|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 5 September 2004
KERKLIKE JOERNAALNog 'n nuwe interpreterende Bybel
"Dogmas van een kerk word nie in vertaling ingedra nie"
"Nuwe Bybel 'haal deksel af'", skryf Neels Jackson in BEELD, Donderdag 29 Julie 2004.
"Afrikaanse Bybellesers kry voor einde vanjaar 'n nuwe Bybel wat hulle insae bied in verskillende moontlike vertaalwyses van die Bybelteks.
'n Span van agttien medewerkers het gewerk aan die Multivertaling Bybel en dit word nou met behulp van 'n verdere groep Bybelkenners afgerond. Die gedagte is dat dit einde Oktober op die rak sal wees.
Mnr Chris Johnsen van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) sê in die openbare debat oor die Bybel en die teologie word daar soms gesê dat dominees die deksel opsit op kennis sodat dit nie vir lidmate toeganklik is nie. Deur dié projek wil CUM die deksel afhaal sodat Bybellesers self die verskillende vertaalmoontlikhede kan sien.
Die gedagte is dat die Griekse en Hebreeuse tekste vir die lidmate 'n werklikheid word. Hy bestempel dit as 'n produk wat insigte gaan bring.
Die nuwe Bybel gebruik die 1983-vertaling van die Bybel as basis. Waar daar 'n alternatiewe vertaling aangebied word, word die oorspronklike vertaling onderstreep en die alternatief in rooi en tussen hakies daarna geplaas.
Prof Jan du Rand van die Randse Afrikaanse Universiteit sê hulle bied die alternatiewe vertalings aan sonder om vir die een of die ander te kies. Die gedagte is om die akademiese inligting só be-skikbaar te stel om lessers te bemagtig.
Du Rand sê hoewel die 1983-vertaling bekend is as 'n dinamies-ekwivalente vertaling (wat nie woorde regstreeks vertaal nie, maar die boodskap in Afrikaans weergee), is dit eintlik 'n mengsel van dinamies-ekwivalente en meer regstreekse vertaalwerk. Waar dit op die een manier vertaal, voeg hulle 'n vertaling op die ander wyse by. Johnsen sê hulle het teoloë van verskillende kerke betrek om mekaar te kontroleer sodat die dogmas van een kerk nie in die vertaling ingedra word nie."