soveel as moontlik almal moet deelneem.Wat sê die Kommunistiese Vryheidsmanifes waarvolgens president Mbeki ons land regeer?
Ons, die mense van Suid-Afrika, verklaar teen ons land en die hele wêreld: ... Dat ons land nooit vooruitstrewend en vry sal wees nie alvorens al ons mense in broederskap woon en gelyke regte en geleenthede geniet; Dat slegs 'n demokratiese staat wat gebaseer is op die wil van die mense vir almal geboortereg kan verseker sonder onderskeid van kleur, ras, geslag of geloof; En daarom neem ons, die mense van Suid-Afrika, swart en wit, almal saam gelykes, landgenote en broers hierdie VRYHEIDSMANIFES aan. En ons belowe plegtig om saam te stry en niks van ons krag en deursettingsvermoë te ontsien nie totdat die demokratiese veranderinge wat hier uiteengesit word, bewerkstellig is.
Christene wat in die openbare samelewing diensbaar wil wees, staan voor die vraagstuk en keuse om 'n staatslewe saam mét God te onderneem, dit beteken om antiteties teenoor antichristelike neigings en owerheidsbeleid te staan óf toe te gee aan die drang vir eenheid wat op die menslike rede - die utopie van 'n evolusionêre toenemende wêreldverbetering sonder God! - gefundeer is. Daardie eenheid word op talle wyses, soos aartsbiskop Desmond Tutu van die Anglikaanse Kerk dit uitsonderlik gemanifesteer het, nagestreef. Nie net staatkundig nie maar ook op kerklik- ekumeniese terreine. Ons lees dit in die koerante dat selfs die kerke van gereformeerde oorsprong, die NG Kerk besonder maar dalk ook die NH Kerk, tans aktief betrokke gaan raak by die Wêreldraad van Kerke (WRK) en gevolglik ook by die plaaslike Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK).
Wat beteken dit? Waaroor gaan dit? Volgens die Gereformeerde (Dordtse) Kerkorde (art 30) behoort daar onderskei te word tussen die sake van die staat en van die kerk(e). "Kerklike sake op kerklike wyse". Dis die kerkordelike reël (dit dien ook as 'n skriftuurlike beginsel) vir amptelike hantering deur die vergaderings van kerkrade en meerdere vergaderings. Dit wil nie sê dat daar geen kontakte tussen kerklike en wêreldlike owerhede mag wees nie. Tog moet daar duidelike skeidslyne gehandhaaf word. Dit te meer as daar ideologiese verskille bestaan. Gelowiges kan in persoonlike hoedanigheid, individueel of in georganiseerde verband aan binne of buite parlementêre politiek deelneem, maar dit behoort nie tot die taak van die kerk(e) as sodanig nie. As egter na die agendas van die WRK en SARK gekyk word, dan handel dit hoofsaaklik oor wêreldlike sake (gesondheid, armoede, geweld en misdaad, regspraak, globalisering, ensovoorts). Die kerklike ekumene word 'n mede-akteur op die staatkundige terrein. 'n Profetiese getuienis ten opsigte van goddelose en antichristelike beleid en optrede van die regering word selde of nooit konkreet gestel nie. Tog kan die kommunistiese ideologie as grondslag van regeringsbeleid nie anders as antichristelik getipeer word nie.
Die Here se Woord verskaf insig en leiding met die oog op die toekoms. Dis nie so dat die Bybel 'n politieke handboek is nie. Maar die tendense met die oog op die toekoms word wel daarin geopenbaar. Openbaring 13 is 'n besondere hoofstuk wat handel oor die moontlike samewerking van die valse ekumeniese kerke-organisasie met die toekomstige een-wêreldmag en -regering. Die stigtings van die Europese Unie (EU) asook die Organisasie vir Afrika-Eenheid (OAE) en die pasgestigte Pan-Afrika Parlement (PAP) is voorlopers wat reeds diskusseer oor die totstandkoming van 'n regbank waar "vergrype teen menseregte" verhoor kan word. Openbaring 13 handel oor die samewerking van twee diere, een wat uit die see opkom en 'n ander wat uit die aarde opkom. Dié samewerking kulmineer in die groot boikot van die gelowiges, dit maak "dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het" (Openb 13:16 en 17).
Karl Marx se stelsel van die historiese materialisme word ten slotte met nie minder stelligheid in sy perspektiewe vir die toekoms afgewys in die meer in besonderhede tredende visioen van die Dier, soos Johannes dit beskryf in die dertiende hoofstuk van sy boek. Dit is juis dié gedeelte van die Apokalips, waarin dit aanskoulik gemaak word, dàt en hòe die antichristelike wêreld in sy uiteindelike worstelstryd met die oog op die volbringing van sy grondbeginsels vir die politieke, religieuse, ekonomiese en sosiale lewe, hom uitsluitend sal laat lei deur wat deur hom beskou word as "geestelike waardes", deur sy posisiekeuse teenoor die leer van die geestelike Christologies bepaalde antitese, wat sedert Genesis 3:15 in die wêreld is en sal wees tot aan die wederkoms van Christus. Maar juis die posisiebepaling teenoor sodanige "geestelike" beginsels sal lei tot felle konsekwensies op die terrein van die alle-daagse-lewe, aldus prof dr K Schilder (De Openbaring van Johannes en het Sociale Leven. 1951. bl 265)
Volgens die NGB, artikel 36, gaan dit daaroor dat "ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei". Met die oog daarop moet voorbidding gedoen word. Daarvoor moet daar 'n goeie verhouding tussen die gesag van die owerheid en die vryheid van die onderdane bestaan. Die gesag wortel in die outoriteit wat God daaraan verleen en sy funksie is 'n sodanige orde te voorsien en te handhaaf binne 'n bepaalde lewensverband, dat die daarin saamlewende mense vir hulle persoonlik en tesame die beste geleentheid ontvang om in vryheid hulle funksie daarin te verrig en te ontplooi, sê dr ir H van Riessen (De Maatschappij der Toekomst. 1957. bl 224).
Die gesag van nasionale staatkundige owerhede is in die tyd van die sestiende eeuse Reformasie verwerp deur die sogenaamde Wederdopers, 'n sektariese beweging wat verder wou gaan as maar net hervorming en afskeiding van die Rooms-Katolieke Kerk en sy pouslike gesag. Dit betref die omverwerping van die destyds geldende regsorde. Die Kommunisme wil ook 'n hervorming bewerkstellig en die gesag in die samelewings vervang met dié van die proletariaat. Opnuut omverwerping van die regsorde. "Arbeiders van alle lande, verenig julle."
Vertrou op die wetenschap en haar insigte; op Darwin, op die evolusieteorie, op Marx wat die toekoms van die klaslose maatskappy en die sosialistiese vryheid vir almal bewys het. Godsdiens is 'n afgedane saak, geloof in 'n hiernamaals het ons nie nodig nie. Ons stryd vir 'n sosialistiese maatskappy maak ons lewe vol en ryk. Ons "God" is: die bevryding van die mensheid waarvoor ons stry. ... "Het marxisme moet inderdaad gezien worden als een systeem van laatste doeleinden, die de zin van het mensenleven vormen, als een verlossingsleer. ... De gebondenheid aan de tijd (= maatschappij) stempelt het marxisme tot een tipisch antichristelik, op de wereld gericht geseculariseerd geloof. Men kan terecht stellen ... dat de marxistische eschatologie de mens en zijn bevrijdingstrijd in de plaats stelt van God en het komende koninkrijk", so beskryf dr W Banning die klassestryd, die uitoefening van geweld en die magskonsentrasie van die revolusionêre Kommunisme.
Dit is wat die belydenis (NGB, artikel 36) verfoei, "... dat hulle die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur."
Daarom is die antwoord oor die voorbede vir vandag se owerheid onherroeplik afwysend. Ons kan nie positief bid "dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur" nie. Ons kan slegs ootmoedig bid soos Jesus Christus ons (onder andere) geleer het om te bid: "Laat u koninkryk kom" en "Gee ons vandag ons daaglikse brood" saam met die lofverheffing: "Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid". Dit is: "Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees. ... Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is. Laat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorg en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele (ook van goddelose ideologieë - PvdK) aftrek en op U alleen stel. ... Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee, sodat daardeur nie ons nie maar U heilige Naam ewig geprys sal word." (HK, vr/antw 123, 125 en 128).